Padindrukke: Renault Sandero 66kw Turbo Stepway

renault_sandero_stepway_suvSedert sy bekendstelling vroeg in 2009 het die Renault Sandero homself gevestig as ‘n gewilde keuse vir diegene wat na ‘n ruim dog bekostigbare motor op soek was.

Vroeër vanjaar het die Sandero egter sulke groot veranderinge ondergaan dat dit as ‘n splinternuwe motor beskou kan word. Die reeks het aanvanklik net uit die Expression en die Dynamique bestaan, maar die nuwe weergawe van die Stepway is ook pas bekendgestel.

Die vorige Stepway was veral gewild, omdat hy ‘n hoër grondvryhoogte as die gewone modelle gebied het, en vir sommige mense ook meer aantreklik was. Die nuwe een sal by dieselfde teikenmark byval vind, maar hierdie keer het Renault wyslik besluit om hom met 16 – eerder as 17 duim-wiele toe te rus. Die kleiner wiele maak nie veel verskil aan die voorkoms nie, en die nuwe model se bande sal natuurlik heelwat goedkoper wees. Die nuwe Sandero pas baie goed in by die nuwe reeks Renaults in, en die nuwe, groter kenteken op die neus maak dat jy hom met geen ander motor kan verwar nie.

Die ander groot verskil is dat die Sandero nie meer hier vervaardig word nie, maar vanuit Romenië hiernatoe ingevoer word. Dit laat natuurlik die vraag ontstaan hoe lank die Nissan NP 200-bakkie, wat familie van die Sandero is, nog hier vervaardig sal word. Soos voorheen, is dakrelings, modderskermskorte en Stepway-kentekens op die deure standaardtoerusting.

Aan die binnekant is daar goeie en slegte nuus. Die nuwe Stepway is baie beter toegerus as voorheen, en ‘n baie goeie klankstelsel met Bluetooth, elektriese vensters en spieëls, en ‘n hoogteverstelbare bestuurdersitplek en stuurkolom is alles standaardtoerusting. Die klankstelsel en die kontroles vir die lugversorger is hoër geplaas as voorheen, en die knoppie waarmee die motor se deure oop- en toegesluit kan word, is nou tussen die voorste middelste luguitlate.

Die kontroles vir die elektriese vensters is ongelukkig steeds op die verkeerde plek, veral vir die agterste insittendes. Dit hoort in die deure, maar dié vir die agterste ruite is net agter die middelkonsole. Hoekom is daar nie maar handvensters vir die agterste insittendes voorsien nie?

Nog iets wat op die verkeerde plek is, is die toeter. Dit hoort op die stuurwiel te wees, maar nou moet ‘n mens die beheerstokkie vir die flikkerlig na jou toe druk om die toeter te gebruik.

‘n Welkome nuwe kenmerk is egter ‘n beheerstokkie aan die regterkant van die stuurkolom wat jou in staat stel om die radio in te stel en die volume te verstel. Dit is voorheen aan die Clio, Mégane en Scénic aangebring, en dis goed om dit ook nou in die Sandero te sien.

Die grootste, en dalk mees omstrede, verandering is egter onder die enjinkap. Die vierde generasie van die Clio is verlede jaar bekendgestel, en twee modelle is beskikbaar met ‘n turbo-aangejaagde driesilinderenjin met ‘n kapasiteit van 900 cc. Hierdie enjin is ook nou standaardtoerusting op die Sandero, en dit laat ‘n mens met gemengde gevoelens. Enige driesilinderenjin klink fantasties, en die Sandero stel in hierdie opsig nie teleur nie. Die verhoudings van die vyfgangratkas is ideaal, en om by te hou by die verkeer behoort nie ‘n probleem te wees nie.

Daar is natuurlik vraagtekens oor die langtermyn-betroubaarheid van ‘n enjin soos hierdie een, maar ‘n mens moet onthou dat Renault die eerste vervaardiger was wat ‘n turbo-aangejaagde enjin in ‘n Formule 1-motor gebruik het en enige moeilikheid is sekerlik teen hierdie tyd al uitgestryk.

Die hele Sandero-reeks kom met stabiliteitsbeheer, sluitweerremme en vier lugsakke as standaardtoerusting, en as ‘n mens in aanmerking neem dat baie jongmense hom sal koop, is dit ‘n baie goeie besluit. Volgens die toetsmotor se ritrekenaar was die gemiddelde brandstofverbruik 6,6 liter per 100 kilometer, maar hy behoort tot beter in staat te wees. Hoekom sy brandstofverbruik nie meer in die meer logiese kliometer per liter aangedui word nie, weet nugter.

Daar word al hoe meer motors in die Stepway se klas bekendgestel, en sy vernaamste mededingers is op die oomblik die VW Polo Vivo Maxx en die GWM C 20 R. Daar word ook bespiegel dat Toyota ‘n model by die Etios-reeks gaan voeg wat met die Stepway gaan meeding. Ongelukkig vir GWM het die C 20 R se prys aansienlik sedert sy bekendstelling gestyg, en dit lyk nie meer na die aantreklike alternatief wat hy kon gewees het nie.

Die Polo Vivo Maxx sal ook nie die ondersoek werd wees totdat ‘n diensplan standaardtoerusting is nie. Die Stepway het wel ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km, wat teen ekstra koste verleng of na ‘n volle onderhoudsplan opgegradeer kan word. Engiemand wat ‘n nuwe Sandero wil koop, moet maar hiervoor begroot.

Die Stepway se grootste probleem is egter die prysverskil van byna R20 000 tussen hom en die middelste model in die reeks, die Dynamique. Daar is baie min kenmerke wat die Stepway het wat nie standaardtoerusting op die Dynamique is nie, en daarom is die Dynamique beter waarde vir geld. Watter model jy ook al kies, sal jy ‘n motor kry wat ‘n verbetering op sy voorganger is, en meer ruimte en standaardtoerusting as enigiets anders in sy prysklas bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.