Motorverkope sukkel

Argieffoto

Argieffoto

Desember 2013 was maar ‘n taai maand vir die motorbedryf. Verkope, gemeet teenoor verkope in Desember 2012, was maar 0.2% persent (95 eenhede) beter. Dit verteenwoordig 46 501 eenhede vir die maand. Dit bring die total vir die jaar (met inbegrip van medium grootte handelsvoertuie, asook swaar voertuie en busse) op 650 620 eenhede te staan.

Onder die Top Tien vervaardigers/invoerders was die rangorde onveranderd, behalwe om die tiende plek waar Jaguar Land Rover Honda onttroon het.

In die eerste plek – met amper 20 persent van die totale mark, is steeds Toyota met 9 881 verkope. Dit is egter aansienlik swakker as die maatskappy se November-syfers van 11 894 eenhede verkoop.

Vir Toyota word die wa, spreekwoordelik, deur die drif getrek deur Hilux (2 659), Etios (1 865) en Corolla/Auris (1 305). Terselfdertyd doen Toyota se immergroen Fortuner steeds goed met 849 eenhede, teenoor sy vernaamste mededingers – Mitsubishi PajeroSport op 72, Chevrolet Trailblazer (121) en Nissan Pathfinder (24), Onder hierdie is die PajeroSport die sterkste mededinger en verdien dit om ‘n groter hap uit veral die Fortuner-verkope te neem.

Oudergewoonte is Volkswagen steeds tweede onder die Top Tien met verkope van 8 172 eenhede. Onder hierdie was ook Desember se topverkoper – die Polo Vivo (2 899) – en ander goeie prestasies deur Polo (1 460), Golf 7 (700) en die groep se Audi A4 op 597.

Ongelukkig sukkel Amarok steeds met ‘n beskeie vertoning van 282 eenhede verkoop, teenoor die reeds vermelde Hilux se 2 659, Ford Ranger (1 508 + 173 (Mazda BT-50)), GM se Isuzu (1 260), Nissan se 395 en die Mitsubishi Triton op 91 eenhede.

In die gebruiklike derde plek is Ford met 6 055 eenhede, hoofsaaklik danksy Figo (1 589), Ikon (659), Focus (465), benewens die reeds vermelde Ranger. Ford se EcoSport (338) en Kuga (306) verkoop steeds heel skaflik, maar laasgenoemde doen swakker as Toyota se nuwe RAV (336).

Steeds vierde in die Top Tien-kategorie is Associated Motor Holdings (Hyundai, Kia, ens) met verkope van 5 350 eenhede. AMH bly egter skugter ten opsigte van prestasies deur sy individuele modelle.

In die gebruiklike vyfde plek is steeds General Motors SA met 4 467 verkope. Vir GM het Spark (279), Cruze (268) en Chev Utility se 1 026, benewens die reeds vermelde Isuzu op 1 260 mooi presteer.

Soos in November, is Mercedes-Benz weer in die 6e plek met 2 180 passasiersmotors verkoop. Verstommend, egter, het Mercedes-Benz nie ‘n enkele voertuig in Desember uitgevoer nie. Alhoewel M-B dus 1 000 eenhede meer as sy tradisionele mededinger (BMW, 1 180) verkoop het, het BMW uitsonderlike presteer deur 4 242 eenhede uit te voer.

Mercedes-Benz se prestasies is aangehelp deur goeie verkope op C-klas (1 221) wat terselfdertyd aansienlike beter was as BMW se 3-Reeks (537). Die indrukwekkende nuwe A-klas het ook sterk bygedra met 312 eenhede verkoop.

Nissan, met sy hoofkantoor in Rosslyn, het ook redelik presteer en beklee steeds die 7e plek met verkope van 2 253 eenhede. Staatmakers vir die maatskappy was Juke (146), Micra (151) en Almera (110), benewens die reeds vermelde bakkiereeks (395). Maar intussen sukkel Nissan se prestige-reeks (infiniti) met patetiese verkope van slegs 7 eenhede – presies dieselfde aantal as Ferrari.

Duitse vervaardiger BMW beklee steeds die 8e plek met 1 180 verkope – wat wys hoe belangrik die bakkiemark in Suid-Afrika is wanneer dit kom by goeie syfers. Trouens, indien BMW se uitvoersyfers ook ingereken sou word, sou dit hom tot die 3e plek onder die Top Tien uitgelig het. Vir BMW het die 3-reeks (537) goed gevaar, asook die 1-reeks (209) en die MINI Hatch (107). Benewens Noordwes premier Thandi Modise se omstrede 750i ‘Kersgeskenk’, het 5 ander 7-reeks eenhede ook nuwe base gevind.

In die gebruiklike voorlaaste (9e) plek is weer eens die enigste Franse vervaardig Renault, was sy plek onder die Top Tien in stand gehou het met 1 007 verkope – hoofsaaklik danksy die goeie waarde vir geld Duster (277), Clio IV (560) en Sandero (91).

Die prestasie van die maand gaan egter aan Jaguar/Land Rover (711) wat Honda (583) onttroon het en terselfdertyd onder die Top Tien inskuif. Trouens, Honda behoort bekommerd te wees oor sy dalende syfers – gedagtig aan sy 816 eenhede wat in November verlede jaar van die hand gesit is. Ironies dat JLR in November 538 eenhede verkoop het.

JLR se goeie syfers is te danke aan Discovery 4 (153), Range Rover Evoque (139) en die nuwe Range Rover Sport (211).

Spesiale vermelding behoort egter ten slotte aan Porsche. Hierdie nismark Duitse vervaardiger presteer voortdurend ondanks die feit dat Porsche slegs drie handelskappe – Fourways, Umhlanga en Kaapstad (Century City) het. Trouens, Desember se 273 verkope is aansienlik beter as November verlede jaar se 167 eenhede.

Porsche, tesame met die ander invoerders wat vir hulle voertuie in Euros moet betaal, sal egter begin wonder watter uitwerking die steeds verswakkende Rand op hulle kostestruktuur sal hê. Byvoorbeeld, die ZAR/€-wisselkoers was in September 2011 10:1, maar het in September 2013 (ten tye van die Frankfurt-motorskou) op 13.6:1 gestaan. Tans is die Rand selfs swakker en verwissel dit teen 14.5 teenoor die Euro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.