Na dié motors sien ons uit in 2018

Die Alfa Romeo Stelvio Quadrifoglio (Foto: Alfa Romeo)

Verskeie nuwe voertuie maak vanjaar hul buiging in Suid-Afrika – en motorfoendi’s landwyd is baie opgewonde.

Hier is sommige van die hoogtepunte:
Alfa Romeo Stelvio Quadrifoglio
Ek kry hoendervleis as ek net aan dié een dink. Ons het al die 2.9 V6-enjin geproe in die Giulia. Lees ons berig hier. Die Stelvio QV sal dieselfde 2.9 V6-enjin as die Giulia hê, net met vierwielaandrywing. Die Stelvio hou tans die rekord vir die vinnigste sportnutsvoertuig om die Nürburgring.

BMW X2 & M5
BMW se X2-kruismodel sal vanjaar in Suid-Afrika bekendgestel word. BMW se gewone enjins kan verwag word en pryse is nog nie bekend nie.

BMW se asemrowende M5 sal ook binnekort in Suid-Afrika bekendgestel word. Dit is die eerste keer dat BMW-vierwielaandrywing in hul hoëverrigting-sedanmotors sit. Dié M5 het reeds by renbane rekords verbeter as die vinnigste sedanmotor.

Ford Fiesta & EcoSport
Ford se Fiesta in sy huidige vorm is in 2012 al in Suid-Afrika bekendgestel. Die beperkte weergawe ST200 is ʼn fantastiese klein hot hatch. Die foto’s van die nuwe model lyk belowend, en Ford se enjins raap toekennings op sover hulle gaan.

Die Ford Eco-Sport het sedert 2013 indrukwekkende sukses behaal in Suid-Afrika. Daar is tot nou toe nie voorraad wat rondlê nie, en dit is puik vir herverkoopwaarde. Die tweede generasie lyk regtig netjies, en ons weet dit is ʼn wenresep.

Jaguar E-Pace
Jaguar se kompakte sportnutsmededinger sal vanjaar sy voete in Suid-Afrika vind. As mens na Jaguar se webwerf kyk, sal daar drie modelle beskikbaar wees, twee diesel en een petrol – almal met vierwielaandrywing.

Jaguar E-Pace (Foto: Jaguar)

Jeep Compass & Wrangler
Met ʼn onstuimige plaaslike mark het Jeep redelik swaargekry die afgelope paar jaar. Wisselkoerse is kwaai en dus is ingevoerde voertuie tans nogal duur. Jeep se Wrangler was nog altyd ʼn stapelmodel vir hulle en die nuwe Compass lyk regtig netjies, as die pryse reg is. Daar is glo nuwe dieselenjins in die Wrangler se toekoms, fantastiese nuus vir Wrangler-aanhangers.

Lexus LS
Die Lexus LS is Japan se idee van luuks. Die eerste LS is in 1994 in Suid-Afrika bekendgestel en ons het die nuwe Japannese luuksheid bewonder. Daar was ʼn paar vervelige modelle intussen, maar ʼn grootkop by Lexus het by die bekendstelling van die GS gesê dat daar nooit weer ʼn vervelige Lexus bekendgestel sal word nie. Die foto van die LS500h onder lyk belowend. Ons sien uit.

Die Lexus LS (Foto: Lexus)

Mercedes-Benz X-klas
Suid-Afrika is aan die gons oor Mercedes-Benz se nuwe bakkie. Die X-klas sal binnekort op ons paaie gesien word, en die bestanddele vir ʼn puik voertuig is daar. Die X-klas deel sy onderstel met Nissan se Navara en Renault se Alaskan wat ook moontlik SA sal bereik. Ek glo ʼn X350-dieselmodel sal die leefstylmark aan die brand slaan, ongeag die prys.

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes-Benz)

Nissan Micra
Nissan se Micra is een van daai stille ou getroues. Daar ry derduisende van die goedjies rond, en die nuwe ontwerp lyk fantasties. Kan die nuwe Micra ʼn beter mededinger wees vir VW se Polo en Ford se Fiesta? Ek kan nie sien hoekom nie, as hy só lyk …

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

Porsche 718 GTS
Dit is geen geheim dat al wat Porsche is my hoendervleis gee nie. Ek’s al bevoorreg om die 718 Boxster en 718 Cayman S te gery het. Die GTS het méér poeier. Die nuwe viersilinder-turbopetrolenjin voel soos ʼn bomklapper as jy die versneller in die mat begrawe. Ek kan nie wag om die nuwe model te bestuur nie, en teen R1 122 000 vir die Cayman en R1 137 000 vir die Boxster dink ek daar gaan heelwat van die buksies verkoop word. Eendag as ek groot is.

Die Porsche 718 GTS (Foto: Porsche)

Renault Mégane RS & Duster
In motorkringe is hot hatches ʼn reuseding. Die meeste ouens wat net begin bestuur, wil óf ʼn Ford ST, Golf GTi, Honda Civic Type R óf ʼn Renault RS hê. Die padhouvermoë van vorige Mégane RS’e het my verstom en die enjins trek soos ʼn lokomotief. As mens na die foto kyk, is die nuwe Mégane RS ook uiters mooi!

Die Renault Duster het nes Ford se EcoSport belaglike sukses in Suid-Afrika behaal. Mense hou van die waarde vir geld en veeldoeligheid wat die Duster bied. Die nuwe ontwerp lyk aantreklik. Ek glo dat Renault die pryse in ooreenstemming sal hou met die huidige model, en as die 1.5dCi-enjin beskikbaar is, sal dit weereens ʼn wenner wees. Kom ons hoop die gehalte skuif so ʼn stukkie vorentoe.

Suzuki Swift
Suzuki Suid-Afrika is op die kaart geplaas deur een model. Die Suzuki Swift. Dit is dié handelsmerk se brood en botter in Suid-Afrika. Die ontwerp van die gewone modelle lyk prettig, en die Swift Sport eintlik baie mooi en sportief. Suzuki bied tans eenvoudige, betroubare rygoed teen billike pryse. Kom ons hoop dit hou so aan met die nuwe Swift.

Die Suzuki Swift (Foto: Suzuki)

Volkswagen Polo, Tiguan All-Space & Arteon
Die nuwe Polo sal vandeesmaand in Suid-Afrika bekendgestel word. Polo is Suid-Afrika se gewildste kompakte luikrugmotor en verkoop derduisende elke maand. Ek glo nie daar sal veel aan die resep verander word nie. Daar is ʼn verskeidenheid TSI-enjins met handrat of outoratkaste. Ons sal voor maandeinde berig oor dié een.

Ek is ʼn groot aanhanger van Volkswagen se Tiguan. Dit is vir my tans die leier in daai segment. Ek het wel drie kinders en dus is daar net een ding wat ʼn Tiguan kan verbeter … sewe sitplekke. Welkom aan die Tiguan All-Space wat ons in 2018 in Suid-Afrika sal sien. Ek kan nie wag nie.

Die Volkswagen Tiguan All-Space (Foto: Volkswagen)

VW Arteon
By ʼn dinee verlede jaar het VWSA se uitvoerende hoof, Thomas Schaefer, gesê daar is geen rede hoekom SA nie die Arteon sou sien nie. Ek’t getwyfel. Groot VW’s het hul uitdagings met ons bakkiebehepte mark. Die voertuig lyk pragtig en ek is seker dit gaan lieflik ry, vir diegene wat nie ʼn bakkie of sportnuts wil hê nie.

Die Volkswagen Arteon (Foto: Volkswagen)

Volvo XC40
Ek het die XC40 in Kaapstad gesien tydens die Volvo Ocean Race. Ek glo dit is die enigste kompakte sportnutsvoertuig wat moontlik die Tiguan sal onttroon. Indien dit die geval is, sal dit die geleentheid wees wat moontlik vir Volvo die hupstoot sal gee wat hy lankal in Suid-Afrika nodig het. Daar sal aanvanklik petrol- en dieselmodelle beskikbaar wees. Pryse is nog nie heeltemal vas nie, maar Volvo mik vir net onder R500 000 vir die intreemodel. Dit is aggressief.

Die Volvo XC40 (Foto: Volvo)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wonder ·

Nou ja toe, sit ek nou die berig en lees, alles is goed en wel MAAR die Mercedes Benz X klas is nou nie die regte ding om te doen nie….en glad nie gedink dat Mercedes n hoogs gesiene motor vervaardiger na Nissan en Renault sal draai vir die onderstel nie. Mercedes het al vele karre gemaak wat dit jaar na jaar goed doen. Ag nee Mercedes. Die Navara is ook nou die beste ding na gesnyde brood nie. n Nissan en Renault met n Mercedes Badge op, Maar nou ja iemand sal hom koop…….net vir die status.

WILLIE ·

ek sien jy erken darem mercedes is n gesiene motor so maw hul ken motors so jy sou nie kon dink dat hul die beste sou gekies het nie het jy al een van die voertuie besit of het jou neef/tannie een besit hoekom nie jou naam noem nie

Jan ·

Gaan VW dan nie ook in 2018 die TRoc (Kleiner weergawe van Tiguan) in RSA bekend stel nie?

Brendon ·

Dagsê Jan,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek het juis vir VWSA gevra oor TRoc, en ongelukkig nie. Ons is net so opgewonde oor hom.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.