Oumotorskou binnekort in George gehou

Foto: Tisha Steyn

Foto: Tisha Steyn

Oumotor-entoesiaste moet solank 13 en 14 Februarie in hul dagboeke aanteken vir die 20ste herdenking van die Oumotorskou in George in die Wes-Kaap.

“Alles verloop volgens plan en vanjaar se skou beloof om nog groter en beter te wees danksy ons nuwe borg,” het Mike Alexander, koördineerder van die Suid-Kaap Oumotorklub wat dié belangrike geleentheid op George se kalender organiseer, gesê.

Die Oakhurst-versekeringsmaatskappy, die enigste versekeringsmaatskappy met ’n hoofkantoor in George, is vanjaar die hoofborg van die skou. “Ons is verheug daaroor betrokke te wees,” het Peter Grindlay, besturende direkteur van Oakhurst, bygevoeg.

Volgens Krige Bolton, wat die uitstallings koördineer het meer as 90 stalletjies, waaronder 30 motorverwante stalletjies, reeds geregistreer. “Die uitstallers was verlede jaar baie tevrede met die rekordtal besoekers van bykans 11 000.”

Foto: Tisha Steyn

Foto: Tisha Steyn

Philip Rosser, wat registrasie van die voertuie wat uitgestal word koördineer, het bevestig daat is reeds sowat 200 eienaars wat hul voertuie geregistreer het. “Ons doen ‘n beroep op die voorsitters van klubs landwyd om so gou moontlik te registreer.”

Volgens Philip Kuschke, wat die Veteraantoer (Vettoer) organiseer, is daar reeds 23 voertuie geregistreer wat aan vanjaar se toer vanaf Albertinia op 12 Februarie gaan deelneem. “Die vereiste vir vanjaar se inskrywings is dat die voertuie sonder voorremme vervaardig moet wees.” Onder die deelnemers is eienaars van Harrismith, Durban, Pongola en ‘n hele paar van Kaapstad. “Motors van besondere belang op die toer is ‘n 1913 Benz, ‘n 1911 EMF en ʼn 1916 Maxwell,” het Kuschke gesê.

Ignatius Anker, wat in beheer is van die modelmotor-uitstalling, het gesê sowat 25 uitstallers sal vanjaar weer altesaam tussen 4 500 en 5 000 items uitstal. Van die modelle sal ook te koop aangebied word.

Foto: Tisha Steyn

Foto: Tisha Steyn

Die uitstalling lok jaarliks honderde deelnemers wat hul veteraan- en klassieke voertuie (voor 1975 vervaardig) kom uitstal, asook veteraantrekkers, -vragmotors en statiese enjins. Naas hierdie ryke verskeidenheid is daar ook omgeboude motors en ʼn groot verskeidenheid motorfietse, wat ook veteraan-motorfietse insluit.

“As deel van die 20ste herdenking van die skou, sal hoogtepunte uit die afgelope twee dekades weer aangebied word,” het Alexander bygevoeg.

Vanjaar kry die eienaars van Amerikaanse voertuie geleentheid om die voertuie in die ereplek in die Sirkel van Faam uit te stal. “Voortaan sal voertuie wat in die verskillende lande vervaardig is ‘n beurt kry om hier te staan.”

Volgens Alexander word besondere moeite gedoen om die verbyrit van voertuie in die arena goed te koördineer. “Dit sal so aangebied word dat toeskouers van waar hulle sit en kuier die voertuie kan bewonder.”

Nog ‘n hoogtepunt is die veiling van veteraan- en klassieke motors wat deur House of Classic and Sports Cars van Knysna aangebied word.

Besoekers sal ook aan verskeie kompetisies, wat deur die hoofborg aangebied word, kan deelneem. ‘n Musiekkonsert deur plaaslike kunstenaars word Sondag oor die etensuur aangebied. Meer inligting oor die deelnemers sal later bekend gemaak word.

Die Rotariërs organiseer die biertuin wat verlede jaar aansienlik uitgebrei het om sitplek vir sowat 400 persone te bied.

Die skou word soos gewoonlik op die skoolterrein van die PW Botha Kollege in Yorkstraat aangebied.

Kontaknommers

Algemene navrae: Chris van Staden: 082 491 5254
Registrasie van inskrywings: Philip Rosser: 082 410 5490
Vettoer: Phillip Kuschke: 082 856 5152
Modelmotors: Ignatius Anker: 082 442 9875
Uitstallers: Krige Bolton: 082 475 7855
The House of Classic and Sports Cars: 044 382 1000, 082 566 7897 of [email protected]
Besoek die Suid-Kaap Oumotorklub se webwerf vir meer inligting by http://www.scocc.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann Marx ·

Met die “verlangsaming” van die ekonomie (weens faktore buite die beheer van die ANC, die president, en Minister Nene, volgens die media) is my motor ook nou oud genoeg om hier te gaan uitstal. Die neukery is ek het die ou ding elke dag nodig om mee werk toe te ry…..want vir dieselfde rede hoekom ek nie ‘n nuwe motor kan bekostig nie, kan ek ook nie aftree nie.

Chris ·

Oumotorskou is ‘n nuwe uitvindsel van ‘n woord. Ek ken dit glad nie. Ek ken dit as veteraanmotorskou. In watter woordeboek verskyn jul woord?

Sune van Heerden ·

Dagsê Chris

Die betrokke skou staan al vir ‘n hele paar jaar in George bekend as die “Oumotorskou”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.