Moderne bakkies het oor die afgelope dekade of wat die grens tussen ʼn werkeselbakkie en ʼn luukse sportnutsvoertuig heelwat verduister. Jan Alleman soek ʼn bakkie wat nie nét kan werk nie, maar tog sag genoeg is om daagliks te gebruik. Met dié neiging het die bakkies ook afgryslik duur geword.
Daar is ʼn bakkie wat al ʼn tydjie beskikbaar is, en wat nou effe opgeknap is. Dit is Isuzu se D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider Black. Dit is ʼn gewone X-Rider met swart verf en wiele. Isuzu het die swart dakrakke, trapstawe, rolstaaf, bakseiltjie en 2,1 ton sleepstang bygevoeg as standaardtoerusting in die beperkte Black weergawe.
Onder die kap is die X-Rider onveranderd en bied steeds 100 kW en 320 Nm wringkrag van die 2,5 viersilinder-turbodieselenjin en ʼn 5-spoed handrat. Al klink die krag nie verstommend nie, is die wringkrag van tussen 1 800 en 2 800 r/min tesame met perfekte ratverhoudings ʼn fees.
Die binneruim sal ek nie klassifiseer as luuks nie, eerder duursaam. Maar dis ʼn goeie ding. Dié bakkie sal kan werk en is ook aangenaam vir alledaagse gebruik.
Daar is ʼn magdom veiligheidstelsels soos EBD, remhulp, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, ABS en twee lugsakke. Daar is ʼn nuwe raakskerminligtingstelsel wat met Apple CarPlay toegerus is en is beslis ʼn reuseverbetering op die ou weergawe.
Al die inligting en statistieke verskaf egter nie die volledige prentjie vir dié Isuzu nie. Die 2,5-enjin is wêrelde verwyder van die stokou 250. Die krag is heeltemal billik. Die perfekte ratverhoudings sorg dat die 250 lekker is om te ry. Baie lekkerder as Ford se handrat wat baie moeite verg met sy onegalige ratverhoudings. Teen die prys is die Isuzu ook ietwat van ʼn winskoop in die dubbelkajuit-segment.
Op die pad is die vering styf – dit is tóg ʼn bakkie. Die stuurkolom is effe stadig as jy eers inklim, maar ʼn mens raak dit blitsvinnig gewoond. Ek is nie ʼn groot liefhebber van ʼn swart voertuig nie, so ek sal moeilik die Black koop, maar ek beskou ʼn wit D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider as die beste waarde intree-dubbelkajuit tans op die mark. Én dit is ʼn baie laer versekeringsrisiko as Toyota se Hilux en Ford se Ranger.
Die reeks lyk nou só:
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit | 100 kW/ 320 Nm | R351 200 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit Hi-Rider | 100 kW/ 320 Nm | R409 700 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider | 100 kW/ 320 Nm | R448 300 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit LE | 100 kW/ 320 Nm | R452 800 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit 4×4 Hi-Rider | 100 kW/ 320 Nm | R460 100 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider Black | 100 kW/ 320 Nm | R462 000 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit 4×4 X-Rider | 100 kW/ 320 Nm | R499 000 |
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit LX | 130 kW/ 380 Nm | R551 500 |
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit LX outo | 130 kW/ 380 Nm | R567 400 |
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX | 130 kW/ 380 Nm | R625 100 |
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX outo | 130 kW/ 380 Nm | R640 500 |
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX Arctic Trucks AT 35 | 130 kW/ 380 Nm | R785 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 90 000 km diensplan en 5 jaar/ 120 000 km waarborg. Diensintervalle is jaarliks óf elke 15 000 km.
Ek sou baie graag ‘n brandstof verbruiks toets wou lees op die’ nuwe 2.5 D max Isuzu’s.my stok ou stadige 2.5 D dubbel kajuit LE gee my steeds 13,5 + km/liter teen 100 km/h – gemeet van voltenk na vol tenk en nie geskat nie.Dit kan interessant wees om te sien hoe die oue teen die nuwe opweeg .
Dagsê Chris,
Baie dankie vir jou kommentaar. Ons het met dié 2.5 TD 10.4 km/l gehandhaaf oor die byna 200 km wat ons gery het. Ek moet opmerk dat die bakkies splinternuut is met 180 km op die klok en moet nog eers inloop. Ons het ook tussen 90 km/h en 140 km/h gery.
‘n Vriendin besit só ‘n 2.5 X-Rider en sy kry gemiddeld 12 km/l. Sy ry dorpsverkeer én ‘n klein stukkie snelweg. Daai brandstofverbruik met die reuse sprong in krag is heel goed in my opinie.
Groetnis
Brendon
nms Maroela Media
Brendon dankie vir die terugvoer.Ja ek stem saam dis goed gegewe die voertuig nog geensins ingeloop was nie.My ou “donkie” het darem al 362000 km op en is mooi los!Het in Augustus van Brits na Naboomspruit toe(N1) agter ‘n swaar vragmotor gery teen 90km/h en weer terug dieselfde en weer volgemaak in Brits en my verbruik was ‘n ongelooflike 16,1 km/liter!Maar die vragmotor is die geheim – hy het my windweerstand mooi verminder EN ek was nie haastig nie!Groetnis.
Ja wie het geld vir n nuwe bakkie teen daai pryse . ?
Brendon julle moet die swart-kleur bakkies hier bo in die Noorde van Namibia kom verkoop. Die Oshivambo’s en Kapriviane vrek oor n swart bakkie, julle sal te min voorraad he!