ʼn Taxi? Aikôna, eerder ʼn luukse bus met styl

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Daar is elke jaar ʼn groot kompetisie tussen die motorjoernaliste om te sien wie kry watter voertuig vir Desember.

Ek is oortuig daarvan dat ek in 2019 die algehele wenner was met Toyota se nuwe Quantum VX.

“Wat wil ʼn mens nou met ʼn taxi maak?” hoor ek almal vra. Kyk, Toyota se nuwe Quantum kan nie verder van ʼn taxi af wees nie, al probeer hy. Oorsee het hy ʼn ander naam – wat ek oortuig is hulle ook in Suid-Afrika moes gebruik het. Oorsee word hy die Toyota Granvia genoem.

Die splinternuwe VX is eenvoudig die luuksste kombi tans in Suid-Afrika beskikbaar, en ja – ek sluit Mercedes-Benz se V-klas hierby in. Die ontwerp is egter nie almal se koppie tee nie.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Die binneruim is egter waar die weelde vlamvat. Daar is vier rye sitplekke. Twee voor, dán twee elektries verstelbare sakeklassitplekke wat uitskop met ʼn voetrus, ʼn derde ry met nóg twee effe luukse stoele en dán heel agter ʼn bank waar drie kan sit. Die VX kan nege mense in totaal vervoer – in uiterste gemak. Daar is dubbelsoneklimaatbeheer en bekerhouers vir ʼn vale. Daar is ses USB-poorte agter, een vir elke passasier om hul foon, tablet of mediaspeler volgelaai te hou.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Die Quantum VX word deur Toyota se puik 2,8 viersilinderturbodieselenjin aangedryf. In die VX bied die 2,8 115 kW en 420 Nm – deur ʼn 6-spoed outo en agterwielaandrywing. Die agterwielaandrywing maak van die VX ʼn lieflike sleepvoertuig. Ons het tydens die Desembervakansie my karavaan gesleep en die Toyota gedra hom uiters puik. Dit is ʼn baie swaar voertuig teen 2,7 ton – maar dis die einste rede hoekom die karavaan hom niks maak nie. Die enjin is lekker sterk en die outomatiese ratkas goed gekalibreer, so die Quantum sleep soos ʼn droom. Ons het rustig gesleep teen so 110 km/h en 11 ℓ/100 km gehaal. Ek moet byvoeg die N4 tussen Pretoria en Brits is lekker plat, so daar is geen bulte om mee te sukkel nie.

Toyota se nuwe Quantum VX. Foto: Verskaf

Die VX se vering verskil beslis van die laer modelle in die reeks. Die VX ry lieflik sag sonder om slap bakrol te toon. Padhouvermoë is lekker vir dié klas voertuig. In die volgende artikel sal ek meer vertel oor die VX op die oop pad see toe, maar vir dié artikel kan ek sê die Quantum VX is ʼn lieflike sleepvoertuig met plek vir al die kinders. Sy enigste probleem is die gebrek aan kattebakspasie met die sitplekke se konfigurasie. Ons sal in die volgende artikels meer uitbrei daaroor en die VX met sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

Toyota Quantum 2.8 LWB Panel VanR501 000
Toyota Quantum 2.8 LWB Crew CabR510 200
Toyota Quantum 2.8 SLWB Panel VanR538 500
Toyota Quantum 2.8 LWB bus 11-sitplek GLR631 100
Toyota Quantum 2.8 SLWB bus 14-sitplek GLR647 700
Toyota Quantum 2.8 LWB bus 9-sitplek VXR947 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 90 000 km diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gato ·

Die grootste fout wat Toyota met die nuwe bussie gemaak het was om die 2.8 GD6 dieselenjin te gebruik.
Nou is geen mens se Hilux weer veilig nie want die Taxi mafia soek die enjins om hulle bussies aan die gang te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.