NWU-sonkar laat wéér die rekords spat

Die span van Noordwes-Universiteit by hul sonkar, die Sirius x25, op 1 Oktober 2016 by die V&A Waterfront in Kaapstad ná die Sasol Solar Challenge 2016 Foto: NWU Solar Car, Facebook

Die span van Noordwes-Universiteit by hul sonkar, die Sirius x25, op 1 Oktober 2016 by die V&A Waterfront in Kaapstad ná die Sasol Solar Challenge 2016 Foto: NWU Solar Car, Facebook

Die spanlede van die Noordwes-Universiteit se sonkar, Sirius X25, kon Sondag spog dat hulle 3 524 km oor ʼn tydperk van agt dae tussen Pretoria en Kaapstad afgelê én minstens drie toekennings ingeoes het.

Maroela Media het vroeër berig dié span was die afgelope naweek die eerste Suid-Afrikaanse span om die eindstreep in Kaapstad oor te steek in die Sasol Solar Challenge.

Benewens dié mylpaal, het die span ʼn algehele vierde plek behaal en is ook vereer vir twee rekords wat hulle verbeter het. Die Nederlandse span is as wenner gekroon.

Die Sirius X25-span het vroeër in September asem opgehou nadat die sonkar tydens die finale tydtoets vir die kompetisie deur ʼn rukwind omgegooi is. Niemand is in die voorval beseer nie.

Dié span het Sondag onder meer die African Spirit Award, die toekenning vir Tegnologie en Innovasie, asook die toekenning vir Span-professionaliteit en -veiligheid ingeoes.

Hulle is ook aangewys as die Afrikaspan wat die verste afstand nóg met ʼn sonkar afgelê het, asook die Afrikaspan wat die langste afstand op een dag kon aflê – ’n totaal van 611 km.

Die span agter die Noordwes-Universiteit se Sirius X25 (Foto: Facebook)

Die span agter die Noordwes-Universiteit se Sirius X25 (Foto: Facebook)

Die NWU-span bestaan uit 25 ingenieurswesestudente. Die bepalings van dié sonkar behels dat die ingeskrewe kar vier wiele moet hê, slegs van sonenergie gebruik mag maak om die hele roete te voltooi en sonpanele met slegs ’n maksimum oppervlakte van ses vierkante meter mag gebruik.

Prof. Albert Helberg, spanleier, sê hulle het verskeie verbeteringe aan vanjaar se sonkar aangebring wat dit in staat gestel het om ongeveer 20% beter as hul vorige sonkar te kon funksioneer.

Die Sirius X25 is van die grond af deur studente met die hand gebou. Die bou van die sonkar het ʼn allemintige R1 miljoen gekos.

Hoewel die direkte roete van vanjaar se uitdaging net 2 000 km beslaan, het die span 3 524,9 km afgelê deur bykomende roetes te ry. Die span wat die verste afstand oor die agt dae kon aflê, is as wenner gekroon.

Die Sirius X25 weeg ’n skrale 196 kg en kan ’n topspoed van 135 km per uur bereik. Dit is hoofsaaklik van koolstofvesel gebou met geselekteerde aluminiumonderdele.

Dié sonkar het in 2012 vir die eerste keer aan die Sasol Solar Challenge deelgeneem en kon daarin slaag om net meer as 1 000 km af te lê. In 2014 het hy daarin geslaag om 2 000 km af te lê en verlede jaar net meer as 3 000 km.

Helberg sê die kompetisie was ʼn wonderlike ervaring en ʼn voorreg om Suid-Afrika te kon verteenwoordig. “Ons beplan om die Suid-Afrikaanse vlag volgende jaar verder te laat wapper tydens die Bridgestone World Solar Challenge in Australië. Ons sal ’n beter sonkar hê en probeer om ons vorige en ander rekords te laat spat. Ons bedank graag al ons borge en ondersteuners – sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ook n ouer ·

Go Pukke…dis een universiteit wat op alle gebiede uitstyg..die Potchkampus is die beste

Theresa ·

Kan nie wag om so iets te kan koop nie. Miskien sal die wind dit nie so maklik omwaai as dit bietjie swaarder weeg nie? Ek nou nie ‘n kenner nie – dink maar net aan die rukwinde van die afgelope paar dae.
Sterkte! en dankie vir so iets positief waaroor ons kan lees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.