Nóg ʼn markleier vir Toyota

Die Toyota RAV4. (Foto: Verskaf)

Ons het ʼn geruime tyd terug die bekendstelling van die Toyota RAV4 bygewoon. Ek was aanvanklik beïndruk – maar het ʼn paar van my bekommernisse vir eers vir myself gehou. Ek wou sien hoe die nuwe RAV4 hom gedra in die dag-tot-dag‑roetine, en nie net op ʼn pragtige N2 in die noorde van KwaZulu-Natal nie.

Twee dinge staan vir my uit. Die atmosferiese 2.5‑viersilinderenjin is regtig sterk, ʼn mens moet net die omwentelinge gebruik, soos by enige atmosferiese enjin. Tweedens, dáái enjin, saam met Toyota se 8-spoed‑wringkragomsitter‑outokas is verbasend goed. Nie nét met verrigting nie, maar ook wat brandstofverbruik betref. Ek het dit al ʼn klomp keer gesê – ouer viersilinders bó twee liter was altyd maar verskriklik swaar op brandstof. Nie meer nie. Ons het tydens ons toets met die RAV4 ʼn indrukwekkende 8,7 ℓ/100 km gehandhaaf. Dit is ʼn bietjie dorp, ʼn bietjie snelweg, die skoolroete en so meer.

Die binneruim van die Toyota RAV4 is baie luuks. (Foto: Verskaf)

Die ontwerp van die nuwe RAV4 is regtig aantreklik. Ek wil nie sê mooi nie – hy’s meer manlik as dit, veral die 2.5 met sy groot wiele. Die binneruim is baie luuks met sitplekverwarmers, leerbekleedsel, klimaat‑ en spoedbeheer, digitale instrumente, outomatiese ligte en ruitveërs en ʼn magdom veiligheidstelsels. Daar is sitplek vir vyf met goeie beenruimte vir agterste passasiers. Die kattebak is ook lekker groot vir ʼn middelslagsportnutsvoertuig.

Op die pad voel die nuwe Toyota RAV4 verbasend gemaklik. Die vering is soepel genoeg dat die groot wiele nie die rit ongemaklik maak nie. Daar is terselfdertyd ook nie enige verskriklike bakrol om oor te kla nie. Die 2.5 het vierwielaandrywing. As ʼn mens op ʼn grondpad ʼn bietjie haastig raak, is daar ʼn skerm wat jy op die instrumentpaneel kan kies wat vir jou wys waar die wringkrag versprei word. Dis indrukwekkend om te sien en dán onder jou bas te voel hoe die stelsel werk.

Die ontwerp van die nuwe RAV4 is regtig aantreklik. (Foto: Verskaf)

Die RAV4 word nou ook op Toyota se TNGA (Toyota New Global Architecture)–platform onderskryf. Dus kan Toyota baie slim word met hoe rigied hulle die onderstel en bakwerk kan kry, terwyl hulle ligter materiale gebruik. Nóg ʼn goeie punt is sodra voertuie platforms deel, is daar ʼn allemintige kostebesparing. Dán kan vervaardigers meer slimtegnologieë en veiligheidstelsels in die voertuie sit sonder om die prys té erg te beïnvloed.

Die 2.5 VX kry vir die eerste keer Toyota se veiligheidstelsel (safety sense). Dit is verskeie stelsels wat met mekaar saamwerk. Daar is aanpasbare spoedbeheer, baanwaarskuwing met stuurbeheer, blindekolmonitering en botsingwaarskuwing. Dié stelsels saam met die passiewe veiligheidstelsels soos lugsakke, ABS en so meer hou jou uiters veilig in jou RAV4.

Op die pad voel die nuwe RAV4 baie moderner as sy voorganger. Die atmosferiese enjin is vir my aantreklik as ʼn mens hom nog ná die waarborg wil besit omdat dit goedkoper sal wees om te onderhou as ʼn turboaangejaagde enjin. Die nuwe 2.5‑enjin bied 152 kW en 243 Nm en kan so min as 7,3 ℓ/100 km gebruik. Dis maklik om te sien hoekom die RAV4 nou weer die markleier is in dié segment.

Die reeks lyk só:

Toyota RAV4 2.0 GX handrat127 kW/203 Nm6,7 ℓ/100 kmR423 500
Toyota RAV4 2.0 GX CVT127 kW/203 Nm6,5 ℓ/100 kmR434 800
Toyota RAV4 2.0 GX-R CVT AWD127 kW/203 Nm6,8 ℓ/100 kmR516 100
Toyota RAV4 2.0 VX CVT127 kW/203 Nm6,5 ℓ/100 kmR513 400
Toyota RAV4 2.5 VX 8AT AWD152 kW/243 Nm7,3 ℓ/100 kmR586 500

Die reeks word gedek deur Toyota se 3 jaar/100 000 km‑waarborg en 6 dienste/90 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Kia Sportage 2.0 CRDi EX AWD131 kW/400 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R554 995
Mazda CX-5 2.5 AWD Individual143 kW/258 Nm7,3 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km‑waarborg

3 jaar/onbeperkte km‑diensplan

R569 100
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 4Motion Highline162 kW/350 Nm7,8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R592 100

Die drie mededingers én die RAV4 is regtigwaar puik voertuie. Elkeen verskil ʼn bietjie. As ʼn mens hom lank gaan ry, sou ek waarskynlik die RAV4 kies. Indien jy een soek wat kan loop asof sy broek aan die brand is, moet jy na die Tiguan kyk – hy’t ʼn GTI‑enjin in. Gaan ry almal, één gaan met jou hart praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lou ·

Na my mening is die Mazda en Kia beter waarde vir jou geld as die Rav.
Hulle is goedkoper, ligter op brandstof, bied beter waarborge en diensplanne en het meer wringkrag vir die manne wat ‘n wa of boot wil sleep.
Toyota het net die naam en betroubaarheid reputasie wat in hulle guns tel.

Piesang ·

Wonder of die nuwe reeks ook so vol rattles is soos die vorige… Myne ingeruil op ‘n Mazda CX5. Wat ‘n aangename verskil!

Andre ·

Dis jammer die soliede en betroubare Honda CRV word nie as n mededinger beskou nie.

Brendon ·

Dagsê Andre,

Baie dankie vir jou kommentaar. Die allewielaangedrewe Honda CR-V is R671 000 – heeltemal uit dié segment geprys. Dit is hoekom ek hom nie ingesluit het nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Juan ·

Ek is van mening dat die 2019 Subaru Forester beter waarde vir geld bied en mededingende spesifikasievlakke het. Die intreemodel is R438 000 met dieselfde spesifikasievlakke as die RAV4 GX R_ AWD vir R516 000. Selfs die top spesifikasiemodel van Subaru is goedkoper as die RAV4 GX R. Subaru word ook as betroubaar gereken en kan gemaklik kersvashou met die RAV4 en die ander mededingers.

Haaskaas ·

Ek het die nuwe RAV gaan toets bestuur, was glad nie beindruk nie. Enjin is baie raserig, en rit is baie hard vergelyking met kompetisie. 8 spoed automaties ook nie beste wat ek al gery het nie. Die “adaptive cruise control” werk ook nie so goed in verkeer nie. Die RAV 4 doen als middelmatig maar niks besonders nie. Dis ‘n jammerte.

koos ·

Ja Nee, ek kan nie fout vind met die Toyota nie, maar ek kan net nie verby die reguit wielboë kyk nie. Dit lyk vir my soos ‘n eerste generasie Kia Sportage. Ek is seker dit sal sommige kopers nie pla nie en ander sal daarvan hou, maar nie ek nie.
Net daarvoor sal ek my geld aan Mazda aanbied.

Sakkie ·

Hoekom wys jy die top modelle se pryse van Kia / Mazda /VW, maar al die modelle van Toyota. Dit skep mos nou die verkeerde indruk dat Toyota baie goedkoper is as ander voertuie in dieselfde segment. En probeer bietjie ‘n intree vlak Toyota koop. Hulle het nooit voorraad nie, en jy moet altyd vir maande wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.