Nuwe ‘geen nonsies 4×4’ onthul

Die Ineos Grenadier. Foto: Verskaf

Ek het al oor die jare ʼn klomp stories gehoor van die dingetjie of daai dingetjie wat iewers in ʼn oom se werkkamer gebore is. Ongelukkig is dit nooit gepatenteer nie … so hy is sy miljoene kwyt.

Hier dink ek daar gaan wel iets besonders gebeur. ʼn Tydjie terug, in die Grenadier-kroeg in Londen, het Jim Ratcliffe, voorsitter van Ineos, ʼn chemiese maatskappy, ʼn gaping in die mark gesien vir ʼn geen nonsies 4×4. Só is Ineos Automotive Limited gebore … en die res is amper geskiedenis.

Maroela Media was gelukkig genoeg om onlangs tydens ʼn digitale onthulling, en ʼn bitter streng embargo, die finale ontwerp van die splinternuwe Ineos Grenadier te sien. By die eerste oogopslag is dit ʼn jonger tweelingboetie van die Land Rover Defender 110.

Die Ineos Grenadier. Foto: Verskaf

As ʼn mens ʼn bietjie nader kyk, dan begin die etos van die hele projek homself wys. Daar was ʼn paar pilare wat Ineos by wou hou. Ontwerp, duursaamheid, betroubaarheid en 4×4-vernuf. Om dit te behaal het hulle ʼn wiel in elke hoek nodig, permanente vierwielaandrywing met ʼn laestrek ratkas, ʼn leerraam met soliede dryfaste voor en agter en drie ewenaarslotte, agter; middel en voor. Sjoe.

Die Grenadier moes ook klasleidende 4×4-vermoë hê, ʼn ton kan dra, 3,5 ton kan sleep, gemaklik wees met ʼn moderne binneruim – o, en jy moet hom met ʼn tuinslang kan afspuit binne en buite. Hier is waar dinge vir my fantasties raak. In Ineos se eie woorde: “There needs to be an element to ensure ease of repair”. Dit sê vir my, dié ingenieurs wil hê ʼn mens moet die Grenadier vat op daai trippie, en ja – hy gaan seerkry, maar dis oukei – hy kan maklik herstel word.

Die Ineos Grenadier. Foto: Verskaf

Toe hulle eers my aandag het, toe begin die vrae vloei. Enjin? Ratkas? Goeie nuus aan albei fronte. Ineos het hande gevat met BMW vir enjins en sal gebruik maak van hul inlyn-sessilinder petrol- en dieselenjins. Dié enjins sal gepaardgaan met ZF-ratkaste. Volgens my is daar tans nie beter diesel enjins óf ratkaste daar buite nie. Mooi.

Dit is nog omtrent 18 maande voor die Ineos Grenadier in volle produksie in gaan. Hulle sal tussen nou en dán in Suidelike Afrika wees vir toetsing en dalk sal ons moontlik ons hande dán op hom kry. Hulle toetsing sal binnekort 1,8 miljoen km haal – maar nou moet hulle bewys hoe taai die Grenadier is.

Die Ineos Grenadier. Foto: Verskaf

Ek druk toe vir Mark Tennant, kommersiële direkteur van Ineos Automotive, om vir my te sê waarnatoe hulle mik in terme van die prys. Hy het dadelik geantwoord en gesê hulle wil hom bereikbaar hou, maar dit sal nie goedkoop wees nie. Hulle hoop om hom net-net binne die bereik van die top-dubbelkajuitmanne te plaas, maar niks só verregaande soos Mercedes-Benz se Gelandewagen nie. Dis goeie nuus.

Daar moet nog baie water in die see loop, en hul gaan nog met elke land se invoerbelasting en wisselkoerse te doen kry – maar ek wens vir Ineos al die sterkte toe. Dit is ʼn eerlike produk, met ʼn spesifieke teikenmark in gedagte – hulle moet volstoom gaan daarvoor. Hulle sal reeds Suid-Afrikaners in hul sakke hê – want die leerraam stel homself in staat vir verskeie bakstyle – en daar sal ʼn dubbelkajuit wees.

Ineos het die Grenadier ontwerp sodat dit maklik aanpasbaar is vir elke kliënt se behoeftes. Ekstra bedrading vir yskaste, monteringspunte vir dakrakke en jerry-kanne – ek persoonlik kan nie wag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Ek hoop hy gaan soos volg wees:
Geen elektriese vensters
Viniel kajuit en sitplekke (geen matte of leer nie)
Geen lugsakke (opsioneel dalk)
Geen ingeboude GPS (dit maak n voertuig net R10,000 duurder). Jy kan jou eie GPS vir R1500 teen die ruit vasplak.
Dieselenjin wat op 500ppm kan loop.

M.a.w. soos n ouerige cruiser.

Anoniem ·

Ai Gysbert, ek was opgewonde totdat ek by die BMW enjin gedeelte gekom het. Dis die tipe ryding waarna baie van ons smag, laekoste, geen tierlantynjies, harde ryding. Solank hy net lugreëling het vir Namibia en Botswana.

Hugo ·

Gysbert ek stem saam met jou solank hulle die elektroniese ekstras so min as moontlik hou gaan hierdie moontlik n besonderse voertuig wees. Gaan kyk gerus op youtube die videos oor die ontwerp van die onderstel, suspensie ens en jy sal sien hierdie ouens is op die regte pad – hulle gebruik net die beste van al die vervaardigers. In antwoord op Manie se reaksie op jou kommentaar – ek dink nie hy moet die reguit 6 BMW engine afskiet nie, daai engin kan 500 000 km maklik doen as dit ordentlik na gekyk word en ek vermoed dit gaan n baie “down specced” masjien wees met baie minder elektronika met bv, slegs een turbo en n laer druk diesel sisteem. So jy sal nie die syfers van die huidige 3 liter diesel sien nie, maar iets baie meer robust met bv. 450 nm ipv. 650 nm. En daai ZF ratkaste is onverbeterlik in elk geval. Dis die gevoel wat ek kry oor die denke agter die voertuig in elk geval…..

Leon ·

Ek skat seker so 1,2 tot 1,5 miljoen rand? Kan nie goedkoper nie want dit is Britse Pond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.