Nou het Zontes ’n fiets vir elke smaak

Die Zontes 310-V. Foto: Brian Cheyne

Zontes het so pas ’n vierde model by hul 310-reeks gevoeg: die 310-V. As ʼn mens na stilering kyk, is hierdie klein fietsie, in my opinie, die treffendste van die vier.

Zontes is besig om bestendig in die Suid-Afrikaanse mark te groei. Hulle luister ook na klante se terugvoer . Een van my grootste probleme met die vorige fietsies was die remme. Ek het in beide die 301-R- en 310-X-toetse opgemerk hoe sponserig die remme voel. Dit neem ’n tydjie om aan die gevoel gewoond te raak. Ek kan nou maar daardie kritiek van die lysie skrap. Die 310-V het groter skywe voor en agter en nuwe Bosch-elektronika. Die verbetering is merkbaar.

Die Zontes 310-V. Foto: Brian Cheyne

Naas die remme is die grootste verbetering sekerlik die instrumentasie. Alhoewel die 310-X en 310-T ’n groter instrumentpaneel as die 310-R het, was dit steeds ’n vloeikristal-eenheid. Die 310-V het nou ’n volkleur TFT-skerm wat hordes beter is as die vorige model. Jy kan uit vier temas kies wat die skermuitleg verander. Daar is ook ’n Bluetooth-opsie, so ek neem aan dat jy die fiets met jou foon kan koppel vir verdere verstellings.

Die stilering van die 310-V herinner my aan die Ducati Diavel. Daar is selfs die kort rugstut op die passasiersitplek wat duidelik geïnspireer is deur die Diavel. Die agterband is heelwat dikker as op die ander modelle. Jy sit laag in die fiets met jou voete vorentoe.

Die Zontes 310-V. Foto: Brian Cheyne

Die voetrusse is verstelbaar om selfs die langstes onder ons gemaklik te laat sit. Die kort uitlaatpypie kom net onder die agterste swaaiarm uit. Dit is nou wel net ’n plastiekomhulsel om die regte uitlaatpyp, maar dit dra dit by tot die karakter van die V.

Daar is ’n gat in die swaaiarm wat die illusie skep dat dit die hegpunt van die swaaiarm is, maar die swaaiarm heg heelwat verder vorentoe. Met die lang swaaiarm en die lae saal is die agterste vering hard met baie min speling en jy is deeglik bewus van die geringste knikkie in die pad. Die ryposisie is egter baie gemaklik, die harde vering ten spyt.

’n Ander interessante detail is die agterste voetrusse. Hulle is in die bakwerk geïntegreer en swaai uit wanneer nodig.

Die Zontes 310-V. Foto: Brian Cheyne

Die verrigting van die 310-V het ook nie teleurgestel nie. Dit is presies dieselfde 312 cc-eenheid wat in  die ander fietse diens doen en soos ek reeds berig het, hoef die Zontes nie ʼn aks terug te staan vir die ander 300 cc-fietse nie. Die versnelling is heel goed en die 310-V hou gemaklik by die verkeer, selfs op die snelweg. Die fiets sal daarom ’n heerlike pendelfiets uitmaak. Daar is geen windbeskerming nie, maar met so ʼn klein fiets sal jy uit stoom uit hardloop voor die wind lastig raak.

Hierdie model sal later die jaar beskikbaar wees en die prys is nog nie vasgestel nie. Of jy nou hou van kaalfietse, of fietse met bakpanele, of selfs ’n avontuurfiets soek, Zontes het ’n fiets vir enige smaak. En met die V het jy nou net nog meer keuses.

Die feite:

Enjin312 cc-enkelsilinder
Gewig (droog)157 kg
Kraglewering26 kW @ 9 500 r.p.m.
Wringkrag30 Nm @ 7 500 r.p.m.
Tenkkapasiteit15 ℓ
Saalhoogte720 mm

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adriaan ·

Adjustable mono shock would be much beter and are more up to date. Love their style. Pity Honda SA does not bring the CB 300F or CB 300R 2020 models to South Africa i know the previous models did not sell well here but the 2020 are way beter. If you snooze you loose! Well done Zontes Google and read review where they did test all the brand names with in the 300+ cc class bikes in SA you will be surprise like the BMW 310 still not have led lights. Makes you think and they are build in China although German spec like Audi TT build in Hungarian factory.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.