Motorverkope steeds swakker

Argieffoto (drive.com.au)

Argieffoto (drive.com.au)

Alhoewel die Suid-Afrikaanse motorbedryf, by wyse van spreuke, sukkel om aan die gang te kom, is die bedryf redelik stabiel, en het nuwe voertuigverkope in Junie vanjaar met slegs 2.3% (1 251 eenhede) gedaal teenoor Junie verlede jaar. Van die totale verkope van 52 837 eenhede het 83.8% na handelaars gegaan, 8.3% na die verhuringsmark, 4.4& na die bedryf se korporatiewe en bemarkingsvlote en 3.5% na die staat.

Ligte handelsvoertuie (bakkies) het darem vir ‘n ligstraaltjie gesorg deurdat verkope in hierdie segment met 4.5% (621 eenhede) gestyg het – net om weer uitgekanselleer te word deur die 5.4% daling in passasiersmotor-verkope (2 017 eenhede).

Selfs die uitvoermark, wat op 24 024 eenhede te staan gekom het, het met 195 eenhede (0.8%) gedaal.

Onder die Top Tien het verskeie nuwe tendense na vore gekom.

Toyota behou steeds sy gebruiklike eerste plek met totale verkope (uitvoer ingesluit) van 15 281 eenhede, gevolg deur Volkswagen met 14 760 eenhede.

Associated Motor Holdings (Hyundai, Kia, Mitsubishi, ens) het egter sy derde plek afgestaan aan Ford wat 10 104 eenhede plaaslike verkoop en/of uitgevoer het. Trouens, AMH is ook uitgestof deur General Motors (5 590) wat verlede maand 5e was en nou een plek opgeskuif het. AMH se 5e plek (4 891) is steeds goed, maar tog ‘n aanduiding dat die groep planne sal moet beraam om sy gebruiklike 3e plek te herwin.

Soos gebruiklik, staan Nissan stewig in sy gebruiklike 6e plek met 4 813 eenhede verkoop/uitgevoer. Die plaaslike bekendstelling van die opgekikkerde nuwe Qashqai-reeks sal in die komende maande ook heelwat voordele vir Nissan se verkopesyfers inhou.

Die sewende, agste en 9e plekke bly onveranderd en word steeds beklee deur Mercedes-Benz (4 907), BMW (8 337 plaaslik en uitgevoer) en Renault (1 579).

Honda sal dankbaar wees vir 939 verkope, want dit plaas hierdie bekende Japanse vervaardiger terug onder die Top Tien nadat Honda die afgelope drie maande dikwels in die orde van 600 voertuie per maand verkoop het en dus buite die Top Tien-kring beweeg het.

Onder die individuele vervaardigers het Toyota sy goeie vertoning te danke aan sterk verkope deur Corolla/Auris/Quest (2 117), RAV (369, en ‘n kortkop agter die Ford Kuga op 380), Etios (999), Fortuner (806) en Hilux (2 939). Laasgenoemde was egter nie genoeg om die kroon as topverkoper te bly dra nie, want die Volkswagen Polo met ‘n skitterende 2 994 eenhede verkoop, het selfs sy goedkoper boetie – die Polo Vivo (2 627) – uitgestof. Dit is die eerste keer in ‘n lang ruk dat ‘n passasiersmotor byt-byt aan die gesogte mikpunt van 3 000 per maand.

Benewens Volkswagen se reeds genoemde prestasies, is sy verkope goed ondersteun deur Golf 7 (633), Audi A3 (413), Audi A4 (383) en Tiguan (259). Volkswagen sal egter minder gelukkig wees met die beskeie totaal van 204 nuwe eienaars wat die Amarok gekies het. Terselfdertyd begin Caddy-verkope (142) ook mooi groei.

Nie net het Ford opgeskuif tot in die 3e plek nie, maar sy Ranger-verkope (2 536) kruip al hoe nader en nader aan Toyota se Hilux. Ford se passasiersmotorverkope steun sterk op Figo (1 011), Fiesta (786) en EcoSport (584). Die Focus (214) vaar self nie te sleg nie.

General Motors se passasiersvoertuigverkope word sterk ondersteun deur Spark (850), Aveo (332), Opel Corsa (154), en Trailblazer en Sonic wat elk 199 verkope aangeteken het.
Maar steeds is dit – tipies Suid-Afrikaans – die bakkies wat die wa deur die drif sleep. Isuzu KB staan op 1 480 en die Chev Utility op 1 304. Laasgenoemde is ietwat swakker as sy regstreekse mededinger – Nissan se NP200 – waarvan 1 639 eenhede verkoop is.

Oudergewoonte word AMH se syfers aangegee sonder aanduiding van die spesifieke modelle onder bespreking.

Nissan se gebruiklike 6e plek is weer eens te danke aan goeie vertonings deur sy ligte handelsvoertuie soos NP300 Hardbody (527), NP200 (1 639) en die nuwe NV350 Taxi (116). Die passasiersmotorvloot het ook mooi saamgespeel en Qashqai (430), Juke (338) en Almera (172) het die oog gevang.

Vir Nissan is die groot nuus egter dat sy luukse handelsnaam, Infiniti, dramaties verbeter het en Mei se 23 eenhede tot ‘n uitstekende 66 opgeskuif het – en dit terwyl Toyota se Lexus steeds netjies op 100 eenhede te staan gekom het.

Die tradisionele stryd tussen Mercedes-Benz en BMW om die 7e en 8e plekke duur steeds voort, en weer eens is Mercedes-Benz met so 450 eenhede eerste oor die wenstreep. Die prentjie lyk egter anders wanneer BMW se 6 100 uitvoere met Mercedes-Benz se 1 477 vergelyk word. In die stryd tussen elke vervaardiger se topverkopers – Mercedes se C-klas en BMW se 3-reeks, is Mercedes weer eens aan die wenkant met 1 421 teenoor 964.

Ander presteerders vir Mercedes-Benz is A-klas (343), B-klas (217), E-klas (196) en M-klas (142).

BMW se topverkoper, benewens die 3-reeks, is die 1-reeks (364), X5 (150), X3 (157) en MINI Hatch (124).

Franse invoerder Renault vorder steeds fluks en het in Junie 1 567 eenhede verkoop – hoofsaaklik Clio IV (425), Duster (421) en Sandero II (417).
Die laaste plek in die Top Tien word deur Honda ingeneem. Laasgenoemde is sekerlik dankbaar vir hierdie goeie vertoning, want in die voorafgaande twee maande het hierdie Japanner altyd in die omgewing van 600 eenhede gedraai – en in die proses sy plek onder die Top Tien aan invoerders soos Chrysler afgestaan. Honda se opflikkering is te danke aan sy uitstekende nuwe Ballade (250) en veral die intreevlak Brio (329). Die CR-V het ook 183 nuwe eienaars gekry, maar dit blyk dat Jazz (67) stadig maar seker dieselfde paadjie begin stap as Toyota se Yaris – alhoewel laasgenoemde darem steeds 192 verkope aangeteken het.

Onder die vervaardigers wat nie die Top Tien gehaal het nie, het Jaguar/Land Rover redelik vertoon (540) – hoofsaaklik te danke aan Discovery 4 (165), Range Rover Evoque (135) en Limpopo politici se gunsteling, die Range Rover Sport (100).

In hierdie groep het Chrysler steeds goeie verkope (796) gehandhaaf – danksy Jeep Compass (276), Grand Cherokee (170) en Cherokee (101).

Duitse gehaltevervaardiger Porsche doen steeds redelik (74) hoofsaaklik verdeel tussen die nuwe Macan (21) en Cayenne (38).
Suzuki vaar ook redelik (475) – danksy Swift (138), Jimny (101) en Alto (100).
Die onlangse bekendstelling van Subaru se skitterende nuwe WRX het 25 nuwe eienaars gelok vir ‘n totaal van 125 verkope, waaronder ook die immer gewilde Forester se 56.
Ten slotte is dit goeie nuus vir Volvo dat sy verkope altyd in die 250-omgewing is. Junie se 244 is onderskraag deur S60 (77), V40 (69) en XC60 (55).

Ondanks hierdie verkopesyfers is dit duidelik dat die bedryf nog nie uit die moeilikheid is nie, en dat verkope in Julie waarskynlik weer eens ‘n geringe daling sal toon.

Dink daaraan dat diverse belatinginvorderings deur die Zuma-regime deesdae feitlik 60% van die kleinhandelsprys van elke voertuig verteenwoordig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.