‘n Tweede baan vir AMG …

In geskiedkundige terme is AMG nog ʼn jong motorvervaardiger. Een van die eerste padvoertuie wat die groep gebou het, is die AMG Hammer … ʼn vuurvretende E-klas in 1986. Voor dít was hulle met renmotors deurmekaar. Sedertdien het AMG deel van Mercedes self geword, en onlangs ʼn alleenstaande handelsmerk in die vorm van Mercedes-AMG geword.

Die Hammer het sy naam gekry oor die eenvoudige feit dat ʼn AMG presies dít was. ʼn Hammer. Geen sagte snykunde hier nie. ʼn Mens wen met brute krag. Dit het AMG gevestig as handelsmerk, en ek moet bieg dat die C63S, ʼn agterwielaangedrewe V8, tans een van my gunstelingkarre is.

Met AMG se hedendaagse sukses, en die feit dat dit nou ʼn handelsmerk op sy eie is, kan ek net dink dat die rekenmeesters gevra het: “Nou waarheen nou?” Die antwoord is eenvoudig … ʼn AMG – wat ʼn bietjie minder AMG is – wat sy eie baan kan breek.

Welkom aan die Mercedes-AMG GT53-vierdeur. Dit is die jongste model in ʼn reeks sessilinder-AMG’s. Dit word aangedryf deur ʼn 3.0-inlynsessilinderturbopetrolenjin wat met sy hibridiese tegnologie 320 kW en 520 Nm bied. Sowaar, 0–100 km/h duur ʼn ratse 4,5 sekondes, en hy sal aanhou snol tot 285 km/h.

Ons het ʼn wyle terug tyd met die GT63S deurgebring – en ek’s oortuig dit is een van die beste enjins ter wêreld. Die 53-weergawe het dieselfde vierdeur-koepeebakstyl. Die binneruim is uiters sportief met die sportsitplekke. Die paneelbord voel baie hoog, seker om jou te laat voel dat jy in ʼn kokon toegedraai is. Al die skerms en inligtingstelsels is helder en duidelik, en bied jou al die inligting wat jy benodig.

As ʼn mens begin ry, is die eerste ding wat beïndruk die fantastiese klank van die ses silinders. AMG het beslis getoor sodat die enjin se blaf by sy byt pas. Op die pad word ʼn mens baie vinnig gerusgestel deur die 4Matic-vierwielaandrywingstelsel. Sodra jy die rymodusknoppie druk en Sport Plus óf Race kies, is dit asof die AMG se hare op sy rug penorent staan. Dán is hy reg om te speel.

Die ritgehalte bly effe hard, maar dit is die geval met die meeste AMG’s. In gemakmodus breek dit darem nie ʼn mens se niere nie. Die padhouvermoë is wel waar die GT uitblink. Met vierwielaandrywing en puik bande kan jy hom in ʼn rigting wys – en die versneller begrawe met die vertroue dat hy sal gaan waar jy hom wys.

Dit bring my by ʼn moeilike opsomming. Ek sal elke dag van die week die Mercedes-AMG GT 63S-vierdeur kies bó die 53 … net vir sy enjin. Daai 4.0-V8 is onbetwisbaar. Maar dan is die 53 R1 miljoen goedkoper, en beslis nie ʼn miljoen minder kar nie. Dán, aan die ander kant, as ʼn mens in die segment kan speel, is die miljoen nie belangrik nie.

Dit bring my toe by die besef dat dit AMG is wat ʼn tweede baan vir homself skep. Nie almal wil die vuurvretende atoombom hê nie. Die 53-reeks is eerder ʼn meer verfynde mes in plaas van ʼn kettingsaag. AMG sal van krag tot krag gaan met die nuwe reeks, maar wat my betref, soek ek steeds die 63 in my oprit, asseblief.

Die reeks lyk só:

Mercedes-AMG GT53 4Matic+ vierdeur-koepee320 kW/520 Nm0–100 km/h 4.5 sek

Topspoed 285 km/h

9.4 ℓ/100 kmR2 132 400
Mercedes-AMG GT63 S 4Matic+ vierdeur-koepee470 kW/900 Nm0–100 km/h 3.2 sek

Topspoed 315 km/h

11.3 ℓ/100 kmR3 174 320

Die kompetisie lyk só:

Lexus LC500351 kW/ 540 Nm0–100 km/h 4.7 sek

Topspoed 270 km/h (beperk)

11.6 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km- waarborg

4 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R2 031 200
Porsche Panamera 4S324 kW/ 550 Nm0–100 km/h 4.4 sek

Topspoed 289 km/h

8.1 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudinsplan

R2 099 000
BMW M850i xDrive Coupé390 kW/ 750 Nm0–100 km/h 3.7 sek

Topspoed 250 km/h (beperk)

10.4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R2 197 734
Porsche Taycan 4S390 kW/ 640 Nm0–100 km/h 4 sek

Topspoed 250 km/h

23 kWh/ 100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

8 jaar- batterywaarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudinsplan

 

R2 586 000

Tussen dié mededingers raak dit moeilik. Elkeen is asemrowend om verskillende redes. Die Taycan is fantasties – en 100% elektries. Die BMW M850i is beslis die vinnigste, maar het slegs twee deure. Die Lexus het ook twee deure, maar is waarskynlik die mees eksklusiewe een tussen die klomp. Waar kry ek nou R2 miljoen?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.