‘n Nuwe nis …

Die BMW 218i. Foto: Verskaf

Luukse handelsmerkname soos BMW, Audi en Mercedes-Benz probeer al vir ʼn geruime tyd ʼn nis vir hulself uitkerf. Dink aan al die vreemde nuwe bakstyle soos koepee-sportnutse. Die eerste, as ek dit nie mis het nie, was die Audi A5, wat toe ʼn koepee van die A4 was. Toe gee hulle vir die A5 vier deure en noem hom die A5 Sportback. Die res is geskiedenis. Dit het die sluise oopgemaak vir talle voorbeelde van die vreemde bakstyle.

Die jongste oortreder is BMW se 2-reeks- Gran Coupé. So, laat ek dit reg kry. Dit is ʼn 1-reeks, met twee deure en ʼn kattebak, soos ʼn sedan – net met vier deure. Dis hy daai. Sjoe! Daar is nóg ʼn oortreding. Dié BMW is voorwielaangedrewe en op ʼn MINI-platform gebou. Die puris in my kan nou nie meer nie. ʼn BMW was nog altyd agterwielaangedrewe. Is dit tóg ʼn slegte ding?

Die BMW 218i. Foto: Verskaf

Nee – die 218i het my op verskeie vlakke verbaas. Die ontwerp is mooierig. Dis ʼn BMW, maar beslis nie die mooiste nie. Die gewone 2-reeks is vir my baie mooier. Die binneruim is waar die 2-reeks begin uitblink. Dit is lieflik aanmekaargesit – en die beste materiale word gebruik. Die spesifikasievlak in ons 218i-toetseenheid was stratosferies. Elke denkbare truuk en die opwasbak was in dáái kajuit.

Dit bring my by die deel van die 218i wat voorwaar beïndruk. Sy 1.5-driesilinderturbopetrol-enjintjie. Ek het die enjin al in ʼn MINI teengekom, maar in die 218i voel hy anders. Hy bied 103 kW en 220 Nm. Nie te versmaai nie. Die enjin is gepaard aan BMW se 7-spoed-dubbelkoppelaar- outomatiese ratkas.

Die BMW 218i. Foto: Verskaf

Aanvanklik voel die 218i soos enige ander BMW, net ʼn bietjie stadiger. Dis wel as ʼn mens hom soos ʼn BMW begin ry dat hy beïndruk. O ja, 0–100 km/h duik op in ʼn baie ratse 8.7 sekondes en hy sal aanhou tot 213 km/h. Dis fantasties as ʼn mens dink dis die intreemodel. Die 1.5 trek eweredig reg deur sy toerestrek en voor jy jou kry, ry jy in die toesluitsone van die spoedmeter!

Op die pad is die rit vir my wel té hard. Dié 218i was met BMW se M Sport-pakket toegerus, en dit beteken 19”-wiele met ʼn 35-profielband. Padhouvermoë is indrukwekkend en het ʼn kenmerkende BMW-gevoel – al is die onderstel voorwielaangedrewe. BMW het hom puik van sy taak gekwyt om die stuurgevoel reg te stel, want in die MINI word dit hopeloos té vinnig gestel, en die kar voel altyd benoud.

Die BMW 218i. Foto: Verskaf

My eerste kar was ʼn E30 316 BMW. ʼn Witte. Ek was gek oor daai kar. Die 218i herinner my aan daai kar. Dit is ʼn lekker klein, kompakte sedanmotor met ʼn pragtige kajuit. Vir die meeste eienaars sal die enjin oorgenoeg bied, én lieflik lig op brandstof wees as ʼn mens versigtig ry. Dié klas tjorre raak geweldig duur – maar met die verwoesting in die wisselkoers gaan alle karre se pryse nou ʼn hele ruk mal wees voor dit stabiliseer.

Die reeks lyk só:

BMW 218i Gran Coupé103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR562 320
BMW 218i Gran Coupé Sport Line103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR583 020
BMW 218i Gran Coupe M Sport103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR595 020
BMW 220d Gran Coupé140 kW/400 Nm4.8 ℓ/100 kmR649 016
BMW 220d Gran Coupé Sport Line140 kW/400 Nm4.8 ℓ/100 kmR669 716
BMW 220d Gran Coupé M Sport140 kW/400 Nm4.8 ℓ/100 kmR681 716
BMW M235i xDrive Gran Coupé225 kW/450 Nm7.6 ℓ/100 kmR795 864

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi A3 Sedan 35TFSI S line110 kW/250 Nm4.8 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R554 910
Mercedes-Benz CLA200 AMG Line120 kW/250 Nm5.5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R624 200

Tussen dié mededingers is die BMW se enjin vir my die romerigste. Almal is lieflike voertuie – gaan toetsbestuur almal, een sal soos ʼn handskoen pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kolonel ·

Dit sal interessant wees om die toetseenheid se werklike koste – met bykomstighede – uit te vind ;-)

En BMW, as julle die hele DNA van ‘n voertuig verander – kan julle gerus sommer ook die 218 verander na 215. Met ‘n nar simbool, of soortgelyk agteraan vir die 3 silinders.

R500K vir 3 silinders – nee dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.