ʼn Luukse bus vir dié wat nie wil bus ry

Die Kia Grand Sedona is nie sommer enige bussie nie. (Foto: Verskaf)

Party mense gee baie om watter tipe voertuig hulle ry. Daar is byvoorbeeld mense wat geensins ʼn sedan wil ry nie, óf mense wat glad nie ʼn sportnutsvoertuig wil ry nie.

Ek het drie kinders en begeer ʼn bussie met ʼn seer hart. Party mense wat wel ʼn bus nodig het, wil net nie een ry nie. Dis óf te groot óf te lelik.

Kia het wel vir daardie mense ʼn oplossing – die Kia Grand Sedona.

Die beste manier om die Sedona op te som is om aan die Amerikaanse “minivan” te dink. Gewoonlik is daar skuifdeure, heelwat sitplekke en ʼn laer profiel as ʼn bus. Die resep kan nogal aardige resultate oplewer, maar dis beslis nie die geval met die Grand Sedona nie.

Die Kia Grand Sedona se kajuit is voorwaar gemaklik. (Foto: Verskaf)

Kia se ontwerpers het regtigwaar ʼn mooi gesinsbus geteken. Die buiteproporsies is netjies, soveel só dat die bussie skoon luuks lyk. Die buitekant is wel nie waar die belangrike dele lê nie. Dis aan die binneruim. Daar is uiters handige sitplek vir sewe. Twee voor, twee in die tweede ry en drie heel agter. Die eerste twee rye is individuele sitplekke met armleunings en al. Die derde ry is soort van ʼn bank‑tipe sitplek.

Daar is dubbelsone klimaatbeheer en leerbekleedsel om die kroos gemaklik te hou. ʼn Magdom lugsakke hou hulle almal veilig indien daar ʼn botsing is. ABS, EBD en blindekolwaarskuwing is hulpmiddels om ʼn botsing te vermy. Verder is die kajuit voorwaar gemaklik.

Die Grand Sedona het slegs een enjin‑ratkas‑kombinasie, Kia se puik 2.2‑viersilinderturbodieselenjin wat 147 kW en 440 Nm bied. Dáái enjin saam met Kia se nuwe 8-spoed‑ outomatiese ratkas is ʼn resep vir seepgladde ratwisselings en goeie brandstofverbruik. Ons het maklik 7,7 ℓ/100 km behaal. Vir ʼn voertuig van dié grootte en gewig is dit werklik ʼn prestasie.

Leerbekleedsel om die kroos gemaklik te hou in die Kia Grand Sedona. (Foto: Verskaf)

Die ritgehalte is ʼn aangename verrassing. Die vering is soepel genoeg sodat die Sedona rustig oor hobbels ry, maar nie té slap sodat daar wilde bakrol is nie. Padhouvermoë is heel goed as ʼn mens in gedagte hou dat jy nie soos ʼn maniak gaan jaag met jou gesin in die bus nie.

Die Grand Sedona is ʼn lieflike gesinsvoertuig. Die enjin‑ratkas‑kombinasie maak van hom ʼn lieflike toermotor. Al is voorwielaandrywing nie ideaal vir sleep nie, sal die Grand Sedona wel ʼn hond uit ʼn bos uit sleep. Ek kan aan geen rede dink hoekom ʼn mens nié die Kia Grand Sedona sou koop indien jy in die mark is vir só ʼn tipe voertuig nie.

Die reeks lyk só:

Kia Grand Sedona 2.2 CRDI EX 7-sitplekR599 995
Kia Grand Sedona 2.2 CRDI EX 11-sitplek *R615 995
Kia Grand Sedona 2.2 CRDI EX+ 8-sitplekR629 995
Kia Grand Sedona 2.2 CRDI SXL 7-sitplekR782 995

*Die 11-sitplek Grand Sedona is slegs op bestelling beskikbaar en het ʼn wagperiode van vier maande.

Die reeks word gedek deur Kia se markleidende 5 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑diensplan en padbystand.

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.2TDCI LWB Trend92 kW/350 Nm6,5 ℓ/100 km8 sitplekke1,6 tonR591 300
Hyundai H1 2.5CRDI Elite125 kW/441 Nm9,8 ℓ/100 km9 sitplekke1,5 tonR664 900
Mercedes-Benz V200d outo100 kW/330 Nm6,1 ℓ/100 km6 sitplekke2 tonR886 251
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI Highline132 kW/400 Nm7,9 ℓ/100 km7 sitplekke25 tonR995 200

Elkeen van dié mededingers bied iets uniek. Nie een is werklik ʼn direkte mededinger vir die Sedona nie, want almal is busse, nie MPV’s nie. Die Ford se prys is ongeëwenaar. Die H1 bied die meeste sitplekke en die Volkswagen die beste sleepkapasiteit. Jou behoeftes sal jou in ʼn spesifieke rigting stuur. Gaan toetsbestuur almal, die Kia sal jou wel verras.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Laai spasie ·

As ek so na die fotos kyk kan die Kia nie vergelyk word met die Ford in verband met laai spasie nie.
Ek hou van VW maar ongelukkig het hul ook die minimum laai spasie.
Wat help dit jy koop n bus vir genoeg sitplek maar daar is geen laai spasie. Met 4 klein kindertjies is dit ongelukkig n groot faktor wat oorweeg moet word, mens wil tog nie net vir n wegbreek naweek n waentjie moet sleep nie!?
Ek was die eienaar van n 7-sitplek sedan maar dis ook onprakties aangesien die laai spasie verlore gaan indien die wegvou sitplekke gebruik moet word.
Ek sal enige tyd weer n Ford aanskaf, het goeie ry vermoë op die grondpad, baie laai spasie en is soos in die artikel vernoem in n ongeëwenaarde prysklas.

As daar egter laai spasie was sou ek met graagte na die Kia gaan kyk het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.