Motorverkope: VW, Toyota stewige gunstelinge in Mei

Die Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Die totale voertuigverkope in Mei (40 506 eenhede) het aansienlik beter vertoon as ʼn maand gelede s’n (36 794 eenhede), hoewel daar ook in ag geneem moet word dat April altyd ʼn kort sakemaand is.

In die afdeling vir passasiersmotors was die 26 170 verkope beter as April se 24 989 eenhede wat na nuwe eienaars gegaan het. Hierteenoor het ligte handelsvoertuie (12 197) ook aansienlik beter gevaar as die 9 810 wat ʼn maand gelede van die hand gesit is.

Die top‑10-vervaardigerslys het wel enkele verrassings aan die onderpunt gelewer waar Mercedes-Benz (1 132) een plek tot tiende afgeskuif het om onder meer plek te maak vir KIA (1 163). Laasgenoemde het in April uitgeval.

Mazda (1 117) sal ook hartseer wees dat hy hierdie keer uitgeval het ná sy tiende plek algeheel ʼn maand gelede.

Die Toyota Hilux. (Foto: Verskaf)

Ander verrassings was die tweestryd tussen Nissan (4 037 en derde) en Ford (3 544 en vierde) nadat dit ʼn maand gelede net andersom was. Aan die bopunt van die top tien is die gewone rangorde gehandhaaf met Toyota (9 513) eerste, gevolg deur Volkswagen (6 276) in die tweede plek.

Hyundai was vyfde met sy 2 739 verkope, gevolg deur Renault se 1 881, terwyl Isuzu (1 466) verras het deur BMW (1 284) tot in die agtste plek af te druk.

Onder die individuele prestasies het die Hilux oudergewoonte die topverkoperskroon gedra (3 187), terwyl Volkswagen se Polo Vivo (2 478) die beste passasiersmotor-verkoper was.

Oudergewoonte het die bedrukte ekonomie geen rol gespeel in die superrykes se koopgewoontes nie – soos Porsche (130), Ferrari (13), Bentley (8), en Lamborghini en Maserati – ses elk – kan getuig. Niemand het egter tougestaan vir die Audi R8 nie, maar 19 kopers het die Audi Q7 verkies.

Die Mahindra XUV300. Foto: Verskaf

Ander syfers wat aandag getrek het, was met betrekking tot Chinese vervaardiger Haval se 872 verkope, Subaru se sukkelende 86, en Jaguar/Land Rover se spartelende 330 verkope waarvan die Land Rover-afdeling 273 eenhede verteenwoordig het.

Ander goeie verkopers wat die oog gevang het, sluit in BMW 3-reeks (264), X3 (171) en die nuwe Mahindra XUV300 (124). Die peperduur Lexus-reeks spook steeds om in die kollig te bly met totale verkope van slegs 71 eenhede.

Na ʼn sterk lopie in April toe RAV4 (839) die Fortuner (816) getroef het, het Ouboet Fortuner (1 319) weer vir Kleinboet (708) teruggeklap in sy kassie.

Terloops, Mercedes-Benz beweer hulle het die X-klas/Navara suksesvol verkoop aan 96 klante. Ek vermoed egter die meeste hiervan was aan eie senior personeel.

Top‑10‑passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo Vivo: 2 476
  2. Volkswagen Polo: 1 390
  3. Toyota Fortuner: 1 319
  4. Hyundai Grand i10: 738
  5. Toyota Etios: 719
  6. Toyota RAV4: 708
  7. Renault Kwid: 634
  8. Ford EcoSport: 586
  9. Renault Sandero II: 535
  10. Nissan X-Trail: 447

Top-10 ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux: 3 187
  2. Ford Ranger: 1 973
  3. Nissan NP200: 1 363
  4. Toyota Quantum: 1 302
  5. Isuzu D-MAX: 1 254
  6. Nissan NP300: 712
  7. Hyundai H100: 272
  8. Volkswagen Caddy: 233
  9. Mahindra Scorpio Pik Up: 215
  10. Volkswagen Amarok : 167

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wielspore ·

Hierdie berig gaan oor Mei se verkope, die syfer vir die Rav4 se verkope het die verslagewer na April se verkope verwys.

Wielspore ·

‘n Nommertjie om dop te hou is die Mahindra XUV300, die voertuig is omtrent die laaste week in Mei bekend gestel en daar is in die kort tyd 124 verkoop. Gaan kyk gerus na die produk, kwaliteit het heelwat verbeter oor die jare.
Ek self wag vir die VW TCross wat in September bekend gestel word, persoonlik dink ek dat die voertuig die SA motor mark soos ‘n meteoriet gaan tref, met ‘n groot slag en blywende indrukke. Daar word betroubaar verneem dat die eerste vrag wat ingevoer word teen ‘n spesiale prys van R279 990 verkoop gaan word. Dit behoort die mark te voorsien tot Jan 2020 wanneer ‘n opwaardse prys aanpassing gaan volg. Motor verkope was nog altyd ‘n barometer van ‘n land se ekonomie.

Andre C ·

Paragraaf 11 van die berig:”Na n sterk lopie………” lees dat die RAV4 in April 839 eenhede verkoop het en in Mei (Kleinboet)708.Dit laat die Rav in 6de plek vir Mei.Volgens die tabel maak die Rav dit nie onder die top 10 nie.Kan Maroela duidelikheid gee !

Sune van Heerden ·

Dagsê Andre

Dankie dat jy laat weet het; ons vra om verskoning vir die fout.
Die berig is gewysig met die korrekte besonderhede.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.