Padindrukke: Jeep Cherokee 2,4 Longitude

“Foto: jeep.com”

Foto: jeep.com

Dit is vanjaar 30 jaar sedert die Jeep Cherokee die marksegment vir middelslag-sportnutsvoertuie geskep het.

Hierdie model was tot 2001 op die mark, en twee generasies het sedertdien gevolg. Die jongste generasie Cherokee is pas hier bekendgestel, en die vraag is of hy so gewild soos daardie oorspronklike model sal wees.

Die aanvanklike reeks bestaan uit vier modelle; die intreevlak-model bekend as die Longitude, twee Limited-modelle en die vlagskip van die reeks, die Trailhawk.

Die vorige Cherokee was dalk nie so suksesvol nie, miskien as gevolg van die hoekige stilering, wat nie so wyd byval gevind het nie. Weer eens sal die Cherokee se stilering mense aan die praat hê, maar om heeltemal ander redes. Veral die neus is opvallend; benewens ‘n nuwe weergawe van die tradisionele Jeep-sierrooster is daar drie stelle kopligte ( die Longuitide kry net twee), wat nogal aan dié van die Nissan Juke herinner. Die agterligsamestellings is net onder die agterruit geplaas, en dit sou dalk beter gelyk het as dit effens groter was.

Dit is egter nie die enigste rede hoekom die nuwe Cherokee omstrede sal wees nie. Jeep is sinoniem met vierwielaandrywing, en ‘n mens wonder hoe die “puriste” gaan reageer op ‘n tweewielaangedrewe model. Die Compass, wat Jeep se intreemodel is totdat die kleiner Renegade aanstaande jaar bekendgestel word, is met niks anders as voorwielaandrywing beskikbaar nie, en dit lyk asof hy nogtans heel gewild is. Die Longitude en Limited is voorwielaangedrewe, maar ‘n vierwielaangedrewe Limited is beskikbaar en die Trailhawk is die model wat by die “hardebaarde” byval sal vind.

Die Longitude is dalk die intreemodel van die reeks, maar hy steek nie juis af by sy duurder stalmaat nie. As jy met materiaalsitplekke wat met die hand verstel moet word, kan saamleef, is die binnekant ‘n baie gemaklike plek. Leerbekleedsel en sitplekke wat elektries vertel kan word, is teen ekstra koste beskikbaar. Die hele reeks kom met sewe lugsakke en stabiliteitsbeheer as standaardtoerusting, asook kopligte wat outomaties aanskakel wanneer toestande dit vereis en ‘n stelsel wat jou waarsku wanneer die sleepwa of woonwa wat jy sleep, dalk besig is om te swaai.

Ongelukkig is stelsels wat jou waarsku as jy te naby aan die voertuig voor jou is, of as ‘n motor in jou blinde kol is, net opsioneel beskikbaar op die Limited en Trailhawk.

Die hele Cherokee-reeks is tot dusver nog net met petrolenjins beskikbaar en die Longitude is toegerus met ‘n viersilinderenjin van 2,4 liter wat 130kw lewer teen ‘n redelike hoë 6 400 omwentelinge per minuut. Maksimum wringkrag is 229 Nm teen 3 900 opm.

Die groot nuus is egter die ratkas; die hele reeks kry ‘n negegang outomatiese ratkas met ‘n handratfunksie as standaardtoerusting. Die vraag is: hoekom nege ratte? Dit lyk asof dit die rigting is waarin outomatiese ratkaste in die toekoms gaan beweeg, en dit sal veral ‘n positiewe uitwerking op brandstofverbruik hê. Daar is nie spane agter die stuurwiel waarmee ratte gewissel kan word nie, maar die ratkieser werk heel goed. Ek het ongelukkig nie die kans gehad om die ratkas in sy volle outomatiese funksie op die proef te stel nie, maar dit is maklik om die ratkieser te gebruik, en die meeste mense sal hom buitendien op die oop pad soos ‘n motor met ‘n handratkas bestuur.

Dit is seker nog te vroeg om oor brandstofverbruik te bespiegel, maar ‘n syfer van omtrent 8,5 liter per 100 kilometer (ongeveer 12 kilometer per liter) word genoem. As dit die geval is, is hy nie so swaar op brandstof as wat ‘n mens sou dink nie. Die feit dat hierdie model voorwielaangedrewe is, help natuurlik.

Daar is nie veel ander opsies vir diegene wat na ‘n tweewielaangedrewe sportnutsvoertuig met ‘n petrolenjin vir minder R 500 000 op soek is nie. Die topmodelle van die Honda CR-V en Toyota RAV 4-reekse kom almal met vierwielaandrywing, en dieselfde geld die Subaru Forester XS. Die Toyota Fortuner 4,0 V6 is omtrent dieselfde prys, maar hy is op ‘n heeltemal ander mark gemik. Die Fortuner is egter swaarder op brandstof en minder verfynd, maar onderdele is makliker om in die hande te kry, en goedkoper. Die BMW X 1 sDrive 20i is heelwat goedkoper, maar soos wat ‘n mens van Duitse vervaardigers kan verwag, is daar ‘n lang lys opsionele ekstras wat die prys kan opjaag. Die BMW X 3, Audi Q 5 en Volvo XC 60 is heelwat duurder, en is net met vierwielaandrywing beskikbaar, terwyl die huidige Land Rover Freelander se beste dae lank al verby is. Dit alles beteken dat daar ‘n mark vir ‘n voertuig soos die Cherokee Longitude is, en dat hy dalk gewilder sal wees as wat ‘n mens mag dink.

Dit sal interessant wees om te sien hoe goed ‘n voorwielaangedrewe Jeep Cherokee ontvang word.

Die meeste mense verwag dat ‘n Jeep niks anders as vierwielaandrywing behoort te hê nie, maar dan gebruik min mense sportnutsvoertuie gereeld vir avontuurritte. Diegene wat dit wel vir hierdie doel gebruik, sal in die Trailhawk belangstel as hulle hom kan bekostig, maar vir dié vir wie ruimte belangriker as veldryvermoë is, is daar nie juis veel met die Longitude verkeerd nie. Daarby maak dit sin om ‘n tweewielaangedrewe sportnutsvoertuig te koop, omdat dit goedkoper is om te onderhou as een met vierwielaandrywing. Dit sal nie lank duur voordat mense die stilering gewoond raak nie, en sodra dit gebeur, en die beplande dieselaangedrewe modelle bekendgestel word, sal die nuwe Cherokee al hoe gewilder word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.