Pad- en sleeptoets: Dis alles in die ratte…

Die Nissan Navara. Foto: Verskaf

Ons het geruime tyd gelede die Nissan Navara getoets. Ek het gesukkel om ʼn houvas op dié bakkie te kry. Terwyl sy stilering vir my mooi en iets besonders was, het die outomatiese ratkas die enjin vir my bederf. Die bakkie was ook swaar op brandstof en wou net nie vir my “lekker” voel nie.

Toe ek die bakkie teruggee, sê die vrou wat die Nissan-vloot bestuur vir my dat sy self die handrat verkies bó die outomaties en dat ek eers die handrat-model moet beproef. Ek stem toe in en reël die handrat vir ʼn naweek wanneer ek my woonwa sou sleep. Ek het vyf minute lank met die handrat gery en was dadelik beïndruk.

Mense, as jy ʼn Navara oorweeg, bestuur beslis die handrat én die outomatiese model, want indien die outo jou teleurstel sal die handrat jou beïndruk. Die nuwe 2,3 tweelingturboaangejaagde viersilinderdieselenjin bied 140 kW en 450 Nm. In ʼn dubbelkajuit is dit oorgenoeg. Waar die outomatiese ratkas nie die wringkrag wat laag in die toere lê lekker omsit in versnelling nie, werk die handrat honderd persent. As ʼn mens skielik wil haastig wees en jy gee hom alles, heel hoog in die toerestrek (vir ʼn diesel) kry die Navara ʼn tweede asem, en raak dan haastig – selfs vinnig, en bitter sterk.

Die Nissan Navara. Foto: Verskaf

Die buitekant se ontwerp is vir my mooi, en netjies. Die bakseiltjie wat Nissan aanbied is van fantastiese gehalte en werk puik sodra jy hom gewoond is. Die binneruim is luuks – tot die klein venstertjie agter is elektries. Die sitplekke is gemaklik en die outomatiese ligte, ruitveërs, klimaat- en spoedbeheer asook Bluetooth maak reise gemaklik.

Twee dingetjies wat pla in die Nissan is die radio en die stuurwiel. Dié hoek waarteen die radio gemonteer is laat die son altyd daarop skyn in die middel van die dag, en dan kan ʼn mens niks op die skerm lees nie, met of sonder ʼn gepolariseerde sonbril. Die stuurwiel kan op en af kantel, maar kan nie vir reik verstel nie, dan moet ek te naby sit vir my bene, of te ver vir my arms. Die stuurwiel kan vir my nie hoog genoeg op stel nie.

Die Navara het ʼn ander truuk in sy gereedskapkis: kronkelvere agter. Alle bakkies in Suid-Afrika, behalwe die Navara, ry op bladvere agter. Bladvere kan swaar vrag dra, maar dit is nie gemaklik nie en belemmer ook hantering. Party bakkies, sonder vrag, ry onaanvaarbaar hard. Nie die Navara nie.

Die Nissan Navara. Foto: Verskaf

Kan die Navara dan met sy kronkelvere nog vrag dra? Binne die voorgeskrewe gewig, ja. Dit is nie ʼn Cruiser waarop jy twee ton gaan laai sonder dat hy neus in die lug loop nie. Wat jy wel in ruil kry vir die sagter vering, is ʼn dubbelkajuit wat lang reistogte met uiterse gemak aanpak. Ons moet ook onthou dat dié Navara heel bó in die leefstyl mark geteiken is, so hy gaan selde wilde vragte moet rondkarwy.

Kan die Navara sleep? Soos ʼn droom. My woonwa is ʼn ou model, 1992 – en hy weeg omtrent ʼn ton. Ons was nie vreeslik swaar gelaai nie, maar die Navara het by ons aankoms by Buffelspoort slegs 10,2 ℓ/100 km gewys. Ek het teen 110 km/h gesleep op spoedbeheer. Vir ʼn groot bakkie, met 4×4 – ʼn vrag en ʼn sleepsel is dit voorwaar indrukwekkend. Op die tog huiswaarts het daar ʼn nare wind gewaai, en tog het die brandstofverbruik net na 11,2 ℓ/100 km versleg. Die Navara kan tot 3 500 kg sleep.

Ek kan die Navara maklik opsom. Dit is ʼn lieflike leefstylbakkie. Nissan het ʼn sterk handelaarnetwerk.

Ek verkies die handrat, maar party gaan nie deur die outo gepla wees nie. Die bakkie is splinternuut en nie vreeslik gewild nie, so dit gaan goedkoop wees om hom te vestig in die mark. Indien jy tans in die mark is, moet hom nie miskyk nie, jy doen jouself ʼn reuse-onreg aan.

Die reeks lyk só:

Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 SE140kW/ 450Nm6.5ℓ/100kmR518 900
Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE140kW/ 450Nm6.5ℓ/100kmR567 900
Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE outo140kW/ 450Nm7ℓ/100kmR587 900

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4133kW/ 430Nm7.3ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R539 995
Isuzu KB300D-Teq dubbelkajuit 4×4 LX130kW/ 380Nm7.9ℓ/100km5 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R558 100
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider130kW/ 420Nm7.6ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R570 700
Ford Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 XLT147kW/ 470Nm8.3ℓ/100km4 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 100 000km diensplan

R586 900
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit Highline 4Motion132kW/ 400Nm8ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R596 200

Teen dié prys is die Triton ʼn lieflike bakkie en een van my gunstelinge. Die enigste bakkie wat nie heeltemal tuis voel in dié klas nie is die Isuzu – sy binneruim steek af teen die ander. Almal is puik voertuie. Toetsbestuur almal en koop die een wat vir jou lekker is – maar die intreemodel Navara SE kan nie geïgnoreer word teen daardie prys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem de Beer ·

Ek het die nuwe Navara getoets bestuur maar was glad nie gelukkig nie. Die enjin raas in die binneruim en ek het besluit om my ou Navara te behou. 2014 3.0D V6 170kw.Daar is geen vergelyking tussen die 2 bakkies nie en ek is ook nie seker of die nuwe noodwendig mooier is as myne nie(behalwe binneruim)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.