Nuwe motorsportfliek spog met Suid-Afrikaanse karre

Die wegsrpingpunt by die 1966 Le Mans resies. (Argieffoto)

Motorsportentoesiaste, wat veral belangstel in die ontstaansgeskiedenis van sekere modelle, sal binnekort die storie van hoe die Shelby-handelsmerk tot stand gekom én boonop by die Le Mans-24-uur-uithourit in 1966 stof in Ferarri se oë geskop het, op Suid-Afrikaanse silwerskerms kan sien.

Die fliek volg ʼn eksentrieke dog vasbeslote span van Amerikaanse ingenieurs en ontwerpers, wat deur die visioenêre Carroll Shelby en sy Britse drywer Ken Miles gelei is om die Ford GT40 te bou. Dié motor het eindelik Ferrari, wat jaar ná jaar gewen het, in dié uitmergelende resies geklop.

Die fliek, wat met Matt Damon en Christian Bale in die hoofrolle spog, het egter ʼn Suid-Afrikaanse geur. Die karre wat in die fliek gebruik is, is met die hand in die Hi-Tech Automotive-fabriek in Port Elizabeth deur Jimmy Price gebou. Price verbou alle Shelby Amerika-motors in Suid-Afrika om aan plaaslike wetgewing te voldoen, maar gebruik steeds onderdele vanuit die VSA. Hy is ook gelisensieer om die voertuie weer na Shelby se ander markte uit te voer.

By ʼn pretdag wat Shelby vir joernaliste by die Zwartkopsrenbaan gehou het, het Peter Lindenberg, ʼn voormalige snelbootrenjaer en uitvoerende hoof van Shelby Suid-Afrika vertel die sustersmodel van die blou-en-oranje GT40 wat in die fliek te sien is, gaan vir welsynsdoeleindes in Januarie volgende jaar by die Passion for Speed-geleentheid opgeveil word.

Die GT40 spog met die handtekening van Bale, Damon, Shelby se kleinseun, Aaron Shelby, en die fliek se regisseur, James Mangold.

Lindenberg vertel dat die opbrengs van die veiling gebruik gaan word om jong mense in Suid-Afrika in meganiese ingenieurswese of motorkunde op te lei. “Dit gaan egter nie net ʼn beurs wees wat ons gaan gee en aanbeweeg nie, ons gaan die kandidate al op skoolvlak identifiseer en met hulle ʼn pad stap waar hulle eindelik by Shelby SA of in een van die motorspanne eindig en vir hulself ʼn loopbaan daaruit skep,” het Paige Lindenberg, die onderneming se bemarkingshoof en self ʼn kranige renjaer, gesê.

Price kyk meer na die herkomskant van die Shelby-karre, terwyl Shelby SA die moderne weergawes inbring en aanpas vir Suid-Afrika.

Carrol Shelby, die stigter van Shelby en wat deur Damon vertolk word, het self ʼn paar jaar in Suid-Afrika vertoef. “Ná die petrolkrisis in die ’70’s het hy ʼn hele paar ander ondernemings aangepak. Een daarvan was as jagter in Suid-Afrika,” vertel Price.

Die toekoms van Shelby

Die maatskappy het talle planne om die onderneming verder uit te bou, en een daarvan is om die ouer Heritage-modelle, wat die GT40, Cobra en Daytona insluit, aan jonger kliënte te bemark. “Die jonger generasie het gewoond geraak aan die gemak van moderne voertuie. Ou karre se vering is harder, daar is nie lugversorging nie, die veiligheid is nie op eietydse standaard nie en kragstuur het nie destyds bestaan nie,” sê Price.

Die jonger generasie wil soms tog voel soos James Dean in sy Cobra en dus het Shelby besluit om ʼn projek aan te pak waarin hulle die ouer karre met al die hedendaagse luukshede gaan uitrus. Dít, glo die onderneming, sal ʼn nuwe era vir hulle inlui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Klassieke Motor Bestuurder ·

Ek hou vol, die ouer manne was volbloed bestuurders. As jy vir een sekonde nie aandag aan die bestuurdery gegee het nie, het jy veld toe gegaan. Vandag se motors is so veilig en vergewensgesind, jy kan ‘n patetiese bestuurder wees en jy gaan waarskynlik nog steeds anderkant uitkom. Dit sal jammer wees om ‘n Daytona te hê met stelsels wat al die letters van die alfabet insluit. Dit sal haar heeltemal karakterloos maak.

Johan ·

Puik artikel!!! Ek het nooit geweet Carrol Shelby het op ‘n stadium in SA gewoon nie!

Ek gaan beslis nou met ander oë na die karre in die fliek kyk.

Kosie Kramer ·

In die 1971 fliek “Le Mans”, het Steve McQueen `n GT40 bestuur, en afgeskryf. Hierdie nuwe fliek klink soos `n nuwe weergawe.

Indien ek reg onthou, is Christian Bale se pa `n Suid-Afrikaner.

Nico Botha ·

James Dean het nie ‘n Cobra besit nie. Hy het wel deelgeneem in wedrenne met ‘n MG en later met sy Porsche Speedster en laastens in ‘n Porsche 550 Spyder waarin hy en sy tegnikus verongeluk het.

Nico Botha ·

Oorspronklike Cobra 427 was vervaardig vanaf 1965 to 1967. James Dean het verongeluk, September 1955.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.