Ongelooflike Tiger 900 sal wildste drome laat waar word

Die Triumph Tiger 900 GT Pro en Rally Pro.

Virtuele bekendstellings bespaar dalk geld en help vervaardigers om hul nuwe produkte ten toon te stel in hierdie grendeltyd, maar ek mis die saamry en om die fiets eerstehands te ervaar.

Gelukkig het die verslapte inperkingsreëls ons toegelaat om Triumph se splinternuwe Tiger 900 self te kan ry. Ons was ’n klein groepie van vier joernaliste wat gemasker by Triumph se hoofkantoor aangemeld het.

Triumph se hoof, Bruce Allen, het baie opgewonde uitgebrei oor die nuwe fiets. Hy het ook verklap dat Triumph se handelaarsnetwerk na Kaapstad gaan uitbrei. Die nuwe perseel is amper klaar en sal binnekort daar open.

Foto: Joe Flemming/Bonafide Moto Co

Ons was gretig om te begin ry, maar moes eers opleiding kry in die splinternuwe TFT-skerm op die Tiger 900. Dit is ’n enorme sewe duim-eenheid en is uiters verstelbaar. Daar is aan ons verduidelik dat dit kan koppel met jou slimfoon en selfs met ’n GoPro-kamera. Na die kort lessie is ons na ons onderskeie fietse toe. Om ’n beter idee te kry van die nuwe, verbeterde 900 het Bruce en die fotograaf Joe Flemming saamgery op die huidige Tiger 800. Ons sou elkeen ’n geleentheid kry om die ou fiets ook te ry.

Foto: Joe Flemming/Bonafide Moto Co

Daar is slegs twee modelle op pad na Suid-Afrika: die Rally Pro en GT Pro. Die GT Pro is laer en is meer gerig op die langafstandryer wat nie veel van die teerpad sal afwyk nie. Die fiets het allooi-wiele en elektroniese vering. Die Rally Pro is ’n volwaardige vrotpad-fiets met speekwiele.

Met die eerste oogopslag is die fiets onmiskenbaar ’n Tiger. Die lyne is baie dieselfde as die vorige model en lyk steeds of hy reg is vir enige pad. Die hooflig is heelwat kleiner en het dagryligte wat natuurlik LED‑eenhede is. Die windskerm is kleiner as op die 800, maar werk heelwat beter.

Foto: Brian Cheyne

Die grootste verskil is egter in die nuwe enjin. Dit is steeds ’n drie silinder en die groter kapasiteit sorg vir 10% meer wringkrag en 9% meer krag. Daar is ook verander aan die ontbrandingsvolgorde om die enjin ’n meer karaktervolle klank te gee. Die enjin sit nou laer en verder vorentoe in die raam, wat tot ’n laer swaartepunt bydra. Die nuwe uitlaatpyp maak die fiets aansienlik stiller, maar as die toere klim, brul die 900 heerlik saam.

Die Tiger is steeds ’n baie gemaklike fiets. Ek is lank en die Rally Pro het my beter gepas as die GT Pro. Albei modelle kom standaard met snelskakeling wat uiters goed werk.

Foto: Brian Cheyne

Ons het deur die stadsverkeer gekronkel en ons kon regtig die dinamika van die fietse waardeer. Een van die ander joernaliste het my sentiment gedeel dat ek baie ver sal kan ry op die Tiger. Met verhitte grepe en selfs ’n verhitte saal was die koue winterluggie gou vergete.

Ons het ’n paar grondpaaie ook aangedurf en daar het die Tigers natuurlik nie ’n voet verkeerd gesit nie. Die nuwe Tiger 900 is ’n ongelooflike fiets wat enige avonturier se wildste drome sal kan laat waar word en is nou plaaslik beskikbaar. Ek sal binnekort een van hierdie modelle vir ’n langer tydperk kry en dan sal ek ’n vollediger verslag kan saamstel.

ʼn Virtuele bekendstelling vind Woensdag 22 Julie om 18:30 op Triumph se Facebook-blad plaas.

Klik hier vir die produkblad. Die GT Pro kos R215 000 en die Rally Pro kos R 229 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gysbert

Ai, daar is darem maar min dinge so mooi soos n mooi fiets. Nee, selfs nie eens “DIT” is so mooi nie. n Mooi vliegtuig en geweer is darem ook in dieselfde klas as n mooi fiets.
Brian, het hy binnebande of is hy “tubeless”?

Scalla

Een maal n biker, altyd n biker, mooi bly maar mooi.