Nissan Almera dramaties beter

Nissan Almera Foto: Quicpic

‘n Mens kry amper die gevoel die Nissan Almera was maar nog altyd deel van ons motorbedryf – so amper iets soos die vaal BSc-niggietjie met die dik brillense.

Met die bekendstelling van die jongste Almera het Nissan baie moeite gedoen om hierdie vaal, vervelige beeld af te skud. Steeds is die Almera nie swymel-dramaties pragtig nie, maar spreek die ontwerp van goeie beplanning en ‘n praktiese, dog redelik aantreklike bak wat sin maak vir diegene wat streef na goeie waarde vir geld.

In die sogenaamde B-segment van die mark is die Almera Nissan se hoop op ‘n verbetering van sy verkoopsyfers en, gegewe die nuweling se spesifikasies, is die waarskynlikheid groot dat talle kopers bekoor gaan wees deur die Almera se stewige bougehalte, beskaafde padgedrag, fantastiese beenspasie agter en ‘n bagasiebak wat alles en nog wat moeiteloos sal verorber.

Dink bergfiets, gholfstel, ens – niks sal hierdie bagasiebak onderkry nie.

Alhoewel die Almera prysgewys binne-in die B-segment val, neig sy grootte hom om te wil vat-vat aan die volgende segment waar motors soos Toyota se Corolla en die Hyundai 130 tans die septer swaai.

As ‘n tipiese gesinsmotor is die Almera nie geposisioneer om met sportmotors saam te draf nie, maar die 1.5-literenjin lewer nogtans ‘n heel redelike 73 kW teen ‘n ietwat hoë 6 000 opm. Aandrywing in ons toetsmodel was na die voorwiele deur ‘n ietwat oudmodiese 4-gang ratkas. Bygesê, die skakeling was puik en moeitevry.

Daar was egter ‘n redelike variasie ten opsigte van die spoedmeter. ‘n Aangeduide 120 km/h was inderwaarheid net 114 km/h.

Teen R175 500 vir die outomatiese model kan kopers egter R10 500 spaar wanneer hulle die 5-spoed handratmodel kies.

Volgens die vervaardigers is die Almera uiters brandstof-doeltreffend. Verbruik vir die outokas is glo 7.2 liter/100 km, terwyl die handratmodel nog ligter is, nl 6.3 liter/100 km. Die handratmodel se uitlaatgastelling van 149 gm/km stel die regering in staat om ‘n verdere R2 479-50 (reeds ingesluit) by die prys te voeg, terwyl die outo-model se 171 gm/km vir ‘n verdere R4 360-50 meevallertjie vir die regime sorg.

Nissan-ingenieurs het ook daarin geslaag om ‘n nog stewiger bakwerk te ontwerp met onder meer klein detail-aspekte soos metaalvoue (crease lines) op die dak wat die voertuig nog meer rigtingvas maak en lae frekwensie klanke en vibrasies feitlik uitskakel. Hierdie ontwerp werk gewis, want die weeklange toetstydperk het uitgewys hoe stil en stewig die Almera werklik is.

Die binneruim is aantreklik sonder om oordadig te wees. Daar is kontroles op die goed gevormde stuurwiel en die agterste passasiers sal verheug wees oor die luginlate wat hulle self sal kan stel vir optimale gemak tydens lang ritte.

Soos dit ‘n goeie moderne motor betaam, het die Almera ook ‘n indrukwekkende reeks veiligheidskenmerke. Dit wissel vanaf sluitweerremme (ABS) tot elektroniese remverspreiding (EBD) en BAS (remhulp). En dan’s daar twee lugsakke en ISOFIX-hegpunte vir kindersitplekke.

Nissan se bedagsaamheid strek ook tot ‘n volgrootte noodwiel in die bagasiebak, 15″-allooiwiele, elektriese buitespieëls, selfkies-lugversorging en ‘n klankgetroue 4-luidspreker klankstelsel.

Die inligtingskerm vertel ook meer ten opsigte van twee ritmeters (gelyktydig), huidige en gemiddelde brandstofverbruik, beskikbare afstand volgens brandstofvoorraad en selfs diensinligting.

Maar ons Suid-Afrikaners wat hou van die buite-temperatuuraanwysings sal tevergeefs wonder hoe warm of koud dit buite is wanneer hulle met ‘n Almera ry.

Opsommend, dus: Die nuwe Almera is stewig, rammelvry met goeie padhouvaardighede en aantreklik sonder om pretensieus te wees.

Dis gewis ‘n groot verbetering op sy voorganger en sal, so vermoed ek, ‘n groot groep voornemende kopers lok.

Die nuwe Almera is gewis nie meer ‘n tipiese Hertz of Avis-motor nie. Daarvoor bied hy net te veel waarde vir sy prys/e.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.