Padindrukke: Kia Cerato Koup 1,6 T-GDI Outomaties

kia koup

Kia Cerato Koup

Tydens verlede jaar se Johannesburgse Internasionale Motorskou het Kia die Suid-Afrikaanse publiek ‘n voorsmakie van die nuwe Cerato Koup gegee, en hierdie model is intussen in Suid-Afrika bekend gestel.

Die vorige generasie Koup was omtrent drie jaar op die mark, maar Kia het besluit dat dit tyd was vir ‘n nuwe model. Die groot verandering is dat die nuwe een toegerus is met ‘n turbo-aangejaagde viersilinderenjin met ‘n turbo-aanjaer wat 152 kw lewer. Daar is ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas, elk met ses gange, en ek het die outomatiese model vir ‘n toetsrit geneem.

Die vorige Koup was ‘n pragtige motor, seker die mooiste een teen ‘n redelike prys, en daarom is dit goed dat Kia se ontwerper, Peter Schreyer, nie veel aan die nuwe model getorring het nie. Die groot verskil is dat nuwe agttienduim-allooiwiele standaardtoerusting is, maar verder is dit herkenbaar ‘n nuwe weergawe van die vorige model.

Daar is werklik niks aan hierdie motor wat nie funksioneel is nie, en dis goed dat Schreyer die versoeking weerstaan het om groot drukvlerke of syskorte aan die bakwerk aan te bring. Die wit toetsmotor het geen aanduiding van sy verrigtingspotensiaal gegee nie, maar ek moet sê dat die rooi model wat ook op die vertoonvloer te sien was, dalk mooier gelyk het. Dit is egter moontlik dat een van die twee skakerings van metaalblou die motor op sy heel beste sal laat vertoon.

Die binnekant, asook die bagasiebak, is verbasend groot vir ‘n motor in hierdie klas, en die gedagte om hom as ‘n gesinsmotor te gebruik, is nie so lagwekkend as wat in die geval van ‘n verrigtingsluikrug soos die Ford Fiesta ST of Peugeot 208 GTI sou wees nie. Daar is dalk selfs meer binneruimte as in ‘n groter koepee soos die BMW 4-reeks, wat beperkte kopruimte voor en agter het. Enigiemand onder 1,8 meter sal gemaklik agter inpas, en daar is net-net genoeg kopruimte in die agterste sitplek. Die agterste kantruite maak nie oop nie, maar die goeie klimaatbeheerstelsel vergoed daarvoor.

Daar is ‘n verdeelde agtersitplek wat platgevou kan word, maar die hefbome om dit te doen, kan net bereik word deur die bagasiebak oop te maak. Dit is ‘n baie belangrike veiligheidseienskap; as ‘n dief toegang tot die kajuit kry, kan hy nie by die bagasiebak uitkom nie.

Die Koup is besonder goed toegerus, en feitlik enige kenmerk wat ‘n mens redelikerwys in ‘n motor van omtrent R 350 000 kan verwag, is standaardtoerusting. Die uitsondering is satellietnavigasie, wat nie eens as ‘n opsie beskikbaar is nie. Daar is egter parkeerhulp voor en agter, ‘n tru-kamera en omtrent elke veiligheidskenmerk denkbaar is ook standaard. Dit sluit stabiliteitsbeheer, wat afgeskakel kan word, in, maar ‘n mens sal onnosel wees om dit af te skakel.

Die nuwe enjin is ‘n verbetering op die tweeliterenjin waarmee die vorige model toegerus was, en daar is geen gebrek aan krag nie, ongeag die bestuurstoestande. Die wringkrag teen lae toere is voldoende en die outomatiese ratkas pas baie goed by hierdie soort motor. As jy in swaar verkeer ry, kan jy die ratkieser bloot in Drive los en ontspan, maar op die oop pad kan jy ratte wissel met die ratkieser of die spane agter die stuurwiel. Daar is ‘n ratwyser in die instrumentepaneel, wat selfs met die outomatiese ratkas baie handig is.

Daar is drie stuur-verstellings wat jy kan afwissel na gelang van padtoestande en of jy rustig wil ry of wil jaag, maar dit is eintlik niks anders as ‘n foefie nie.Gelukkig is dit die enigste kenmerk van hierdie motor wat nie heeltemal nodig is nie.

Die vervaardiger reken dat die Koup met die outomatiese ratkas tot 222 km/h in staat is, en daar is geen rede om dit in twyfel te trek nie. As gevolg van die uitlaatstelsel mag daar net met die Koup gesleep word nie, maar ‘n mens moet byvoeg dat geen regdenkende mens dit in elk geval sou doen nie. As jy soveel geld vir ‘n motor het en jy wil ‘n sleepwa of woonwa sleep, moet jy liewer na ‘n Sportage of ‘n Optima kyk.

Dit is verbasend om te sien dat daar geen tekort aan mededingers in die marksegment vir koepees tussen R 300 000 en R 350 000 is nie. Die Opel Astra 1,6 GTC Sport is effens goedkoper, maar is net met ‘n handratkas beskikbaar en buitendien is die duurder en vinniger OPC die een wat die meeste motorliefhebbers sal begeer.

Die Toyota 86 het my geweldig beïndruk toe hy op die mark verskyn het, maar sy kleiner binnekant en bagasiebak maak hom onprakties vir alledaagse gebruik. Nog ‘n mededinger in hierdie klas is die VW Scirocco, veral die 1,4 TSI, maar hy gaan binnekort onder die poeierkwas deurloop en ons sal moet kyk watter invloed op sy prys sal hê.

Laastens is daar die Hyundai Veloster, wat binnekort met dieselfde turbo-aangejaadgde enjin as die Koup toegerus sal word en dieselfde behoort te kos. Die Veloster se groot probleem is egter dat sy onkonvensionele stilering as niks minder as omstrede beskou kan word nie en dat sy tru-kamera (anders as dié van die Koup) sy swak uitsig na agter beklemtoon. Die gewone Veloster is goedkoper, maar soos die Honda Prelude van die middel- tot laat 1990’s en die Mazda Astina is hy meer bek as binnegoed in die sin dat sy werkverrigting uiters teleurstellend is.

Hieruit kan ‘n mens aflei dat die Koup die beste kopie in sy marksegment is. Hy is groot genoeg vir ‘n gesin, en daarom sal dit ‘n beter langtermyn-keuse vir ‘n jongmens as iets soos ‘n Ford Fiesta ST of ‘n Peugeot 208 GTI wees. Daarby gee sy lang waarborg en diensplan die gemoedsrus wat nodig is wanneer ‘n mens ‘n motor langer as net twee of drie jaar moet hou.

Dit was sonder twyfel een van die genotvolste motors wat ek die laaste tyd toetsbestuur het, en kan nie sterk genoeg aanbeveel word vir enigiemand wat na ‘n motor in hierdie marksegment soek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.