Oud, maar nog nie koud…

Die Mitsubishi ASX. (Foto: Verskaf)

Mitsubishi kon onmoontlik in 2011 toe hulle die nuwe ASX in Suid-Afrika bekendgestel het, geweet het watter reusesukses dié model vir die handelsmerk sou behaal. Die ASX was ʼn netjiese kruismodel – en een van die eerstes in die land.

Kruismodelle is uiters gewild op die oomblik. Dit is nie noodwendig my gunstelingbakstyl nie; tensy die voertuig ook vierwielaandrywing het, dán maak dit vir my meer sin. Ek is dan steeds skepties oor hoekom mens nie ʼn volvet sportnutsvoertuig sou aanskaf nie.

Teen die trant wat nuwe voertuie deesdae bekendgestel word, raak ʼn ontwerp bitter vinnig oud. Nie die geval met die ASX nie. Dié voertuig is al deur twee opknappings in Suid-Afrika. Die nuutste opknapping sien nuwe ligte voor sodat die ASX meer soos sy ouboet, die Triton, lyk.

Met sy nuwe pak aan, lyk die ASX tog so vars soos enige van die nuwelinge. Aan die binneruim is daar nog ʼn paar opknappings wat die aanbieding jeugdig hou. Die indrukwekkende aanraakskerm bied CarPlay en Android Auto en is beslis ʼn beter stelsel as wat in die Eclipse Cross beskikbaar is.

Die ASX het ʼn indrukwekkende spesifikasievlak met klimaat‑ en spoedbeheer, ʼn indrukwekkende aantal lugsakke, sewe sitplekke met leerbekleedsel en die voorste sitplekke wat verhit kan word. Op die pad bied die luukshede ʼn ontspannende reistog. Ongelukkig is die 18”‑wiele saam met redelike stywe vering bietjie té styf vir die klas voertuig en bederf dit die rit vir my. Die harde ritgehalte bied wel puik padhouvermoë.

ʼn Mens het goeie padhouvermoë nodig, want al is die 2.0‑viersilinderpetrolenjin nie ʼn nuwe turbo-aangejaagde eenheid nie, bied hy steeds 110 kW en 197 Nm‑wringkrag. Dit klink dalk nie verskriklik nie, maar die ASX sal 190 km/h haal – heeltemal genoeg. Die ASX het ʼn CVT‑palwisseltransmissie. Nie my gunsteling nie, maar die redelike wringkrag van die 2.0 maak goeie werk van hom. Die 1.5‑turbo in die Eclipse Cross is wel ʼn baie lekkerder opset.

Dit is heel maklik om die ASX op te som. Dit is min dat ʼn voertuig só ʼn lang lewensduur het. Die produk lyk nog heel goed. Mitsubishi bied die ASX met ʼn indrukwekkende 5 jaar/90 000 km‑diensplan. Teen net‑net by die R400 000 is dit ʼn bakgat spesifikasievlak teen die prys.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi ASX 2.0 handrat110 kW/197 Nm7,5 ℓ/100 kmR399 995
Mitsubishi ASX 2.0 outo110 kW/197 Nm7,9 ℓ/100 kmR414 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑waarborg en 5 jaar/90 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara 1.6 GLX outo86 kW/151 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km‑waarborg

4 jaar/60 000 km‑diensplan

R392 900
Hyundai Creta 1.6 Executive outo90 kW/150 Nm8,4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km‑dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R407 900
Subaru XV 2.0i115 kW/196 Nm7,3 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborg

3 jaar/75 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R436 000

Tussen dié mededingers maak die Subaru XV die meeste sin. Dit bied vierwielaandrywing en klasleidende 220 mm‑grondvryhoogte. Dit is ʼn ware kruismodel met goeie vernuf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.