ʼn Reusestap in gehalte vir Mahindra

Die Mahindra XUV300. Foto: Verskaf

Soos met enigiets in die moderne wêreld verwag ons vordering. Dit is nie meer aanvaarbaar om net te wees nie. Mense, produkte, maatskappye en dies meer moet aanhoudend streef om beter te wees. Ek hou die jonger vervaardigers in Suid-Afrika by dié maatstaf. Suid-Afrika is nie ʼn afvalterrein vir Sjina of Indië se skrootmetaal nie.

Gelukkig is die XUV300 ʼn reusestap in die regte rigting vir Mahindra. Die XUV het nie goeie bougehalte (vir ʼn Mahindra) nie … maar werklik goeie gehalte. Die ontwerp is mooi en die binneruim netjies. Die spesifikasievlak op die reeksleidende W8-model is hemelhoog. Weereens, nie vir ʼn Mahindra nie … maar in vergelyking stof hy al sy mededingers uit.

Die Mahindra XUV300. Foto: Verskaf

In die W8-model is daar 7 lugsakke, ESP, misligte voor en agter, voorste parkeringsensors, truratkamera, sitplekgordelwaarskuwing vir agterste passasiers, wegtrekhulp, banddrukmonitor, selfverduisterende truspieëltjie, 17″-sierwiele, CarPlay & Android Auto, dubbelsoneklimaatbeheer, spoedbeheer, leerbekleedsel en ʼn sondak.

Daar is twee enjins in die reeks beskikbaar. ʼn 1.2-driesilinderturbopetrolenjin wat 81 kW en 200 Nm wringkrag bied. Die ander is ʼn 1.5-viersilinderturbodiesel wat 86 kW en 300 Nm bied. Ek lieg … 85,8 kW. Ek rond dit af. Albei enjins maak gebruik van ʼn sesspoed-handratkas en sit hul krag na die voorwiele. Die koppelaar neem ʼn paar ratwisselings om aan hom gewoond te raak, maar gou genoeg is mens goeie maats. Ons het slegs die dieselenjin by die bekendstelling gery. Op die pad is die enjin lieflik stil en die ratverhoudings egalig versprei om versnelling heel rats te maak. Versnelling in sesde rat op die oop pad is self indrukwekkend met die 300 Nm.

Die Mahindra XUV300. Foto: Verskaf

Die binneruim is lekker gemaklik as mens eers reg sit. Die kajuit is ergonomies uitgelê en met al die speelgoed kan mens nie anders as om gemaklik te wees nie. Ritgehalte is heel in die kol vir dié klas voertuig en padhouvermoë goed. Daar is so te sê geen bakrol nie – ʼn goeie kompromis tussen padhouvermoë en ritgehalte.

Mahindra stap al 14 jaar ʼn pad in Suid-Afrika. Dié wat hulle al besit het, sweer by hulle. Die XUV300 gaan reusetreë gee vir Mahindra met persepsies oor die handelsmerk se gehalte. Indien jy in die mark is – gaan toetsbestuur een, jy sal aangenaam verras wees.

Die reeks lyk só:

XUV300 W6 1.2 PetrolR249 999
XUV300 W6 1.5 DieselR274 999
XUV300 W8 1.2 PetrolR304 999
XUV300 W8 1.5 DieselR324 999

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan en padbystand.

Ons sal binnekort tyd met die petrolweergawe deurbring en dán die XUV300 met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Siener ·

Mooi Mahindra. Nou het Toyota kompetisie en sal moet uithaal en wys.

Johann cb ·

Met al die standaard toerusting is die prys baie goed vasgestel! Mahindra beïndruk al meer! Ford sal ook moet ligloop!

WIEBO ·

Ek het Mahindra voertuie verkoop so n paar jaar gelede, en moet se die gehalte is baie goed. Daar was geen foute op die voertuie nie, en geen klient wat gekla het nie. Regtig n puik voertuig wat mense onderskat. Die XUV 500 sal mense se oe laat rek as hulle een toetsbestuur!!

Sarel ·

Ek kan net nie dink dat ‘n 1.2 liter turbo petrolenjin voldoende gaan wees vir so ‘n voertuig nie. En om soveel krag uit so ‘n klein enjintjie te wurg laat my wonder oor die leeftyd van die enjin . . .
Ek is egter glad nie ‘n werktuigkundige of ingenieur nie so ek hoor graag ander se opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.