Padindrukke: Toyota Corolla 1,6 Prestige

Toyota Corolla

Toyota Corolla

Sedert die Toyota Corolla in 1975 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekend gestel is, het dit seker ons land se topverkoper-motor tot nog toe geword.

Die laaste generasie, wat in 2006 in Suid-Afrika bekend gestel is, was minder gewild, maar net omdat Suid-Afrikaners goedkoper motors begin koop het en nie omdat dit ‘n minder goeie motor as sy voorgangers was nie. By die Johannesburgse Internasionale Motorskou van verlede jaar het Toyota die elfde generasie (die sewende een wat hier beskikbaar is) aan die publiek gewys, en hierdie nuwe modelreeks is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die reeks bestaan uit elf modelle met ‘n keuse van vier enjins, drie petrol en een diesel, en ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die model wat die beste behoort te verkoop, is die 1,6 Prestige, en dit is die model wat ek vir ‘n toetsrit geneem het.

Die nuwe Corolla is baie meer aantreklik as voorheen, en die langer asafstand maak dat hy heelwat ruimer as voorheen is. Dit is ‘n ontwerp waaarvoor ‘n mens nie gou moeg sal word nie en wat die toets van die tyd baie goed behoort te deurstaan. Een belangrike punt van kritiek wat gelewer behoort te word, is dat Toyota op die goedkoper modelle (bekend as die Esteem) steeds plastiekwieldoppe gebruik. Ander mededingers, soos die Kia Cerato, die Chevrolet Cruze en die Opel Astra-sedan het allooiwiele op alle modelle, en dis tyd dat Toyota hul voorbeeld volg. Die toetsmodel se sestienduim-allooiwiele het egter baie goed gelyk.

Die binnekant van die nuwe Coolla is baie goed afgewerk en kop-, been- en bagasieruimte is heeltemal voldoende vir ‘n gesin van vier met hul bagasie. Daar is ‘n paar aangename verrassings wat die Prestige, wat as die middelste vlak van afwerking beskou kan word, betref. Benewens die kenmerke wat ‘n mens sou verwag, soos ‘n veelfunksiestuurwiel, lugversorger, ‘n goeie klankstelsel en elektriese vensters voor en agter is daar twee aangename verrassings.

Toyota het dit gewaag op leerbekleedsel standaardtoerusting te maak. Nie een van die Corolla se mededingers kan in hierdie opsig saamgesels nie. Hoewel dit ‘n kwessie van persoonlike smaak is, verdien Toyota lof vir die besluit om dit op feitlik die hele reeks in te sluit.

Die ander verrassing is ‘n tru-kamera. Sommige mense beskou dit dalk as ‘n luukse, maar as jy in ‘n plek parkeer waar jy dalk sukkel om uit te kom, is dit ‘n groot voordel. Weer eens is dit ‘n kenmerk wat nie op ander motors in sy marksegment beskikbaar is nie, en daarom verdien Toyota volpunte hiervoor.

Een kenmerk van die binneruim wat egter kritiek verdien, is die uitleg van die instrumentepaneel. Die spoedmeter en toereteller is in twee groot wyseplate met die petrolmeter regs van die spoedmeter. ‘n Klein digitale temperatuurmeter is onder die spoedmeter, saam met die uitleespaneel van die afstandmeter en ritrekenaar, wat heeltemal te klein is. Om een of ander rede het Toyota op ‘n ander uitleg vir die Exclusive (die topmodel ) se instrumentepaneel besluit. Hierdie model het die petrol- en temperatuurmeters in die wyserplate van die spoedmeter en die toereteller, met ‘n groot uitleespaneel van die ritrekenaar tussenin. Hier is die eerste kenmerk wat aandag behoort te kry wanneer die tyd vir detailveranderinge aanbreek.

Die 1,6 Prestige verskil meganies nie veel van sy voorganger nie; die enjinkapasiteit en kraglewering is dieselfde en Toyota het die versoeking weerstaan om die petrolenjins met turbo-aanjaers toe te rus. Dit laat ‘n mens met gemengde gevoelens. Die jongste neiging is om enjins kleiner te maak en hul kraglewering met behulp van turbo-aanjaers te verhoog. Dit maak hulle meer brandstofdoeltreffend en verbeter beslis hul werkverrigting. Dit is egter net die helfte van die saak: daar is nog vrae oor betroubaarheid en of hul loopkoste nie dalk hoog sal wees as die waarborg en diensplan eers verstryk het nie.

Wat werkverrigting betref, was daar nie veel met die toetsmodel verkeerd nie. Die enjin lewer genoeg krag en in swaar verkeer of op die oop pad is hy baie maklik om te bestuur. Jy moet dalk nie veel opwinding verwag nie, maar as dit vir jou belangrik is, moet jy dalk eerder na ‘n klein verrigtingsluikrug teen dieselfde prys kyk. Dit laat ook die vraag ontstaan of die 1,8 Prestige die moeite werd is, en of ‘n mens nie dalk eerder die 1,8 Exclusive moet oorweeg as jy hom kan bekostig nie. As jy ‘n woonwa wil sleep, is die 1,8 dalk die ekstra paar duisend werd, maar andersins is die 1,6 voldoende.

Vroeër jare was daar nie veel mededingers in die Corolla se prysklas nie, en daarom was dit lank die outomatiese keuse vir enigiemand wat na ‘n sedan in hierdie klas gesoek het. Dit het egter nou verander, en verskeie vervaardigers het die laaste tyd vorendag gekom met modelle wat nie oor die hoof gesien kan word nie. Die jongste Kia Cerato is verlede jaar bekendgestel, en elke generasie was tot dusver heelwat beter as die vorige een. Dit is op hierdie stadium dalk die Corolla se grootste bedreiging.

Die Nissan Sentra is na ‘n lang afwesigheid terug, en hoewel daar net een model in die reeks met ‘n keuse tussen ‘n hand- en outomatiese ratkas is, is hy presies op dieselfde mark a die Corolla gemik. Daarby is die Sentra baie aantrekliker as voorheen. Die Hyundai Elantra het drie jaar gelede die Motor van die Jaar-titel gewen, maar hy gaan vanjaar nog ‘n paar veranderinge ondergaan; hopelik sal die 1,6 beter toegerus wees as wat nou die geval is. Twee onderskatte motors in hierdie klas is die Opel Astra 1,6 Essentia en die Renault Fluence 1,6 Expression. Albei hierdie motors bied goeie waarde vir geld, en behoort ernstig oorweeg te word.

Sedert die Corolla die Suid-Afrikaanse mark oorheers het, het daar baie dinge gebeur wat gemaak het dat hy minder gewild geword het. Dit is nie dat die nuwe modelle swakker of minder aantreklik as voorheen is nie, maar eerder dat hy nie meer so bekostigbaar as voorheen is nie. Daarby het die mededingers wat hierbo genoem word, die lewe al hoe moeiliker vir Toyota begin maak.

Daar is egter heelwat redes hoekom die nuwe Corolla verdien om gewild te word. Toyota se handelaarsnetwerk is so groot dat niemand sal sukkel met naverkoopdiens nie en dat die meeste Toyota-eienaars tevrede met hul motors is. Die feit dat Toyota met “konvensionele” enjins volhard, is nog iets wat in die Corolla se guns tel; jy hoef jou nie oor buitensporige loopkostes te bekommer wanneer die motor ouer word nie. Ondanks kritiek dat Toyota nie genoeg gewaag het met die nuwe Corolla nie, is dit steeds ‘n motor wat sterk aanbeveel kan word in hierdie prysklas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.