Padindrukke: Hyundai Accent

Foto: cargurus.com

Foto: cargurus.com

Sedert Hyundai se toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark net meer as twintig jaar gelede het die Accent hom as een van die gewildste modelle in dié Koreaanse vervaardiger se modelreeks gevestig.

Die vierde generasie van die Accent is in 2011 bekendgestel, maar was tot dusver net in drie sedan-modelle beskikbaar. Hyundai het egter nou die reeks uitgebrei met die bekendstellingvan ‘n Accent-luikrug om die gaping tussen die i20 en die i30 te vul.

Die luikrug kombineer as’t ware die neus van die Accent-sedan met die agterkant van die vorige i30, en dit is dalk een van die aantreklikste motors in Hyundai se hele reeks.

Die luikrug is net met die luukse Fluid-afwerking beskikbaar, en daar is ‘n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas en ‘n viergang-outomatiese ratkas. Albei modelle word aangedryf deur ‘n 1,6 liter enjin wat 91 kw teen 6 000opm lewer. Die binnekant is presies dieselfde as dié van die Fluid-sedan, behalwe vir die luikrug, en daar is genoeg plek vir vier mense se bagasie, selfs al is daar ‘n volgrootte allooi-noodwiel onder die bagasiebak se vloer. Die bagasieruimte kan verder vergroot word deur die verdeelde agtersitplek plat te slaan en om groot items in die bagasiebak te kry, sal geen probleem wees nie.

Die Fluid-afwerking sluit kenmerke soos Bluetooth met kontroles op die stuurwiel, agterste parkeersensors, elektriese vensters voor en agter en, in die geval van die luikrug, netjiese sestienduim-allooiwiele in.

Hyundai is een van die vervaardigers wat nog nie die neiging om klein enjins met turbo-aanjaers toe te rus, gevolg het nie, en daarom is die Accent se werkverrigting en brandstofverbruik dalk nie so goed soos dié van sekere mededingers nie. Die vervaardigers reken dat hy tot ‘n topsnelheid van 190 km/h in staat sal wees, en sy brandstofverbruik behoort omtrent 12 tot 13 kliometer per liter te wees. Vir ‘n motor van sy grootte en enjinkapasiteit is dit voldoende, maar die brandstoftenk hou slegs 43 liter, en ‘n tenkafstand van omtrent 500km is al wat die gemiddelde motoris sal kan verwag.

Een kenmerk wat by al hoe meer motors voorkom, is ‘n funksie wat jou aanraai wanneer om na ‘n hoër- of lar rat oor te skakel om maksimum brandstofdoeltreffendheid te verseker. Ek het die toetsmotor hoofsaaklik op die oop pad bestuur, en daar is by my geen twyfel dat dit ‘n gemaklike motor sal wees om lang afstande mee af te lê nie. Die kontroles is maklik om te gebruik, en enigiemand sal hom met gemak kan bestuur.

Die Accent het gelukkig nie die Flex Steer-funksie van die i30, wat jou in staat stel om een van drie verstellings vir sy stuur te kies nie. Dit is niks anders as ‘n foefie nie, en dis goed dat ‘n mens met die Accent moet vat wat jy kry. Daar is buitendien niks met die stuurstelsel verkeerd nie; dis dalk ‘n bietjie lig vir die geesdriftige bestuurder, maar die gemiddelde motoris sal dit so verkies.

Dit alles klink goed en wel, maar daar is een groot probleem.

Gewoonlik is ‘n sedan duurder as ‘n luikrug, maar in die Accent se geval is die luikrug duurder. Twee vervaardigers het op die harde manier geleer dat dit nie ‘n suksesresep is nie. In die 1980’s het Toyota die uiters aantreklike Avante as luikrugweergawe van die Corolla bekendgestel, maar hy was nie so gewild soos die sedan nie. Dieselfde het ‘n dekade later gebeur toe Nissan die Sabre as luikrugweergawe van die Sentra bekendgestel het, maar hom teen ‘n hoër prys as die Sentra verkoop het. Weer eens was dit die Sentra wat eerder by die publiek byval gevind het.

Die luikrug is R23 000 duurder as die Fluid-sedan, en die enigste kenmerk wat die luikrug het maar nie standaardtoerusting vir die sedan is nie, is die allooiwiele, wat beslis nie R23 000 kos nie. Daarom is dit moeilik om te verstaan hoekom die luikrug soveel duurder is.

Die prysverskil tussen die Accent en die i30 1,6 Premium is ongeveer R20 000, en baie mense sal redeneer dat dit nie ‘n baie groot verskil is nie en dalk eerder die i30 kies.

Dit is egter nie die enigste probleem nie. Daar is drie mededingers wat enigiemand, wat na ‘n luikrug met ‘n 1,6 liter enjin en ‘n prys van minder as R240 000 op soek is, kan oorweeg.

Die Chevrolet Cruze 1,6 LS-luikrug is effens goedkoper, maar sy werkverrigting is nie juis iets om oor opgewonde te raak nie. As dit ‘n probleem is,  kan ‘n mens na die  turbo-aangejaagde 1,4 kyk, maar hy is duurder.

Daar is twee modelle in Toyota se Auris-reeks wat in hierdie prysklas val, en soos die meeste mense weet, kan ‘n mens nie ‘n fout met ‘n Toyota maak nie. Die XS is die een om te kies, want hoewel hy effens duurder as die Accent is, is hy baie goed toegerus en is die kenmerke wat hom van die goedkoper Xi onderskei, die moeite werd.

Die Kia Cerato 1,6 EX-luikrug is eintlik die i30 se mededinger, maar sy prys is baie dieselfde as dié van die Accent. Dié twee motors deel dieselfde meganiese komponente en daarom is daar min te kies tussen hulle. Die Cerato bied egter beter waarde vir geld, en hy het ‘n groter binnekant en bagasiebak. Daarom is hy my eerste keuse in hierdie klas.

Die Accent was nog altyd ‘n eerlike motor wat baie goeie waarde vir geld bied en met goeie reg heel gewild geword het. Die toevoeging van die luikrug tot die reeks was ‘n goeie idee, maar die prysverskil tussen hom en die vergelykbare sedan is te groot. Tensy jy ‘n baie goeie rede het hoekom jy nie sonder ‘n luikrug kan klaarkom nie, is dit beter om eerder die Fluid-sedan te koop. Jy kry dieselfde motor, maar met ‘n groot bagasiebak wat vir die meeste mense groot genoeg sal wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.