Nissan wys beperkte weergawe van Qashqai

(Foto: Verskaf)

Die eerste kruismodel wat ek ooit onder hande gehad het, was Nissan se eerste Qashqai omtrent 12 jaar gelede, naamlik ʼn 2.0-viersilinderturbodiesel met 110 kW en ek onthou dat ek tóé al gewonder het hoekom enigiemand ʼn kruismodel sou koop – dis net ʼn luikrug met hoër vering.

Spring tot in 2020 en ek moet bieg dat ek steeds presies dieselfde voel. Die Qashqai ís inderdaad gewild en mense koop dit. Die nuwe Qashqai se ontwerp is vir my werklik mooi en die stuurwiel een van die bestes tans op die mark, maar dié spesifieke Qashqai word deur sy enjin en ratkas teleurgestel.

Die Nissan Qashqai 1.2T Midnite het ʼn 1.2-viersilinderturbopetrolenjin met 85 kW en 165 Nm wringkrag. Dít gepaard met ʼn palwisseltransmissie (CVT) is ʼn resep vir ʼn ramp. Ek sou sê dat dié CVT beslis een van die beter palwisselratkaste is wat ek onder hande gehad het, maar die 1.2’tjie met dié groot bakwerk sukkel om die mas op te kom.

Die binneruim bied sitplek vir vyf in redelike gemak en die kattebak is teen 430 ℓ nie te versmaai nie. Verder het die binneruim ʼn sterk spesifikasievlak met klimaat- en spoedbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs, Apple CarPlay en Android Auto. Heel goed.

Aan die veiligheidskant is daar ABS met EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer en ses lugsakke. Dit is goed, al sou ek stry dat die vastrapbeheer met hierdie flou enjin nooit gebruik gaan word nie. Op die pad toer die Midnite sag genoeg en die rit is heel billik. Die groot spieëls bied ʼn puik aangesig van wat agter die voertuig aangaan, maar dit veroorsaak heelwat windgeraas.

Dit is maklik om die Qashqai op te som.

Dit is ʼn billike gesinsbuksie as verrigting nié vir jou belangrik is nie, maar sy prys is wild.

ʼn Doodgewone luikrug soos VW se Golf 1.0 TSI Trendline-handrat bied dieselfde ruimte, maar ʼn baie beter rit en verrigting teen ʼn reusebesparing. As ʼn mens die kruismodel wil hê vir die grondvryhoogte, koop dan ʼn Renault Duster 4×4 óf Techroad-outo vir R120 000 minder.

Die reeks lyk só:

Nissan Qashqai 1.2T Visia85 kW/190 Nm6.2 ℓ/100 kmR408 400
Nissan Qashqai 1.2T Acenta85 kW/190 Nm6.2 ℓ/100 kmR440 200
Nissan Qashqai 1.2T Acenta outo85 kW/165 Nm6.2 ℓ/100 kmR461 300
Nissan Qashqai 1.2T Midnight Edition85 kW/165 Nm6.2 ℓ/100 kmR480 800
Nissan Qashqai 1.5dCi Acenta Plus81 kW/260 Nm4.2 ℓ/100 kmR492 400
Nissan Qashqai 1.2T Tekna85 kW/165 Nm6.2 ℓ/100 kmR508 400

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan.

Die mededinging lyk só:

Volkswagen Golf 1.0TSI Trendline81 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R344 100
Renault Duster 1.5dCi TechRoad outo80 kW/250 Nm4.8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R361 900
Hyundai Creta 1.6 Executive Limited Edition outo90 kW/150 Nm8.4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R408 500
Hyundai Kona 1.0T Executive88 kW/172 Nm6.8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R414 900
Toyota Corolla 2.0 XR125 kW/200 Nm6.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6-dienste-diensplan

R420 500
Suzuki Vitara 1.4T GLX outo103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R426 900
Ford Kuga 1.5T Ambiente110 kW/240 Nm6.2 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-

waarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

R433 500
Toyota Rav4 2.0 GX127 kW/203 Nm6.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6-dienste-diensplan

R454 500

Ek het spesifiek hier ʼn paar mededingers – soos die Golf en die Corolla – bygevoeg wat nie regstreeks met die Qashqai meeding nie.

Dáái twee karre is amper perfek, een ʼn luikrug en die ander ʼn sedan – albei vir ʼn reusebesparing teenoor die Qashqai.

Indien die begroting knap is, bly die Duster my keuse. Boaan dié prysklas is die Rav4 en Kuga albei puik – maar die grootste verrassing kom by die Vitara. Die 1.4-Turbo trek puik, én dit is baie lig op brandstof – vir ʼn R54 000-besparing oor die Qashqai.

In die prysklas kan ʼn mens amper enigiets koop – gaan ry hulle almal net eers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harry ·

Jou syfers op die 2L diesel is verkeerd, dit is 110kw nie 103 nie, ek ry enige tyd hierdie Qashqai voor ek enige van daai ander stukke goed ry, weereens word Nissan se voertuie afgeskied deur mense wat bevooroordeeld is, los Nissans uit dis uitstekende voertuie

Brendon Staniforth ·

Dagsê Harry

Baie dankie vir jou kommentaar. Jy is inderdaad reg, dit was 110 kW. Jammer vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.