Padindrukke: Nissan Qashqai 1,2 T Acenta

Foto: Quickpic

Foto: Quickpic

Sedert sy bekendstelling in 2007 het die Qashqai die gewildste model in Nissan se Suid-Afrikaanse reeks geword.

Die tweede generasie is egter pas vrygestel, en die vraag is of die nuwe model op die sukses van sy voorganger kan voortbou.  Die aanvanklike reeks bestaan uit vyf modelle, wat beskikbaar is met ‘n nuwe 1,2 liter turbo-aangejaagde petrolenjin of ‘n keuse van twee turbo-aangejaagde dieselenjins van 1,5 of 1,6 liter. Ek het die luukse petrolmodel, die 1,2 Acenta, vir ‘n toetsrit geneem.

Die stilering van die nuwe Qashqai verskil nie veel van dié van die vorige model nie. Dit was nie regtig nodig om daaraan te torring nie, en die belangrikste verskille is aan die voor- en agterkante te sien.  Hoe ook al, dit is ‘n aantreklike motor wat nie gou verouderd sal lyk nie. Die toetsmotor het die 17-duim allooiwiele wat standaardtoerusting op hierdie model is, gehad, maar daar is ook 19 duim-allooiwiele opsioneel beskikbaar. Hierdie wiele lyk miskien mooi, maar as jy bande moet vervang, gaan jy ‘n fortuin betaal.

Foto: Quickpic

Foto: Quickpic

Die binnekant is ruim genoeg vir ‘n gesin van vyf met al hul bagasie, en vir diegene wat van ‘n luikrug hou maar kleiner motors met hierdie bakvorm ontgroei het, sal die Qashqai dalk die antwoord wees. Dit is maklik om ‘n gesin van vyf mense met al hul bagasie in te pas, en dit kan nie noodwendig van sommige van sy mededingers gesê word nie. Die toetsmodel is dalk nie die topmodel in die reeks nie, maar die vlak van afwerking is uiters indrukwekkend. In vergelyking met die intreemodel, die Visia, kom die Acenta ook met allooiwiele eerder as wieldoppe, ruitveërs wat outomaties aanskakel as dit begin reën, buitespieëls wat elektries terugvou, klimaatbeheer, outomatiese kolpigte en voorste misligte. Die hele reeks het egter ‘n vloeikristal-dagryligte, Bluetooth, spoedbeheer, ‘n volledige ritrekenaar en baie goeie klankstelsesl as standaardtoerusting.

Nissan is die eerste Japanse vervaardiger wat die gewilde neiging om kleiner enjins met turbo-aanjaers toe te rus, volg, en die Qashqai is die eerste model wat met die nuwe 1,2 liter-enjin toegerus word. Diegene wat die vorige Qashqai ken, sal weet dat hy met enjins van 1,6- en twee liter beskikbaar was en die vraag is of hierdie nuwe enjin geskik is vir ‘n motor van die Qashqai se grootte.

Die syfers lyk baie indrukwekkend; 85 kw teen 4 500 opm en 190 Nm teen 2 000 opm. Dit beteken dat hy sy maksimum krag en wringkrag teen uiters lae toere lewer, en dit alleen klink uiters belowend.

Die eerste ding waaraan ‘n mens egter gewoond moet raak, is die elektriese handrem. Daar is nie ‘n konvensionele handrem tussen die sitplekke nie; die kontrole is regs van die rathefboom. Dit duur egter nie lank voordat ‘n mens dit gewoond raak nie.

Die meeste modelle in die Qashqai-reeks kom met ‘n sesgang-handratkas as standaardtoerusting en die rathefboom en koppelaar is maklik om te gebruik.  Soos met sekere Hyundai- en Kia-modelle is daar ‘n keuse van stuurverstellings, en as jy regtig wil, kan jy die sportverstelling kies. Hierdie kenmerk is egter ‘n foefie, en die meeste mense sal nie eens die moeite doen om die verstelling te verander nie.

Omdat die maksimum-wringkrag teen sulke lae toere beskikbaar is, is dit hoegenaamd geen probleem om in die verkeer bestuur nie, en die oop pad is ‘n absolute plesier. Die Qashqai kom met ‘n konvensionele- en ‘n digitale spoedmeter wat albei maklik is om te lees, en jy kom nie agter hoe vinnig jy met hom kan versnel nie. Hoewel hierdie spesifieke model nie as ‘n verrigtingsmotor beskou kan word nie, is sy werkverrigting heel voldoende.

Daar is natuurlik net een vraag wat net met verloop van tyd beantwood kan word: Nissan het deur die jare ‘n baie goeie reputasie opgebou vir hul onvernietigbare enjins (om ‘n advertensie van jare gelede aan te haal). Die vraag is net: hoe lank gaan hierdie nuwe turbo-aangejaagde enjins hou, en wat gaan dit kos om ‘n turbo-aanjaer te vervang as dit nodig sou wees?

Die Qashqai is nie juis ‘n gewone luikrug  (Nissan beplan ‘n nuwe model vir daardie marksegment) of ‘n sportnutsvoertuig nie, maar kombineer die beste van albei. Daarom is daar min motors wat regstreeks met hom kan meeding.  Die nuwe Suzuki SX 4 het my nogal beïndruk, maar hy is nie met ‘n dieselenjin beskikbaar nie en die handelaarsnetwerk is kleiner as dié van Nissan. Die GLX is effens goedkoper, maar  die verskil is nie baie groot nie. Die ander motor wat in hierdie kategorie val, is die Peugeot 2008. Soos die Suzuki, is hy net beskikbaar met ‘n konvensionele 1,6 liter enjin en is hy nie veel goedkoper as die groter 3008 nie. Daarby is sy bestuursposisie uiters irriterend.  Miskien kan die VW Golf 1,2 TSI Trendline ook as ‘n mededinger beskou word, al is dit nie ‘n “oorkruisvoertuig” nie. Die Golf lewer egter minder krag en is ook nie so goed toegerus nie. Hoewel sy prys baie goed met dié van die Qashqai vergelyk, is sommige van die Qashqai se standaardkenmerke opsionele ekstras op die Golf. Nissan se mededinger in die Golf se klas moet egter nog hier bekendgestel word.

Die nuwe Qashqai is maar net nog ‘n bewys dat Nissan weer op pad boontoe is. Die Qashqai is dalk effens duurder as die gemiddelde luikrug, maar dan is hy heelwat ruimer en miskien op ‘n ander teikenmark gemik.  Vir diegene wat hom kan beskostig, is hy egter deur en deur die moeite werd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.