Honda Suid-Afrika het nog ʼn aanspraakmaker in sy sportnutsreeks bygevoeg. Die splinternuwe Honda BR-V is ʼn kompakte sportnutsvoertuig. Suid-Afrikaners is baie lief vir dubbelkajuitbakkies en sportnutsvoertuie.
Die BR-V is aanvanklik slegs beskikbaar met ʼn 1.5 liter viersilinderenjin met ʼn enkel-bonokas en Honda se wêreldberoemde i-VTEC kleptydreëlstelsel. Die kragbron lewer 88kW teen 6 600 r/min en 145Nm teen 4 600r/min.
Daar is twee ratkaste beskikbaar: ʼn sesgang-handrat en Honda se CVT (Continuously Variable Transmission). Die CVT is met skakelspane toegerus sodat bestuurders self ratte kan wissel indien hulle wil.
Wat die BR-V ʼn aantreklike keuse maak, is dat hy standaard met sewe sitplekke kom. In hierdie klas is daar min mededingers met sewe sitplekke. Toyota se Avanza en Chevrolet se Orlando is al waaraan ek nou kan dink.
Mededingende pryse en Honda se verstommende betroubaarheid gaan hierdie ʼn interessante buksie maak.
Die reeks lyk so:
Honda BR-V 1.5 Trend-handrat | R238 900 |
Honda BR-V 1.5 Comfort-handrat | R252 900 |
Honda BR-V 1.5 Comfort CVT | R268 300 |
Honda BR-V 1.5 Elegance-handrat | R272 900 |
Honda BR-V 1.5 Elegance-CVT | R288 300 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 3 jaar AA-padbystand. Comfort- en Elegance-weergawes geniet ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan. Diensintervalle is 15 000 km.
Weet nie so mooi van die agterkant nie, lyk te veel soos die lelike Mobilio wat ek aaneem hy gaan seker vervang. Dan is daai 1.5 bietjie min vir 7 sitplekke, ek ry self die nuwe Ballade 1.5 en hy is genoeg vir hom maar daai ekstra 2 mense gaan jou terug hou. Honda sal definitief ‘n kleiner diesel enjin ook moet kry, soos die 1.5 dci Duster of so iets.