Nuwe Nissan Patrol-bakkie bekend gestel

PatrolDie nuwe weergawe van Nissan se Patrol-bakkie is pas in Suid-Afrika bekendgestel. Dit is die nuwe weergawe van ‘n model wat oorspronklik in die 1970’s in Suid-Afrika as ‘n Datsun bekendgestel is, en in die 1980’s met groot sukses onder die Safari-naam hier bemark is.

In vergelyking met die vorige model kom die nuwe een met ‘n nuwe turbo-aangejaagde drieliter-dieselenjin wat 110 kw krag en 371 Nm wringkrag lewer. Volgens Nissan is die gemiddelde brandstofverbruik van die nuwe Patrol 10,9 liter per 100 kilometer, terwyl ‘n tenkafstand van 1 600km moontlik is, aangesien twee brandstoftenks met ‘n gesamentlike kapasiteit van 175 liter standaardtoerusting is. Soos wat ‘n mens van ‘n hardebaard-voertuig met vierwielaandrywing kan verwag, het die Patrol ‘n laestrekratkas, en moet die voorste wiele se nawe met die hand gesluit word wanneer die voertuig in sy lae strek bestuur word. Die nuwe Patrol het ‘n sleepvermoë van 2,5 ton.

Hoewel die nuwe Patrol nie op die ontspanningsmark gemik is nie, is daar tog ‘n paar weelde- en veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting is. Aan die binnekant is daar byvoorbeeld lugversorging, elektriese vensters en waarsku-gonsers as die sleutel binne-in die motor vergeet word of as die deur oop is. Daarby kom die Patrol met twee lugsakke en sluitweerremme.

Die prys van die nuwe Patrol is R 476 900, maar daar kan verskeie opsies teen ekstra koste aangebring word, onder meer ‘n snorkel, ‘n wenas, tralies vir wanneer vee vervoer moet word en kolligte.

Die Patrol se regstreekse mededinger is die Toyota Land Cruiser 79-bakkie, maar net die model wat met die 4,2 liter dieselenjin sonder ‘n turbo-aanjaer toegerus is en waarvan die prys presies dieselfde is. Die Land Rover Defender 110-bakkie val ook in hierdie kategorie, maar hy sal deur die loop van aanstaande jaar aan die mark onttrek word.

Die Patrol kom met ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 kilometer, en moet elke 15 000 kilometer gediens word. Daar word egter geen melding gemaak van ‘n diensplan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.