Al ry daar derduisende sportnutsvoertuie daarbuite rond, is min van hulle egte veldryvoertuie. Hulle spog met effe beter grondvryhoogte – maar as die grondpad kwaai raak of die bos té dig, dan raak die gewone sportnuts se talent op.
Daar is dan ʼn handjievol sportnutsvoertuie wat met vierwielaandrywing spog. Al die mediumgrootte sportnutsvoertuie is op die teerpad eerder ʼn voorwielaangedrewe sportnuts, maar met slim tegnologie kan hulle dan wanneer nodig wringkrag na die agterwiele stuur. Een van dié soort is die nuwe Land Rover Discovery Sport.
Land Rover het nóú die ontwerp van die Discovery mooi in die kol. Dis ʼn aantreklike ryding, en sy proporsies pas netjies. Dis wel aan die binneruim waar Land Rover ʼn puik balans tussen tegnologie en ontwerp slaan. Die binneruim is gepeper met tegnologie, maar hoe ʼn mens alles met daai tegnologie integreer, is slim. Daar is net twee draaiknoppe op die konsole, en twee op die stuurwiel. Hul funksies verander na gelang van watse afdeling jy mee besig is. Die Discovery Sport het ʼn opsie vir ʼn derde ry sitplekke om sewe sitplekke te bied.
Die Sport het ʼn hele paar truuks in sy mou. Vierwielaandrywing is een, maar dít gepaard met Land Rover se Terrain Response-stelsel – maak van die klein Disco ʼn ware veldryvoertuig. Land Rover het wel ʼn reusehaas uit die hoed geruk met die D180-viersilinder-turbodieselenjin. Die enjin bied 132 kW en 430 Nm … maar dit is nie wat belangrik is nie. Die verfyning van die enjin staan kop en skouers bó die meeste van sy mededingers uit. Daar is amper geen dieselgeraas nie, en die enjin sit verskriklik glad aan en af.
Op die oop pad bied die Discovery Sport ongeëwenaarde gemak. Die Disco reis verskriklik stil en gemaklik. Dit maak van reistogte op die oop pad bitter ligte werk.
Teen 120 km/h op ʼn heen-en-weer-trippie van 500 km die afgelope langnaweek het die Land Rover Discovery Sport D180 SE R-Dynamic 7.4 ℓ/100 km gehandhaaf. Die ritgehalte is lieflik soepel, en die binneruim is fantasties geïsoleer teen geraas. Die Discovery Sport bied ʼn fantastiese veiligheidspesifikasievlak. Daar is sewe lugsakke, ABS, EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer.
Die Discovery Sport is amper twee voertuie. Die ekonomiese stadsverkeer-trotserende gesinsmotor … en die uiters bekwame veldryvoertuig. Ons het tydens die bekendstelling ʼn klein voorsmakie gekry van die Discovery Sport se 4×4-vernuf.
Ek’t meer tyd met hom nou op die plaas deurgebring – en die Sport is baie meer bekwaam as wat jy verwag. Selfs waar jy sou verwag dat jy laestrek sou benodig, kan die Disco Sport steeds sy man staan. Die Terrain Response-stelsel het verskeie modusse vir modder, rotse, gras, sneeu en sand. Die sandmodus maak kinderspeletjies van diep, dik sand.
Land Rover voer al hul produkte in, en ongelukkig slaan Jan Taks hulle bitter hard. Hulle is uitgelewer aan die regering en kry geen uitvoerkrediete om die invoere teen te verreken nie. ʼn Nare wisselkoers dra ook by tot die probleem. Vir diegene wat dit kan bekostig – dis ʼn lieflike voertuig wat uiters bekwaam is. Gaan toetsbestuur self een – jy sal verbaas wees.
Die reeks lyk só:
Land Rover Discovery Sport D180 AWD | 132 kW/430 Nm | 5.8 ℓ/100 km | R795 966 |
Land Rover Discovery Sport D180 S AWD | 132 kW/430 Nm | 5.8 ℓ/100 km | R844 266 |
Land Rover Discovery Sport D180 R-Dynamic S AWD | 132 kW/430 Nm | 5.8 ℓ/100 km | R868 966 |
Land Rover Discovery Sport D180 R-Dynamic SE AWD | 132 kW/430 Nm | 5.8 ℓ/100 km | R906 766 |
Land Rover Discovery Sport D180 R-Dynamic HSE AWD | 132 kW/430 Nm | 5.8 ℓ/100 km | R951 966 |
Land Rover Discovery Sport P250 AWD | 184 kW/365 Nm | 8 ℓ/100 km | R811 344 |
Land Rover Discovery Sport P250 S AWD | 184 kW/365 Nm | 8 ℓ/100 km | R859 644 |
Land Rover Discovery Sport P250 R-Dynamic S AWD | 184 kW/365 Nm | 8 ℓ/100 km | R884 244 |
Land Rover Discovery Sport P250 R-Dynamic SE AWD | 184 kW/365 Nm | 8 ℓ/100 km | R922 044 |
Land Rover Discovery Sport P250 R-Dynamic HSE AWD | 184 kW/365 Nm | 8 ℓ/100 km | R966 744 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
Mitsubishi Outlander 2.4 GLS | 123 kW/222 Nm | 8.2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R519 995 |
Subaru Forester 2.0i-S ES | 115 kW/196 Nm | 7.6 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km- waarborg 3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R552 000 |
Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna | 126 kW/233 Nm | 8.3 ℓ/100 km | 6 jaar/150 000 km- waarborg 3 jaar/90 000 km- diensplan | R569 700 |
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 4Motion Highline | 130 kW/380 Nm | 6.4 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R655 700 |
Jeep Cherokee 2.0T Trailhawk 4×4 | 200 kW/400 Nm | 9.3 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R750 362 |
Lexus NX 300 EX | 175 kW/350 Nm | 7.9 ℓ/100 km | 7 jaar/105 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R751 800 |
Audi Q5 40TDI quattro | 140 kW/400 Nm | 4.9 ℓ/100 km | 1 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R791 500 |
BMW X3 xDrive20d | 140 kW/400 Nm | 5.5 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R846 938 |
Mercedes-Benz GLC220d 4Matic | 143 kW/400 Nm | 5.4 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R889 080 |
Hier is ʼn magdom mededingers. Die X-Trail en Outlander is die enigstes wat sewe sitplekke bied. Slegs die Forester en Jeep het beroemde 4×4-aandrywingstelsels. Gaan toetsbestuur beslis die Land Rover as dit binne jou vuurmaakplek is.
Desember Jeffreysbaai, die strand is volgepak met sonsoekers, net regs van die hoofstrand is die aflaaiplek vir allerhande soorte water karre, wet bikes, rubber ducks en enige iets anders wat hier aangekom van Gauteng agter een of ander R1M plus sleepvoertuig. Dit trek nogal heelwat aandag om te sien hoe speel die mense met die goeters in die water. So maak ‘n Landrover Discovery sy verskyning met ‘n sleepwa en twee sulke wet bikes op. Die inkomslag werk mooi, maar toe daardie dorp 4×4 draai sluk die sand hom in. Die deure gaan oop en die familie klim uit, pa bly agter en sit die air jacks aan, die Landrover lig homself soos ‘n gekweste vlakvark uit die grond. Pa trap die versneller teen die vloer met sand wat soos water in ‘n boog die lig inskiet. Ek vat my selfoon om hierdie konsternasie af te neem en hier langs my brom ‘n vrou, jy gaan dit seker op youtube sit, dit is toe dat ek sien, dit is die eienaar se vrou. Social distance het handig te pas gekom.
Geen merkbare oliekolle in die water nie?
Wie wil nou so voertuig in die bos laat krap, dit lyk eerder na die best 4 x 4 on tar met al die klomp gadgets vir die yuppies.
Noem gerus ‘n goeie, nuwe 4×4 voertuig wat jy wil laat krap? Beste antwoord is maar om die sypanele te laat bedek met deurskynende kleefplastiek.
Die ouens MET die uitvoerkrediete doen plaaslike kopers ook geen gunste met hulle pryse nie …
Net ‘n regstelling, mbt Mitsubishi is nie die Outlander nie maar die Pajero Sport die Discovery se kompetisie.
Alhoewel kraglewering swakker is het die PS ook 7 sitplekke en ook ‘n “beroemde” vierwiel stelsel.
Prys is omtrent R570 00.
Dagsê Danie,
Baie dankie vir jou kommentaar. Ons het spesifiek hier die Discovery Sport getoets, die kleiner medium grootte sportnuts, die nie volgrootte Discovery nie. Sy direkte mededinger is beslis die Outlander en nie die Pajero Sport nie. Die Pajero Sport staan in ‘n klas van sy eie met Toyota se Fortuner, Isuzu se MU-X en Ford se Everest omdat hulle almal op leerrame gebou is – soos hul bakkie boeties.
Groetnis
Brendon
nms Maroela Media
Jy kan met enige voertuig Afrika se bosse ingaan, maar as jy wil terug kom, kry maar eerder vir jou ‘n Toyota.
Grens ek hoor jou, maar partykeer wil mens darem lekker ook ry of hoe? My volgende kar gaan beslis nie weer ‘n Toyota wees nie.