Vir petrolkoppe was die lewe nog nooit só opwindend soos nou nie. Bugatti werk tans aan hul Chiron wat 480 km/h sal kan haal. Teen 480 km/h weeg ʼn 16 gram doppie op die bande se lugklep 7,2 kg elk! Dis fantasties.
Nie eers twee dekades gelede nie was bó 400 kW ongehoord. Nou praat ons van ʼn BMW met 460 kW en 750 Nm. Dié krag word opgewek deur ʼn 4.4 liter V8 met twee turbo’s. Dit neem 3.2 sekondes van 0 tot100 km/h en hy sal aanhou draf tot bó 300 km/h. Maar dit is nog lank nie die hele prentjie nie.
Daar is min karre wat deesdae kan versnel soos die BMW M8 Competition. Hy is barbaars in sy aanval op pad na die horison. Die Michelin Pilot Sport 4S-bande waarmee die M8 Competition ry, is vir my opvallend. Toe ek jonger was kon bande nie só klou nie; dit was net onmoontlik. Miskien die bande waarmee hulle in F1 en Groep B-tydrenne in die sneeu gejaag het, maar beslis nie op ʼn gewone produksiemotor nie.
Nog ʼn element van die BMW M8 Competition wat vir my ongeëwenaard is, is sy remme. Die koolstofkeramiekremme op die M8 is verstommend. Dit rem met verskriklike krag en word nie warm soos gewone staalremme nie. Ek het een keer redelik hard gerem van asemrowende snelhede af en dit sou by die meeste ander karre die remskywe vernietig het, maar nie die M8 nie.
Dan kom nog ʼn dimensie by in die M8 se karakter. Die M8 is gemakliker as wat enige voertuig van dié kaliber behoort te wees. Supermotors het altyd een of ander tekortkoming gehad. Óf hulle was ongemaklik, óf hulle het na brandstof gestink, óf die remme was nutteloos, óf daar was nie ʼn kattebak nie, óf die hantering was angswekkend – daar was altyd iets, maar sover ek kan sien het die BMW M8 Competition nie een nie. Wag, ek praat bog. Die agterste sitplekke het geen beenruimte nie; BMW kan dit eerder verwyder en die gewig bespaar.
Die binneruim van die M8 is pragtig aanmekaargesit. Bougehalte beïndruk, soos altyd in ʼn BMW. Die meters se vorm is nie vir my die mooiste op aarde nie – ek dink BMW probeer hul kenmerkende sierrooster daarmee na-aap… iets wat vir my onnodig is.
Teen R3,3 miljoen is die BMW M8 Competition beslis vinnig. Hy is bitter mooi ook. Ek is nie oortuig dat hy oor ʼn paar dekades uitermatig spesiaal sal wees nie, maar dit is ʼn fantastiese ervaring. ʼn Mens begrawe jou voet in die mat en hou vas vir lewe en dood. ʼn Mens kan op die M8 staatmaak om jou te asem weg te slaan met die wete dat die remme en bande alles kan hanteer wat jy van hulle vra.
Die R3,3 miljoen is beslis nie vir almal se sakke nie, maar so ook is ʼn Ferrari nie vir almal beskore nie. As jy die geld het, gaan toetsbestuur een; dis ʼn belewenis.
Die reeks lyk só:
BMW M8 Competition Grand Coupé | R3 246 462 |
BMW M8 Competition Coupé | R3 300 272 |
BMW M8 Competition Convertible | R3 442 662 |
Die kompetisie lyk só:
Mercedes-AMG GT63 S 4Matic+ 4-deur Koepee | 470 kW/900 Nm | 3.2 sek | 315 km/h | 11,3 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R3 275 800 |
Porsche Taycan Turbo | 500 kW/850 Nm | 3.2 sek | 260 km/h | 23 kWh/100 km | 2 jaar onbeperkte km-waarborg 8 jaar-batterywaarborg 3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R3 426 000 |
Porsche Panamera turbo S e-Hybrid | 500 kW/850 Nm | 3.4 sek | 310 km/h | 2,9 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 6 jaar/120 000 km-batterywaarborg 3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R3 449 000 |
Tussen dié mededingers is elkeen erg spesiaal om sy eie redes. Ek hou meer van die BMW se binneruim as die Mercedes-AMG s’n. Die Panamera is ekstra spesiaal én het ʼn hibridiese dryfstelsel. Die Taycan Turbo is ʼn pure elektriese voertuig en kan tot by 260 km/h saam met die ander loop. Fantasties!
Jou sexy ding!