Padindrukke: FAW V 2 1,3 DLX

FAWHoewel FAW al ‘n paar jaar lank ’n gevestigde vervaardiger van swaar handelsvoertuie is, het dié Chinese maatskappy omtrent twee jaar gelede sy eerste passasiersvoertuig, die Sirius S 80-veeldoelbussie in Suid-Afrika bekend gestel.

Tydens verlede jaar se Johannesburgse Internasionale Motorskou is die V2-luikrug gewys, en hierdie model is ook onlangs in Suid-Afrika bekend gestel. Daar is net een model in die reeks, naamlik die 1,3 DLX, en sy prys is byna R100 000. Dit alleen sal maak dat veral jongmense en diegene wat net-net ‘n nuwe motor kan bekostig, in hom sal belangstel, maar die vraag is of hy die ondersoek werd is.

Wanneer ‘n nuwe maatskappy nog besig is om sy voete te vind, help dit as hy met ‘n gevestigde maatskappy kan saamwerk, en dit is presies wat FAW gedoen het. Die V2 deel sy enjin met die Daihatsu Sirion en die vorige generasie Toyota Yaris, en daarom kan betroubaarheid byna as vanselfsprekend aanvaar word. Die 1,3 liter enjin se kraglewering is ‘n uiters mededingende 67kw teen ‘n effens hoë 6 000 opm en sy wringkrag is 120 Nm teen 4 400 opm. Dit beteken dat hy een van die kragtigste motors in sy prysklas is, maar meer later hieroor.

Vir ‘n motor in hierdie prysklas is die V2 baie goed toegerus. Twee lugsakke en sluitweerremme behoort op alle motors standaardtoerusting te wees, en gelukkig is dit op die V2 die geval. Daar is ook heelwat luukshede wat nie beskikbaar is in sekere mededingers nie, soos allooiwiele, ‘n radio en CD-speler met twee luidsprekers, ‘n verhitte agterruit, lugversorging, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, elektriese spieëls en elektriese vensters voor en agter. Laasgenoemde verdien egter kritiek, want die kontroles vir die vensters hoort in die deure, maar dit is tussen die bestuurdersitplek en die handrem. Die feit dat ‘n agterste ruitveër in sy afwesigheid skitter, is ‘n skande. Die binneruim is groot genoeg vir twee volwassenes en twee kinders, maar soos wat ‘n mens sou kon verwag in ‘n motor in hierdie prysklas, is die bagasiebak effens klein. Die feit dat die agtersitplekke kan platslaan maar nie verdeel is nie, help natuurlik ook nie.

Dit alles klink goed en wel, maar die belangrikste is hoe hy hom op die pad gedra. Die relatief groot enjin maak dat hy oorgenoeg krag het, en hoewel ek nie die geleentheid gehad het om op die oop pad met hom te ry nie, is ek redlik seker dat langer afstande nie ‘n probleem sou wees as die nie vir die baie klein brandstoftenk, wat net 37 liter nou, was nie. Hoewel brandstofverbruiksyfers nog nie bekend gemaak is nie, sal ‘n mens gelukkig wees as jy meer as 400km op ‘n tenk vol brandstof kan ry. Daar is egter ‘n groot probleem wat hopelik net tot die toetsmotor beperk was, maar ‘n bron van groot irritasie kan wees. Die kragstuur is nie besonder akkuraat nie, en dit was moeilik om die stuur stil te hou. Dit het die heel tyd gevoel asof jy wil “korrigeer” terwyl daar eintlik niks verkeerd is nie. Dit is iets waarvoor voornemende kopers liewer maar moet uitkyk. Verder was daar nie veel om te kritiseer wat sy hantering of padhouvermoë betref nie. Die kontroles is maklik om te gebruik, en selfs onervare bstuurders sal geen probleem hê om hom gewoond te raak nie.

Daar is desdae maar min motors vir minder as R 100 000 beskikbaar, en die meeste van hulle kom van China of Indië. Toe die nuwe Chevrolet Spark in 2010 hier bekendgestel is, is die vorige model opgekikker, en as die Spark Lite herbekendgestel. Dit is egter nie seker of hy nog beskikbaar is nie, maar indien wel, is dit dalk die beste kopie vir minder as R 100 000. Nog ‘n moontlikheid is die Chery QQ 3, waarvan die twee 800 cc-modelle teen minder as R 100 000 beskikbaar is. As enjinkrag nie van sovel belang is nie en jy hoofsaaklik na ‘n stadsmotor op soek is, kan die QQ 3, wat sonder twyfel die suksesvolste motor tot dusver uit China is, nie geïgnoreer word nie. As jy meer krag nodig het, kan jy na die 1,1 TXE kyk, maar teen R 106 900. Miskien is ‘n demonstrasiemodel van hierdie een iets om na te kyk. Twee Geely LC-modelle kos ook minder as R 100 000, maar Geely se handelaarsnetwerk is nog nie groot genoeg nie, en ‘n mens kry die indruk dat dié maatskappy sukkel om hulself te vestig al het hulle beheer van die Sweedse vervaardiger Volvo oorgeneem. Laastens is daar die Tata Indica LE, met ‘n 1,4 liter enjin. Tata is nou al geruime tyd lank in Suid-Afrika bedrywig, en die Indica LE het homself as ‘n gewilde keuse in hierdie prysklas gevestig. As ‘n mens na al hierdie alternatiewe kyk, laat dit jou met gemengde gevoelens oor die V 2. Die bewese enjin, die feit dat hy deur die Imperial-groep versprei word en dat hy met ‘n diensplan van 3 jaar of 45 000km kom, tel natuurlik in sy guns, maar daar is ‘n paar belangrike aspekte waar hy te kort skiet.

As jy nie desperaat is om ‘n splinternuwe motor te koop nie, kyk liewer na ‘n demonstraiemodel van die Ford Figo, die Toyota Etios (solank dit ‘n XS is) of ‘n Renault Sandero. Jy gaan dieselfde betaal, ‘n beter motor kry en nie soveel verloor wat die waarborg of (waar van toepassing) die diensplan betref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.