Padindrukke: Peugeot 2008 1,6 Allure

Foto: mostpopularcars.net

Foto: mostpopularcars.net

Tydens verlede jaar se Johannesburgse Internasionale Motorskou het Peugeot die 2008 gewys, en dié model is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Daar is in hierdie stadium nog net een model beskikbaar, naamlik die 1,6 Allure, wat sy enjin met die hoog aangeskrewe 208-luikrug deel. Die 2008 is egter ‘n kruising tussen ‘n sportnutsvoertuig en ‘n luikrug, en ding mee teen onder meer die Suzuki SX 4, die Kia Soul en die Mini Clubman.

Nie lank gelede nie moes Peugeot onder heelwat kritiek deurloop, veral as gevolg van die groot sierroosters waarmee sommige modelle, soos die 3008, die 407 en die 207 toegerus is, maar die 2008 is een van die beste voorbeelde van Peugeot se nuwe ontwerpstyl en seker een van die aantreklikste motors in sy klas.

Buitespieëls met chroom-afwerking is standaardtoerusting, maar as jy regtig wil, kan jy dié spieëls ook in helder kleure soos lemmetjiegroen of pienk bestel. Nugter weet egter wie dit sou doen, of hoekom. Daar is ook stewige dakrelings, waaraan ‘n dakrak maklik vasgemaak kan word.

Deur die jare het Peugeot-stasiewaens bekendheid verwerf vir hul groot binnekante, en die 404- en 504-stasiewaens was van die beste gesinsvoertuie van die 1960’s en 1970’s. Die 208 doen die reputasie van sy legendariese voorgangers gestand, en daar is oorgenoeg plek vir vyf mense en al hul bagasie. Dit is egter waar die goeie nuus wat die binnekant betref, ophou.

Die 2008 is baie goed toegerus, en ‘n raakskerm met ‘n geïntegreerde navigasiestelsel is standaardtoerusting. Hierdie kenmerk het egter sy voor- en nadele. Hoewel die navigasiestelsel uiters handig is, beteken dit dat ‘n CD-speler afwesig is. Dit is ‘n moderne neiging wat nie goedgepraat kan word nie, want nie almal wil hul musiek noodwendig op ‘n geheuestokkie of ‘n MP3-speler hê nie, en verkies nog om na CD’s te luister.

Dan is daar ook die eienaardige bestuursposisie wat heelwat kritiek by die 2008 ontlok het. Die instrumentepaneel is hoog op die paneelbord gemonteer, en jy kan dit nie deur die stuurwiel sien nie. Daar is twee spoedmeters, ‘n gewone een en ‘n digitale een, en omdat die gewone een nie op die gewone manier afgemerk is nie, is die digitale een nogal welkom. Dit doen egter niks anders as om ‘n ontwerpersfout te beklemtoon nie.

Die handrem is op die gewone plek tussen die voorste sitplekke, maar het ‘n eienaardige vorm. Dit werk net so goed soos ‘n gewone een, maar dit is ‘n voorbeeld van iets wat anders is net om snaaks te wees en geen wesenlike voordeel inhou nie.

Hoewel die 208 GTI met Peugeot se wonderlike turbo-aangejaagde 1,6 liter enjin toegerus is, kom die 2008 met ‘n gewone enjin met dieselfde kapasiteit oor die weg. Nogtans is daar genoeg krag, en behoort sy werkverrigting voldoende vir sy teikenmark te wees.

Die 2008 se gemiddelde brandstofverbruik behoort ongeveer 13 kilometer per liter en met sy groot 60 liter-brandstoftenk kan ‘n tenkafstand van ongeveer 800km verwag word. Een kenmerk van die meeste Franse voertuie is dat hul veerstelsels gemaklik is, sonder om te sag te wees, en dit maak dat lang ritte in die 2008 vir alle passasiers ‘n plesier sal wees. Anders as sommige ander Franse motors is die kontroles presies waar ‘n mens dit verwag, behalwe vir die knip vir die enjinkap, wat steeds aan die linkerkant is. Die bestuursposisie en die ligging van die instrumentepaneel doen egter afbreuk aan die bestuurservaring.

Die 2008 se prys is byna R270 000, en dit is sy grootste probleem. Die groter 3008 het onlangs detailveranderinge ondergaan, en die nuwe model se prys is slegs R4 000 duurder. Daarby is die nuwe model baie meer aantreklik as sy voorganger, wat deur sommige mense as doodeenvoudig lelik beskou is.

Hoewel die 2008 se krag-tot-massaverhouding beter is as dié van die 3008, bied die 3008 baie beter waarde vir geld. Daar is ook ‘n paar baie aantreklike mededingers teen daardie prys. Die Suzuki SX 4 1,6 GL is ook onlangs bekendgestel, en is omtrent dieselfde prys. Hoewel die GL die intreemodel is, het hy die meeste belangrike kenmerke as standaardtoerusting. Daarby het Suzuki ‘n baie goeie reputasie vir betroubaarheid en naverkoopdiens.

Die Mini Clubman kan ook as ‘n mededinger beskou word, maar hy is minder prakties, en hy kan baie duur word as net ‘n paar opsionele ekstras gekies word.

Die Kia Soul is ook veronderstel om in hierdie klas te val, maar hy is nie naastenby so ruim soos die 2008 nie. Veral die klein bagasiebak is ‘n groot probleem. Daarom is daar geen beter kopie in hierdie pryskategorie as die SX4 nie.

Aan die ander kant is dit nie nodig om soveel geld te bestee om ‘n veelsydige motor van 1,6 liter te koop nie; die Renault Duster 1,6 Dynamique se prys is R60 000 minder, en ‘n mens sal ver soek om beter waarde vir geld te kry as dit die tipe motor is waarin jy belangstel.

Die 2008 kon ‘n sukses gewees het, maar sy bestuursposisie is ‘n enorme kopseer en sy prys is te naby aan dié van die 3008. As dit nie daarvoor was nie, kon ‘n mens hom dalk oorweeg het, maar ongelukkig is daar geen manier waarop die 2008 aanbeveel kan word nie. As jy egter wel in ‘n Peugeot belangstel, is die 3008 ‘n baie beter keuse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.