Nuwe Honda Africa Twin ’n ongelooflike fiets

Die nuwe Honda Africa Twin. Foto: Verskaf

In 2016 het Honda sy ikoniese Africa Twin-naam laat herleef in die CRF 1000L.

Hoewel die oorspronklike Africa Twin ’n V-twee enjin- konfigurasie gehad het, het Honda die nuwe een toegerus met ’n parallel-tweesilinderenjin met ’n kapasiteit van 998 cc.

Sedertdien is daar sowat 87 000 Africa Twins wêreldwyd verkoop en hier in Suid-Afrika is dit een van Honda se top-verkopers. Aan die einde van 2018 het die reeks ’n klein opkikkering gekry en ek het vroeër die opgedateerde Adventure Sports-model beproef. Hierdie model was gemik op langpadtoer en was toegerus met ’n baie groter brandstoftenk.

Honda het in November 2019, net voor die EICMA-motorfietsskou in Milaan, sy splinternuwe Africa Twin en Africa Twin Adventure Sports aangekondig. Hierdie fietse is nou plaaslik bekend gestel en Honda het ons genooi om te kom oornag naby die Gerotek-fasiliteit. Die bekendstelling is onder die sterre gedoen en die 2019 Honda Quest-wenner, Mojaki Rammoneng, het ons ook vertel van sy ervarings tydens hierdie besonderse wedren.

Die nuwe Honda Africa Twin. Foto: Verskaf

Die fietse staan nou bekend as die CRF 1100L Africa Twin en die CRF 1100L Africa Twin Adventure Sports. Dit is ’n redelike mondvol, so ons het sommer verwys na die “klein tenk” en “groot tenk” omdat die standaard fiets ’n 18 ℓ-brandstoftenk het en die Adventure Sports ’n 24,8 ℓ-tenk.

Dié van julle wat goed was met begripstoetse sal aflei van die naam dat die kapasiteit van die nuwe fiets gegroei het tot ’n 1 100. Wat my egter opgeval het, is dat die fiets self kleiner is as sy voorganger. Honda het blykbaar besluit dat groter nie noodwendig beter is nie. Die fiets is kleiner, ligter en het meer krag.

Verder is daar groot verbeteringe aan die elektronika aangebring. In plaas van die klein vloeikristal-instrumentepaneel van die vorige model is daar nou ’n ordentlike 6,5” TFT-skerm. Omdat die Africa Twin as ’n toerfiets ingespan behoort te word, is spoedbeheer nou standaard op albei modelle. Albei modelle is beskikbaar met ’n tradisionele ratkas of die dubbelkoppelaar-outokas (DCT).

Die nuwe Honda Africa Twin. Foto: Verskaf

Ná ’n vroeë ontbyt is ons geneem na Gerotek wat as basis sou dien vir die dag se ryery. Die dag het begin op een van Gerotek se kort bane. Hier kon ons die padmaniere van die nuwe modelle ervaar. Die baan het baie kort draaie en na so ʼn paar rondes het die pas al vinniger geword. Enige kritiek wat ek ooit oor die DCT-ratkas gehad het, is nou tot ruste gelê. Die laaste keer wat ek my stewels op die teerpad geskuur het, was ek op ’n Harley. Ek het nie verwag om dit op ’n dubbeldoel-fiets reg te kry nie. Die DCT laat jou toe om net op die draaie te konsentreer.

Die saal is 40 mm nouer as die vorige een en dit maak dat jy voel of jy ín die fiets sit eerder as bo-op hom. Die hantering was uitstekend, selfs met die 21”-voorwiel. Daar was ook ’n fiets wat toegerus was met snelskakeling en hoewel sy klankbaan heelwat beter geklink het, het ek steeds die DCT verkies.

Na die baansessie het ons uit die fasiliteite uitgery op die openbare pad, en hier het ek weer die Adventure Sports geniet. Dié fiets het ’n groter skerm en elektroniese vering wat jy kan stel na gelang van die vrag wat hy moet dra. Honda het vir ons een van die Adventure Sports toegerus met ’n vol stel tasse en ek dink nie ek sal huiwer om baie ver te ry met een van hulle nie.

Die nuwe Honda Africa Twin. Foto: Verskaf

Die TFT-skerm laat jou toe om die elektronika van die fiets tot in die fynste te verstel. Dit is nou ’n raakskerm, hoewel al die verstellings steeds van die tradisionele kontroles op die linker handvatsel gedoen kan word. Dit is ook toegerus met Apple CarPlay. Daar is vier voorafopgestelde ryprogramme en die ryer kan ’n verdere twee opstel na eie voorkeur. Daar is selfs nou ’n verstelling wat keer dat die voorwiel te veel lig onder harde versnelling.

Die tweede deel van die dag het bestaan uit ’n uiters tegniese baan waar ons die Africa Twin se vermoë in rowwe terrein kon beproef. Hier is waar Honda se DCT vir my eintlik tot sy reg kom.  Jy kan alles aan die fiets oorlaat en net konsentreer om jou lyne reg te kry. Hier het ek weer eens die kleiner Honda met DCT verkies.

Omdat die fiets soveel veiligheidskenmerke het, het dit soms gelol. Verskeie joernaliste het hul fietse laat stol by die steiler hindernisse, want die hindernisse was só steil dat die fiets gedink het die voorwiel het nou ver genoeg gelig, en dan die krag gesny. Die bande waarmee ons gery het, was ook glad nie geskik vir die uiters tegniese terrein nie. Net die mees ervare ryers het ongedeerd hulle fietse terugbesorg. Tog het ek gou gemaklik gevoel op die Africa Twin en het al hoe meer selfversekerd begin ry.

Die nuwe Honda Africa Twin is ’n ongelooflike fiets. Wat Honda reggekry het, is om twee fietse te bou van dieselfde basis, maar wat elkeen ’n eie karakter het. As jy hou van tegniese ry sal die standaard een net die ding wees. As jy egter langpad toer met gemak soek, sal die Adventure Sports nie teleurstel nie. Ons behoort vroeg in die nuwe jaar die fietse vir langer te kry om ’n meer volledige verslag te kan lewer.

Pryse is as volg:

CRF 1100L – R 210 000

CRF 1100L DCT – R 222 499

CRF 1100L Adventure Sports – R 236 000

CRF 1100L Adventure Sports DCT – R 269 000

Honda bied vroeg in die nuwe jaar weer die Honda Quest aan waar die wenner sal wegry met ’n 2020 Africa Twin. Dit is nou ’n prys wat nie te versmaai is nie. Inskrywings open in Februarie.

Vir meer inligting besoek gerus: https://quest-trueadventure.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gys ·

Die 3de foto lyk darem baie soos die pad tussen Ceres en Calvinia.

Vraagteken ·

Daar is ‘n paar manne van die GS -klub wat dit al sterk oorweeg om die BMW in te ruil vir die Honda. Eerlikwaar, ek sal dit ook doen. Die Honda is goedkoper, sal langer hou (ek sê nie die BMW sal nie lank hou nie) en is ‘n klein bietjie ligter. Dit gesê, ek dink altwee is baie naby aan mekaar.

Dalk is daar iemand wat meer inligting kan verskaf i.t.v. ‘n vergelyking?

Gys ·

Alhoewel ek self ook n GS het (okay okay, n paar) sal ek ewe maklik met n KTM , Honda, Kawasaki of Triump avontuurfiets ook ry. Ek dink daar is weinig verskil. Net soos wat daar bitter min verskil tussen BMW, Mercedes en Audi is as dit by karre kom. Meer persoonlike smaak as enigiets anders. Koop die een wat jou hartjie bly maak. En as jy nie kan kies nie, koop sommer n paar.

kobie ·

Ek hou maar by GS en gaan binnekort die 1250 koop , die Japanese maak goeie fietse maar die Duitsers se tegnologie dink ek is nogsteeds beter.

Willem ·

Met sulke pryse moet vervaardigers soos BMW oppas. Die groot prys verskil is nie ‘n aanduiding van verskil in vermoë nie. Hierdie is ‘n baie gemaklike fiets en die DCT tegnologie maak dat die fiets in ‘n klas van sy eie is.

Vraagteken ·

Kobie, ek weet nie so mooi of ek saamstem as jy sê die tegnologie is beter op duitse fietse nie. Wanneer dit by motorfietse kom, is die Japanese bo. Gaan kyk maar net na MotoGP en SBK.

‘N mens moet net onthou dat ‘n fiets wat nog air-cooled is (of gedeeltelik is), is gebasseer op ou tegnologie.

SjN ·

Daar is verseker ook plek in die mark vir die fiets, elke ryer het sy eie mening, siening en behoefte, by prysverskil moet herverkoopwaarde ook net in ag geneem word teenooor konkurente. Ek sal maar by GS hou.

Frikkie ·

Ek word hartseer as ek die pryse sien. Amper R300k vir die topmodel.
Waars die dae toe mens ‘n KLR650 kon koop vir R15k en net soveel fun kon gehad het….Die gejaag na meer cc’s en spoed en krag en en en soos jou mededingers is malligheid, maar dis wat die verbruiker soek sê hulle.

anton ·

Kobie jy praat waar.
Die Duitse fietse is maar net in n ander klas en die wat wil se dat die Honda langer gaan hou as die BMW veral die Boxer masjien, moet maar weer gaan dink.
En daar is n goeie rede waarom BMW nog gedeeltelik n lugverkoelde masjien het.
Dit is nie dat hulle nie n volle waterverkoelde masjien kan bou nie!!!
Jammer maar niks kan die Boxer masjien klop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.