Motorverkope in April

Dié ou Porsche-trekker is by Sandstone Estate naby Fouriesburg in die Oos-Vrystaat opgespoor. Porsche maak tans nie trekkers nie, maar dis tog interessant dat hierdie veelsydige maatskappy al op soveel terreine suksesvol was. Foto: Bernard K. Hellberg

Dié ou Porsche-trekker is by Sandstone Estate naby Fouriesburg in die Oos-Vrystaat opgespoor. Porsche maak tans nie trekkers nie, maar dis tog interessant dat hierdie veelsydige maatskappy al op soveel terreine suksesvol was. Foto: Bernard K. Hellberg

Hoofsaaklik vanweë die aantal vakansiedae en langnaweke was April se voertuigverkope ‘n ontstellende bloedbad.

Volgens die jongste syfers deur Naamsa (National Association of Automobile Manufacturers of SA) het passasiersvoertuigverkope – gemeet teenoor April 2013 – met 10.6% (3 648 eenhede) gedaal tot altesaam 30 848 eenhede.

In die ligte handelsvoertuigmark – bakkies en paneelwaens/taxi’s – was die nuus ewe teleurstellend met ‘n verkopedaling van 11.5% (1 662 eenhede) vir ‘n totaal van 12 796.

Onder die individuele vervaardigers/invoerders staan Toyota weer eens op die boonste trappie van die podium met altesaam 8 828 plaaslike verkope teenoor Volkswagen se 8 075 eenhede.

In die derde plek (4e in Maart) skuif Associated Motor Holdings op met 5 305 voertuie verkoop, terwyl Ford een plek afskuif tot 4e met verkope van 2 983 eenhede.

Die 5e en 6e plekke is onveranderd en behoort steeds aan General Motors (4 812) en Nissan (2 844).

Die 7e en 8e plekke het ook omgeruil en waar BMW in Maart bo was, is hy intussen verbygesteek deur Mercedes-Benz. Laasgenoemde se 2 260 eenhede verkoop het hom net-net bo die manne van München se 2 003 eenhede geplaas.

Die Franse vervaardiger Renault handhaaf steeds sy 9e plek onder die Top Tien met 1 425 eenhede, terwyl Chrysler (603) ook saam met die groot honde blaf.

Onder die individuele vervaardigers steun Toyota steeds sterk op sy Hilux-bakkie en is laasgenoemde steeds die topverkoper-voertuig in SA met 2 457 eenhede wat verkoop is. Dis selfs beter as Volkswagen se topverkoper Polo Vivo (2 281) wat die beste verkoper onder die passasiersvoertuie is. Toyota se Etios (1 296), Corolla/Auris (1 193) het ook die maatskappy se syfers ‘n hupstoot gegee, terwyl die RAV (422) goed vorder teen sy vernaamste mededingers Ford Kuga (380), Honda CR-V (185) wat nou ook bedreig word deur Mitsubishi se ASX (124).

Soos reeds genoem, steun Volkswagen sterk op sy Polo Vivo en die ‘gewone’ Polo (2 142) en goeie verkopesyfers deur Golf 7 (655), Audi A3 (348) en Audi A4 (455). Ek glo steeds dat Volkswagen se Amarok (282) baie beter kan doen.

April se bronsmedalje-wenner, AMH, verskaf steeds nie inligting oor spesifieke modelle nie, dus kan ek nie bepaal watter modelle die beste vaar nie – byvoorbeeld hoe vergelyk die ix35/Sportage se verkope met byvoorbeeld Toyota se RAV?

Ford SA se verkope word sterk aangehelp deur Ranger (1 804), Figo (1 050), EcoSport (559) en Fiesta (549).

Ford se vernaamste ‘Amerikaanse’ mededinger, General Motors, gebruik die Chevrolet Ute wat ons altyd as die Opel-bakkie geken het, om sy syfers (1 367) aan te help. Isuzu dra ook goed by met verkope van 1 325 eenhede. GM spesialiseer eintlik in Koreaanse passasiersmotors en Japanse bakkie, maar die klein Spark (442) en Cruze (241) dra ook by tot GM se redelike vertoning. Die Trailblazer (178) sukkel egter steeds teen Toyota se Fortuner (684), maar doen aansienlik beter as Nissan se Pathfinder (30), terwyl Mitsubishi se Pajero Sport (68) ook die koperspubliek se aandag begin trek.

Nissan was nog maar altyd, so voel dit, deel van die Suid-Afrikaanse landskap, en word maand na maand in dieselfde 6e plek aangetref. Nissan se syfers word aangehelp deur Almera (122), Qashqai (225), Juke (256) en sy gewilde NP300 bakkie (407). Dis egter die klein NP200 wat Nissan so goed laat lyk met 1 223 verkope – kort op die hakke van die Chev Utility se 1 367.

Nissan se luukse handelsmerk – Infiniti – se 13 eenhede verkoop steek maar sleg af teen Lexus (Toyota se ghrênd handelsmerk) waarvan 103 nuwe eienaars gekry het.

Kopers hou al meer en meer van Mercedes-Benz motors se voorkoms – en dit word weerspieël in dié Stuttgartse maatskappy se stewige 7e plek en waarmee hy terselfdertyd mededinger BMW afgeskuif het tot nommer 8. Mercedes se gewilde C-klas bly steeds gesog met 635 eenhede verkoop – net-net minder as BMW se 742 vir die 3-Reeks. Die nuwe A-Klas (274) doen ook heel skaflik, terwyl die M-Klas (128 eenhede) ook heel goed vertoon.

BMW se 8e plek onder die Top Tien is een plek swakker as in Maart, maar die 1-reeks (329) en die X-5 (172) bly steeds gewild, benewens die reeds vermelde 3-reeks.

In die stryd om die laaste twee plekke onder die Top Tien, is dit weer eens die Franse Renault wat goed vertoon met 1 425 verkope, teenoor Chrysler, wat met 603 verkope die laaste plek beklee. Renault se treffers is Duster (328), ClioIV (549) en Sandero II (212).

Vorige Top Tien-vervaardigers wat maar sleg uitgesak het, soos Honda, sukkel steeds met April-verkope van 551 eenhede, terwyl Suzuki wat tradisioneel sowat 400 eenhede per maand verkoop, goed vertoon op 504 verkope.

Dit is vir ‘n vorige Top Tien plekbekleër – Jaguar/Land Rover – kommerwekkend dat April se stewige 970 verkope tot 428 gedaal het. Miskien het die Zuma-regime sy kaders opdrag gegee om tot na die verkiesing te wag vir die bestel van swart Discovery en Range Rover-voertuigvlote. Ondanks redelike verkope deur Range Rover Evoque (134) en Range Rover Sport (117) het Jaguar (passasiersmotors) nie juis hond haarafgemaak nie.

Onder die kleiner invoerders, staan Volvo steeds redelik stewig met 237 eenhede verkoop, Subaru se 111, maar Porsche het rede tot kommer nadat sy Maart-verkope van 48 eenhede tot 31 gedaal het. Vir hierdie invoerder is die Cayenne (19) steeds die gewildste.

Faktore wat tot hierdie drastiese afname in verkope gelei het, benewens die reeds vermelde kort handelsmaand, is die steeds verswakkende Rand teenoor die Euro, relatief hoë rentekoerse en ‘n drastiese aanslag op die publiek se koopkrag deur middel van hoë brandstofpryse en die vernietigende uitwerking van die e-tolstelsel (net van toepassing op diegene wat bang genoeg gemaak is om die e-tolskyfies aan te skaf).

Goeie nuus is egter dat die uitvoermark waarskynlik in die tweede helfte van 2014 sterk sal groei met die begin van onder meer Mercedes-Benz se C-klas-uitvoerprogram.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.