Die Franse het nog altyd ʼn neiging gehad vir ontwerp. Styl bó funksie.
Nie dat die funksionaliteit nie daar was nie – maar dit moes ʼn uitdaging bied vir die konvensionele. Hoekom moet rigtingwysers op stokkies langs die stuurwiel wees? Hoekom kan dit nie ʼn knoppie op die paneelbord wees soos in die Citroën DS nie?
Baie mense is onbewus van die feit dat Citroën een van die oudste motorhandelsmerke is en vanjaar 101 word. En met hul absoluut kleurryke geskiedenis het hulle nou ʼn naam om te behou. Die C5 Aircross is nie laf nie – maar mens kan hom beslis uitken in ʼn see vol sportnutsvoertuie.
Nóg ʼn reusepluspunt vir my is die feit dat Citroën met die C5 Aircross getrou bly aan ʼn óú Citroën-kenmerk – asemrowend sagte vering. In ʼn tyd waar alles reusewiele en klipharde vering het om vinniger om die Nordschleife te gaan, sê Citroën eenvoudig – nee dankie, ons motors was nog altyd uiters gemaklik.
Die C5 Aircross word aangedryf deur die groep se 1.6-viersilinderturbopetrolenjin. Die enjin bied 121 kW en 240 Nm. Heel voldoende vir dié soort voertuig.
Ek is gek na ʼn Franse diesel, ek het al vyf besit en dink hulle is van die bestes op die mark. Ongelukkig is die einde van die diesel naby, so ʼn turbopetrol sal maar moet doen.
Die binneruim van die C5 Aircross is baie luuks en uiters modieus. Die ontwerp op die sitplekke pas by die ontwerp van die paneelbord. Die digitale instrumente en inligtingstelsel bied jou elke denkbare brokkie inligting wat jy moontlik sou wou weet. Al die luukshede is daar, van elektriese sitplekke, CarPlay en Android Auto, kop op vertoon (HUD), spoed en klimaatbeheer – de lot.
Die ritgehalte in die C5 Aircross is klasleidend. Dit is uiters soepel en sag, sonder om verskriklike bakrol te toon. Padhouvermoë is voldoende vir dié grootte sportnutsvoertuig.
Die Citroën C5 Aircross is maklik om op te som. Dit is ʼn pragtige motor met ʼn modieuse ontwerp. Die binneruim is lieflik en die enjin heel goed. Die ratkas is ongelukkig vir my nie fantasties nie – veral in ʼn wêreld waar 8-spoed-outoratkaste en dubbelkoppelaar-ratkaste deesdae puik is. Waar die Citroën volkome sin maak, is die feit dat die voertuie uiters veilig is, en baie uniek en ongewild – so die diefstal en kapingrisiko is bitter laag. Nou moet hulle net in die land bly, want die herverkoopwaardes kan nie nóg ʼn hou weerstaan nie.
Die reeks lyk só:
Citroën C5 Aircross 1.6T Feel | R474 900 |
Citroën C5 Aircross 1.6T Shine | R514 900 |
Die kompetisie lyk só:
Ford Kuga 1.5T Ambiente auto | 132 kW/240 Nm | 6.9 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 6 jaar/90 000 km- diensplan | R425 000 |
Renault Koleos 2.5 Dynamique 4WD | 126 kW/233 Nm | 8.3 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R499 900 |
Mitsubishi Outlander 2.4 GLS | 123 kW/222 Nm | 8.2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R499 995 |
Kia Sportage 2.0CRDi EX Plus | 131 kW/400 Nm | 6.2 ℓ/100 km | 5 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R577 995 |
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 4Motion Highline | 162 kW/350 Nm | 7.8 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R601 400 |
Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera | 140 kW/450 Nm | 5.7 ℓ/100 km | 3 jaar/onbeperkte km-waarborg 3 jaar/onbeperkte km-diensplan | R605 400 |
Toyota Rav4 2.5 AWD VX | 152 kW/243 Nm | 7.3 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg 6-dienstediensplan | R618 400 |
Hyundai Tucson 1.6T Elite Sport | 150 kW/300 Nm | 8.5 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R664 900 |
Honda CR-V 1.5T Exlclusive AWD | 140 kW/240 Nm | 7.0 ℓ/100 km | 5 jaar/200 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R685 400 |
Die mark is enorm hier. Die Honda en Hyundai val uit die bus met daai pryse. Die res is goeie opsies. Die Ford Kuga is ʼn ware winskoop. Gaan ry dié wat in jou begroting pas … een sal die lekkerste wees vir jou.
Hy mag mooi wees en lekker ry maar ek sal dit vir verskeie redes nie koop nie. Herverkoop waarde is die heel grootste rede.