Nostalgie en die Swart Kewer

Swart Kewer

Foto verskaf aan Maroela Media

Deur Handré Brand

Nostalgie is die sentimentele verlange na ʼn geromantiseerde tydperk in die verlede. Die teruggryping na ervarings of gebeurtenisse van eertyds kan gesond en positief van aard wees en selfs terapeutiese waarde inhou, soos die skryf van outobiografieë asook die verwoording van vorige lewensgebeurtenisse tydens persoonlike konstrukterapie.

Indien nostalgie egter oordrewe is, herhalend voorkom en van sodanige aard is dat ʼn demper op interpersoonlike kommunikasie geplaas word, het ons met ʼn heel ander scenario te make wat in sekere omstandighede as nostomanie bekendstaan (nostos is Grieks vir terugkeer na die oorsprong). Hierteenoor kan dit natuurlik ook gebeur dat ʼn persoon geensins ʼn behoefte het om gebeurtenisse uit die verlede te herbesoek nie.

Die eerste motor in ʼn eienaar se lewe sou ʼn oorsaaklike bron van gesonde nostalgie kon wees. In my geval was dit ʼn swart 1959 Volkswagen-kewer (1,2 liter of 1 192 cc), met ʼn linkerhandstuur en seildakkie (sunroof) wat soos ʼn konsertina se blaasbalk na agter skuif om netjies op te vou. Dit was ʼn privaat koop en ʼn gelukskoot omdat ek die eienares van die kewer (wat langs ons motor voor die Strand se Koöperasie geparkeer was) op die ingewing van die oomblik gevra het om die motor aan my te verkoop. Met my pa se bemiddeling later is die aankoopprys op R500 vasgestel, wat terugbetaalbaar sou wees sodra ek my eerste betrekking beklee en ʼn salaris verdien.

Die kewer was ʼn ingevoerde produk en sy spoedmeter was in kilometer afgemerk, wat vir my uniek was omdat myl per uur destyds die standaard in Suid-Afrika was. Sy 6 volt-kopligte het op die skerpverstelling min impak teenoor die kopligte van aankomende verkeer gehad, en daar was oranje armpies wat weerskante soos pyltjies uitgeskiet het om die draairigting van die voertuig aan te dui. ʼn Spaar-brandstoftenk wat met ʼn metaalstaaf en ʼn voetaksie in werking gestel is en genoeg brandstof voorsien het om ongeveer 10 kilometer na die naaste vulstasie af te lê, was ʼn bate vir ʼn student met ʼn beperkte begroting.

Die kewer was effens “lighoofdig” omdat die masjien agter gemonteer was, maar ʼn halfgevulde sandsak onder die kattebakdeksel aan die voorkant was die regte oplossing om sy kop met die suid-oostewind direk van voor in die pad te hou.

Die linkerhandstuur het vanselfsprekend meer nadele as voordele ingehou. Veral indien stadiger motors van agter verbygesteek moes word, was die uitsig na regs versper. Die passasier se oordeel of verbygesteek kan word, was soms die enigste oplossing. Hierdie spesifieke kewer se regterkantste deur was geneig om vanweë die momentum by tye vanself oop te swaai indien ʼn redelike spoed na links gedraai word. Die gevolg was dat die bestuurder vinnig en instinktief na regs bo-oor die passasier moes oorleun om die deurhandvatsel  te gryp en die deur weer toe te pluk. Die voordeel van hierdie metode was natuurlik dat sommige passasiers met voorbedagte rade van naderby leer ken kon word.

In sekere omstandighede kan gesonde nostalgie en sentimentaliteit wel waarde toevoeg tot ʼn individu se huidige ervaringswêreld en funksionering, en die eerste voertuie van eienaars speel waarskynlik ʼn belangrike rol as stimulus in hierdie verband.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Motors, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae