My afspraak met ‘Maandag’ op die Russiese Ural-motorfiets

Die Russiese Ural-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Die Russiese Ural-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Ek het vir die eerste deel van my lewe geglo die Tweede Wêreldoorlog het in swart en wit afgespeel. Ek was gefassineer deur Spitfires en die Lancaster-bomwerper. Toe ek die eerste keer ʼn Spitfire in kleur gesien het, was ek oorstelp. My kinderdae het toe sommer ʼn nuwe dimensie aangeneem. Het jy in daardie ou stukke beeldmateriaal ʼn motorfiets met ʼn syspan gesien en gewonder hoe hy sou lyk in kleur? Ek het vir jou goeie nuus. Nie net kan jy hom sien nie, jy kan hom ry ook. Die een wat ek gery het se naam was “Monday”.

Langs die R511, naby Hennops Pride se 4×4-baan, is die tuiste van Sidecar Africa, invoerders van die Russiese Ural-motorfietse. Die eienaar, Ryno Greef, het my eers met sy eie syspanfiets die vreemdhede van hierdie petalje verduidelik. Verbeel jou daardie eerste keer wat jy motorfiets gery het, en alles vir jou vreemd gevoel het. Nou reageer en doen jy dinge sonder om te dink. Klim jy egter op die Ural, is jy weer terug in graad 1. Hoewel al die basiese kontroles presies daar is waar jy dit verwag, is dit in die hantering waar die groot aanpassing nodig is.

Die Russiese Ural-motorfiets (Foto: Kobus Schoeman)

Die Russiese Ural-motorfiets (Foto: Kobus Schoeman)

Ryno moet hare tot op sy verstandtande hê om ouens te leer ry met ʼn syspan. Ons motorfietsgeesdriftiges weet mos alles, en die ego lol maar bietjie. Die dinamika werk so: as jy wegtrek of die versneller ooptrek, versnel die fiets, maar die syspan moet eers oortuig word om saam te kom. Jy ry dus om die syspan, en die fiets draai links. Die teenoorgestelde gebeur as jy die versneller toemaak. Die fiets ry stadiger, maar die syspan het nou entoesiasme en momentum aan sy kant, so jy draai regs. En hier kom die groot kopskuif. Sou jy regs begin trek, en jy skrik, is jou eerste reaksie om die versneller toe te maak. Dan draai jy net verder regs in die verknorsing, of bome in. As jy eers hierdie basiese kontroles onder die knie het, kan jy met minimale insette op die handvatsels jou rigting verander deur bloot vinniger of stadiger te ry.

Ná my les het ek en die Ural bietjie gaan rondry tot op ʼn stil plekkie en ek kon hom bietjie beloer. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Russe 5 BMW-motorfietse verkry, en die ontwerpe nageboots. So is die Ural gebore. Die Ural van vandag het nog steeds dieselfde 750cc-bokserenjin van destyds. Ural maak tussen 1 500 en 1 800 motorfietse per jaar en hulle grootste mark is die Amerikaanse een. Europa het ook afsetpunte, en noudat Rusland kan handel dryf met die wêreld, word baie van die onderdele van die Ural verskaf deur Amerikaanse of Europese maatskappye. So oor die jare het brandstofinspuiting en Brembo-skyfremme bygekom, maar in wese het die ontwerp in 70 jaar onveranderd gebly.

Die Russiese Ural-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Die Russiese Ural-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Die Ural is byna onbreekbaar. Jy kan maar links draai, al is daar nie ʼn pad nie. Dit het my baie gehelp toe ek teen my wil regs gedraai het, en daar is selfs ʼn trurat om jou Ural weer uit die bosse te kry. Skoonheidskompetisies gaan hy nie wen nie, maar tog is daar iets moois aan hierdie volkleur-oorblyfsel uit die Tweede Wêreldoorlog. Jy kan maar Sani op, of Baviaans deur, en Ryno het die foto’s in sy winkel om dit te bewys. Jy kan ook jou ander helfte saamvat, want die syspan het ʼn yslike kattebak vir al die snuisterye. Die syspan is ongelooflik gemaklik, want dit het ʼn dubbele veerstelsel, so jou vrou sal nie ʼn steek laat val as sy sit en brei nie.

As jou nuuskierigheid nou geprikkel is, gaan kyk gerus. Gesels met Ryno. Hy kan selfs ʼn syspan aan jou GS vasmaak, sou jy eerder die Duitse bokser as die Russiese een vertrou. Een ding is seker, jy gaan nie onaangeraak weggaan van ʼn Ural af nie.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Robert Strauss ·

Kan jy die Ural koop sonder die syspan kar – net die motorfiets

Brian Cheyne ·

So ver my kennis strek, word die Ural slegs ingevoer met sy syspan. Gee vir Ryno ‘n luitjie, dalk kan hy jou help. Sy kontak besonderhede is op sy webtuiste.

Ronelle ·

Die motorfiets alleen is nie ‘n baie gebalanseerde motorfiets nie en ry glad nie lekker sonder die syspan nie. Ek het die Gear up gehad.

Koos Bottelbek ·

Die Ural Solo was n fiets sonder syspan wat deur Ural vervaardig was. Ek verstaan hy was n limited addition tot hulle produkte, en is van die mark af. Ek self ry nie n Ural nie, maar het baie oplees werk gedoen, wil een vir my koop. Soos ek verstaan kan die Ural sonder die syspan gery word. Maar dit word nie aanbeveel nie – soos Ronelle sê hy is ‘n “purpose built” syspan kar en is dus redelik onbalanseerd sonder sy syspan. Dan is daar ook paar ander goed soos sy vurke is spesiaal vir syspan en lê dus nie lekker om draaie nie, en sy buite bande is ook plat, omdat mens nie om draaie lê nie, is hy nie rond soos gewone pad fietse sin nie. Ek neem aan met bietjie moeite kan mens dit seker maak dat hy soos n SOLO is.

Paul ·

Ek besit n Ural sedert 2009. Sy ( Sofiya) was URAL in Suid Afrika en URAL waar ander voertuie nie kan of wil ry nie. Sofiya is n yster…..Russiese yster! En sy trek n waentjie ook met my HELE kamp daarin. Sy is nie verskriklik vinnig nie maar bring my waar ek wil wees en met meer vreugde. Ek ontmoet nuwe mense en ruik die blomme langs die pad. Ek het alles al gery, superfiets, toerfiets en avontuurfiets maar n syspan bring n ander dimensie! Soos die advertensie tereg aandui……Part Tank, Part Limousine, Part Motorcycle!

Brian Cheyne ·

Paul, so bek kort jam. Ek oorweeg dit sterk om ‘n Ural te kry juis vir daardie mense-ontmoet en blomme-ruik ding. En die aandag wat jy trek oral waar jy ry.

Johann ·

Dankie vir die artikel, die kommentare het ek meer as baie geniet. Ek as buitelugmens, blommemens, wens ek kon saam met julle gesels. Julle is ‘n unieke spesie, julle is ysters.

Ahp ·

My skoonpa besit een. As jy na die fiets self kyk, is dit nie ontwerp om solo gebruik te word nie. Daar is nie eens hegpunte vir die flikkerligte aan die linkerkant van die fiets self nie. Alles op die sykar.

Pietsepan ·

Dis avontuur van ‘n ander aard en kan net lekker wees. Wat kos die Ural?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.