Nuwe sportsoort by skool laat kinders brul

Foto: Brian Cheyne

Ek was in ’n plattelandse seunskool waar ons kon kies tussen rugby en rugby as ’n skoolsport. Meer progressiewe skole het hier en daar ook tennis en hokkie aangebied. Deesdae het kinders soveel meer geleenthede vir buitemuurse aktiwiteite.

Skole bied van fietsry tot hengel aan, maar een skool het my laat regop sit. Hoërskool Oos-Moot in Pretoria het nou ’n Enduro-klub vir motorfietsgeesdriftiges gestig! In samewerking met Mamrock Enduro-klub, bied hulle ’n unieke ervaring vir skoolkinders om onder toesig die buitelug te geniet.

Ek het hulle eerste byeenkoms Saterdag bygewoon en ek moet sê, ek was baie in my skik om te sien hoe families tog nog dinge saam doen en saam ’n passie kan deel. Ek was onder die indruk dat deesdae se ouers, ek ingesluit, ons kinders in wattebolletjies wil grootmaak.

Foto: Brian Cheyne

Mamarock het aangebied om die kinders van Oos-Moot te borg met opleiding. Die Mamarock Enduro-klub is aan die einde van 2017 gestig en hulle fokus is die bevordering van die sport deur jong ryers te ontwikkel. Hulle is betrokke by die gemeenskap in Mamelodi en doen baie moeite om jong, vroulike ryers te betrek. As hulle hier betrokke raak en deelneem, is die kans minder dat hulle met ander ongure aktiwiteite besig raak.

Oos-Moot se kinders en hulle ouers het by Mamarock bymekaargekom, en die dag saam geniet. Die kinders is gou in drie groepe ingedeel: ervare ryers, nuwe ryers en kinders wat nog nooit op ’n motorfiets was nie.

Foto: Brian Cheyne

Die ervare groepie het die bane gaan verken en ’n hele paar baie vuil fietse het later teruggekom. Mamarock se Robert Codd het vier nuwe ryers bietjie touwys gemaak en op ’n klein baan losgelaat om hulle nuwe vaardighede te toets.

Terwyl die fietse op en af gery het, het vier ander jong Oosies benoud rondgestaan. Bike-Kings, een van Pretoria se nuwe motorfietsbybehore‑winkels, het ’n krat vol gebruikte klere saamgestuur, en die nuwe ryers kon ’n valhelm en beskermende klere kies om vir hulself te hou. Die Enduro‑gemeenskap skenk hulle ou items juis vir dae soos vandag.

Foto: Brian Cheyne

Soos ’n skoolles is die nuwe ryertjies mooi gewys wat sit waar op ’n motorfiets. Sommer gou het hulle hul eerste tentatiewe tree gegee in ’n nuwe wêreld van vryheid en kameraadskap. Ek het na die tyd met een van die ryers gesels en die glimlag het alles gesê. Sy het met baie oortuiging vir my gesê sy wil beslis nog gaan ry. Daar word sommer gou ’n mini-resies beplan en ek sal graag oor so ʼn paar maande weer wil gaan inloer en kyk hoe groei Oos-Moot se Enduro-klub.

Dit was wonderlik om almal so saam te sien kuier, en alhoewel daar ʼn paar benoude mammas op die kantlyn gesit het, was die kommentaar van Robert Codd vir my só waar. Hy het met ʼn groot glimlag vir my gesê die grootste vreugde wat hy uit so dag put, is dat hy twintig kinders weg van hulle Playstations kon kry!

Mamarock se webtuiste: https://mamarock.co.za/

Bike Kings se webtuiste: https://www.bikekings.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico K ·

Ek wil darem vir Brian sê dit is nie waar dat ons net rugby as sport op die platteland gehad het nie. In die somer het ons atletiek ook gehad. Maar dit was al.

Gatvol ·

Hier by ons in Gordonsbaai is dit nie nodig dat jou kind by die skool inskryf vir MotorX nie. Hier jaag groepe kinders met scramblers in die week maar veral lekker oor naweke in die strate rond met vol motorx drag met nie padvaardige scramblers rond. Hulle ry in groepe van 2 – 6 en wheelie by jou huis verby en jaag asof hulle die Dakar wil wen. Die owerhede doen niks nie. Nou wag ons maar tot iemand tragies in ongeluk betrokke raak. Dalk sal hulle dan wakker skrik. Lekker by die see.

Piet Pompies ·

‘n MX motorfiets hoef nie oor ‘n padwaardigheid sertifikaat te beskik, geen flikkerligte is nodig as jy jou opponent verbygaan.
gaan ontmoet die manne, koop vir jou ‘n bike en ry saam hulle, dit is vet pret.

Piet Pompies ·

Great, ek wens ek was in daardie skool. In die jare 80’s was ons 4 broers mal oor MX en het gery wat ons kon bekostig. Dit was ongelukkig so dat ons eers op openbare paaie moes ry om by die baan uit te kom, een van die roetes in die veld was deur ‘n onbeboude grondgebied met heelwat bome. Een of ander skurk het eendag ‘n staal draad tussen twee bome oor ons pad gespan. Die een ryer in ons groep het baie seergekry omdat die kabel hom op die lugpyp gevang het.
Daar was ook maar heelwat knorpotte wat nie son oor iemand anders wil sien skyn.
Vandag geniet ek dit as kyk terug dink aan die pret wat MX ons verskaf het. baie geluk aan die skool wat so kreatief is.

Tannie ·

Toe die ander meisies in my klas oor naweke saam met die boyfriends gekuier het, het ek met my ou kokaai scrambler in die veld naby ons huis gaan rondry. Hoe wéns, wéns, wéns ek nou ek was weer jonk en ‘n leerling van hierdie skool sodat ek ook saam kon ry!!!

Gys ·

Enige iets is beter as rugby of krieket. 99.9999% van mense doen daai sporte net op skool, en na skool sit hulle en niks doen. Beter om n sport te beoefen wat jy vir dekades lank kan doen. Bike ry, scuba diving, skydiving, surfing, ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.