Nuwe gesigte en kragbronne vir Mitsubishi Triton-reeks

Mitsubishi Triton

Mitsubishi Triton

Mitsubishi se Triton-dubbelkajuit- en Club Cab-modelreekse is pas verfris met enjinopgraderings, nuwe stilering binne en buite, en verbeterde spesifikasies.

Die belangrikste opgraderings ten opsigte van standaardtoerusting in sekere modelle, veral die Club Cab-weergawes, is in ooreenstemming met Mitsubishi Motors SA se strategie vir waarde vir geld. “Die Club Cab-segment, net soos die dubbelkajuitsegment, is gerig op die lewensstyleienaar, en ons moet meer vir dieselfde prys aanbied,” sê Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van Mitsubishi Motors SA.

Die verfrissing van die Triton-reeks volg op dié van die nuwe Pajero Sport, wat aansienlik meer waarde bied, en dit is duidelik dat Mitsubishi daarna streef om sy produkte nog meer aantreklik te maak vir mense op soek na ‘n voertuig van ‘n lang gevestigde handelsmerk, met ‘n bewese rekord vir gehalte, betroubaarheid en duursaamheid.

Die Triton het ‘n veiligheidselkajuit, lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier, en sluitweerremme (ABS) met elektroniese remkragverspreiding. Dit is bo en behalwe die RISE-bakbeskermingstelsel, wat buitengewone beskerming aan die insittendes bied. Tesame met ‘n ekstrageharde onderstel is die Triton ‘n bakkie vir alle toestande.

Al die Triton-modelle het ‘n vyfganghandratkas.

Die reeks word aangevul deur die enkelkajuite, waarvan die geharde, werkgerigte bougehalte ‘n mens laat terugdink aan die legendariese Mitsubishi Colt-reeks. Die enkelkajuite is verkrygbaar met die bewese 2,4 liter-petrolenjin met ‘n lewering van 97 kW krag en 202 Nm wringkrag, en die 2,5 liter-diesel, wat ook in die Club Cab ingespan word.

Daar is drie enkelkajuit-weergawes: GL en GLX met die petrolenjin en ‘n GLX met die dieselkragbron. Hierdie modelle is die werkesels van die familie,met vinielafwerking, maar met lugsakke as standaardtoerusting, en met uitstekende pryse. Die deftiger modelle spog met lugversorging, elektriese ruitverstelling en sentrale sluiting. Die enkelkajuite het ‘n vragvermoë van ‘n volle 1 000kg op ‘n enorme laaibak met afmetings van 2 220mm lank, 1 750mm breed en 405mm diep.

Die dieselaangedrewe Mitsubishi Triton 4×4-bakkie het ‘n aansienlike hupstoot gekry wat krag en wringkrag betref. In ooreenstemming met globale omgewingsneigings is die verplasing van die tussenverkoelde turbodieselenjin van 3,2 liter tot 2,5 liter verminder. Desnieteenstaande is die enjinkrag met 9% verhoog van 120kW tot 131kW en die maksimum-wringkrag met 17% van 343 Nm tot ‘n massiewe 400 Nm.

Die 4×4-stelsel, wat homself al oor die strafste terrein bewys het, is ook opgegradeer. In normale omstandighede is aandrywing via die agterwiele, maar die Triton-Dubbelkajuit 4×4 kry nou ‘n sluitbare middelewenaar plus skakeling in die ry. Die bestuurder kan, sonder dat die ewenaar gesluit is, van die standaard-4×2-modus (vir brandstofekonomie) na 4H oorskakel tot by snelhede van 100km/h. Dit vul die sluitbare agterewenaar en die laagstrekratkas aan. Al hierdie stelsels gee aan die Triton 4×4 ‘n ongeëwenaarde vermoë in die veld.

Die vierwieldryfstelsel word beheer deur Mitsubishi se Super Select-stelsel, wat die bestuurder ‘n keuse tussen vier verskillende oordragmodusse gee, afhangende van die terrein, en die modusse kan in die ry geskakel word. Die bougehalte is tipies van die Japanse handelsmerk en selfs oor die strafste terrein is die kajuit stil en ratelvry.

Die Triton-dubbelkajuit 4×4 word verder onderskei aan sy 17 duim-allooiwiele en 245/65R17-bande. Die ander modelle het 16 duim-wiele. Die dubbelkajuit 4×4 het ‘n sleepvermoë van tot 1 500 kg (sleepwa met oorslagremme). Van die nuwe spesifikasies vir die dubbelkajuit sluit in enkelsone-klimaatbeheer, herhaalflikkerliggies in die kantspieëls, nuwe allooiwiele, opgegradeerde skyfremme voor en remtrommels agter, ‘n nuwe sierrooster en voorbuffer en kleurgepaste wielboë.

Wat die kajuit betref, sluit die Triton hom nou aan by die geledere van luukse-dubbelkajuitbakkies. Leersitplekke, klimaatbeheer en uitstekende klankisolasie maak lang ritte ‘n plesier. Snelheidsbeheer en ‘n driespeek-leerstuurwiel met veelfunksieskakelaars vir die klankstelsel, snelheidsbeheer en Bluetooth bring die Triton op een vlak met die ander luuksevoertuie in Mitsubishi se produkreeks. Die Mitsubishi Link-stelsel, wat stembeheer van die stelsel moontlik maak, is ook standaard.

Dit sluit aan by die multi-inligtingvertoon, wat hoogte bo seevlak, temperatuur, brandstofverbruik en reikafstand aandui. En dan is daar ook ‘n kompas.

Die dubbelkajuit het steeds ‘n vragvermoë van 1 000kg – ‘n volle ton – en ‘n ruim laaibak met afmetings van 1 352mm lank, 1 470mm breed en 860mm diep.

Van die belangrike spesifikasie-opgraderings vir die Club Cab sluit in Bluetooth, klank- en foonkontroles aan die stuurwiel, stembeheer vir die foon en die nuwe voorkant.

Die Club Cab is net met dieselkrag verkrygbaar. Dit is in ooreenstemming met die vraag in die mark, waar meer as 85% van die modelle dieseleenhede is. Die Club Cab is nou ook verkrygbaar in ‘n weergawe met opsionele agtersitplekke. Die Club Cab-reeks het ‘n soortgelyke opgradering in standaardeienskappe as die dubbelkajuite gekry, behalwe dat hierdie modelle materiaalsitplekke het.

Loopkoste speel deesdae ‘n belangrike rol in koopbesluite. Die Mitsubishi se loopkoste werk uit op omtrent 27 sent per kilometer tot en met 180 000km – wat die Triton ‘n bekostigbare opsie maak vir vlote sowel as besighede.
Al die Triton-modelle word gedek deur ‘n waarborg van 3 jaar/100 000km.
Enkelkajuit-diensplan 5 jaar/75 000km – Petrol
Enkelkajuit-diensplan 5 jaar/70 000km – Diesel
Club Cab-diensplan 5 jaar/100 000km
Dubbelkajuit-diensplan 5 jaar/100 000km – Diesel
Dubbelkajuit-diensplan 5 jaar/90 000km – Diesel 4×4
(Sodra Maroela Media Motors een van hierdie nuwelinge onder hande gehad het, sal ons ons lesers volledig inlig ten opsigte van ons bevindinge)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.