Padlangs: ʼn Hoofstraat vol gate, hoog bo seevlak en die dorre N4

Die derde en laaste dag van ons reistog saam met Suzuki en Leisure Wheels neem ons van Oliver’s in Witrivier, deur Lydenburg en Dullstroom na die N4 en terug huis toe. Vir dié 412 km is ons terug in die Suzuki Vitara Turbo.

Ek wou graag weer ʼn tydjie met die Ignis deurbring, maar logistiek het dit moeilik gemaak. My koets moes terug na Suzuki Suid-Afrika se hoofkantoor en daar wag ʼn ander tjor daar vir my. Min wetend dat ek oor ʼn paar kilometer darem bitter bly sou wees oor dié Turbo.

Ons verlaat vroegoggend ʼn pragtige Oliver’s in Witrivier. Dis ʼn kort sprong tot in Lydenburg. Soos ons oor die koppie kom, is ek beïndruk met die bodorp. Daar is ʼn reuselandgoed aan die regterkant, maar namate ons al laer af na die middedorp gaan, onthou ek dat ek al hier was, in ʼn Mini – en die slaggate was nie só mini nie.

Verby ʼn sekere punt is daar amper geensins ʼn teerpad oor om van te praat nie. Al die steenkooltrokke het glo in ʼn stadium hierlangs gery en die pad verwoes. Ek wonder hoe lank dit al só lyk, en of daar enigsins planne is om dit te herstel. Ai tog! Van Lydenburg af tot in Dullstroom klim ʼn mens. Ons het nog tweerigtingradio’s in die karre, en dis vir my verskriklik lekker om hard te versnel en die twee kleiner tjorretjies weg te ry, en dan op die radio te vra waar hulle is.

Dullstroom is ʼn hoë 2 100 m bo seevlak. Die Vitara se 1.4-turbopetrolenjin is nog puik. Die ander twee buksies kry nou swaar. Ons groet mekaar by die Seattle Coffee Company in Dullstroom, want van hier af gaan almal in verskillende rigtings. Ons gee die radio’s terug, en neem afskeid.

Terwyl ons op die N4 klim, stel ek die spoedkontrole op 130 km/h en wys die Vitara na die N12 … dis droog en Mpumalanga se besoedeling hang in die winterlug. Toni se sinusse het so te sê nou al heeltemal opgepak, maar ons gee nie om nie. Dit was ʼn pragtige, opwindende drie dae. Die dae was vol stories en skaterlag.

Een ding bly vir seker: Die oop pad is ʼn lieflike plek, en ʼn mens herlaai jou liggaam, hart en siel – kilometer vir kilometer.

Die drie Suzuki’s het hulle fantasties gedra. Die S-Presso, Ignis en Vitara kon meer as duisend kilometer met gemak opeet. Ons Vitara Turbo het maklik 5.6 ℓ/100 km gehandhaaf en skrams geklim na 6.4 ℓ/100 km om tot op die platorand oor die berge te kom.

Suzuki se drie sportnutsies wat maklik as luikrûe verwar kan word, het al die grondpaaie, bergpasse en bulte verorber waaraan ons hulle blootgestel het. Klim in jou tjor, en ry daai pad – jy sal verbaas wees hoe ver jy kan gaan.

Die drie lyk só:

 Suzuki S-Presso 1.0 S-EditionSuzuki Ignis 1.2 GLXSuzuki Vitara 1.4T GLX
Enjin1.0-driesilinder1.2-viersilinder1.4-turboviersilinder
Krag50 kW/90 Nm61 kW/113 Nm103 kW/220 Nm
Ratkas5-spoedhandrat5-spoedhandrat6-spoedhandrat
Brandstoftenk27 ℓ32 ℓ47 ℓ
Brandstofverbruik4.9 ℓ/100 km5.1 ℓ/100 km5.8 ℓ/100 km
Lugsakke227
Diensplan & waarborg2 jaar/30 000 km- diensplan

5 jaar/200 000 km- waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

5 jaar/200 000 km- waarborg

PrysR152 900R216 900R396 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.