Padlangs saam met Suzuki en ‘Leisure Wheels’ …

Ons het onlangs by Leisure Wheels aangesluit vir ʼn reis saam met twee van hul spanlede. Die twee manne is ongelukkig slagoffers van die hele koronastorie. Ek was heel trots toe die uitnodiging kom. Publikasies is nie mal daaroor om in mekaar se slaai te krap nie, maar gelukkig is dit glad nie waaroor dié storie gaan nie.

Die Suzuki Vitara Turbo. (Foto: Andre Badenhorst)

Dit gaan oor vier Suzuki’s wat onlangs in Gauteng die pad noord ingeslaan het. Ons het almal vroegoggend by die Petroport op die N1-noord bymekaargekom. Toni Herbst, skakelbeampte vir Suzuki Suid-Afrika, was my reismaat vir die trippie. Ons meganiese perd vir die eerste dag was die Suzuki Vitara, die nuwe een met ʼn puik 1.4-turboviersilinderenjin … meer daaroor later.

Met ʼn wieletjietas, ʼn knapsak en ʼn skootrekenaarrugsak in die kattebak, asook ʼn paneelkissie vol permitte vat ons die pad in die rigting van Bela-Bela. Dit is ʼn dorpie wat ek leer ken het as Warmbad. Ek was as laaitie op Settlers, daar naby, op skool en het as tiener baie by die Forever Resort baljaar. Ons gids, Johan Kriek, sê ons gaan die ou pad ry. Ek sien uit.

Ons verlaat Warmbad en draai in Modimolle se rigting. Dis ʼn kort 30 km oor die bult, en die Vitara trek soos ʼn yster. Hy is beslis die sterkste van die drie klein sportnutse in die groep. Daar is ook ʼn Ignis, en ʼn S-Presso, Suid-Afrika se mees bekostigbare tjor. Ek hoop ek kry ʼn beurt met hom op die oop pad. Soos ons Nylstroom verlaat, dink ek aan ʼn pel wat hier in die koshuis was … en ek dink aan Weesgerus waar ons elke jaar met die woonwa kom kampeer. Alles lê in die weegskaal weens hierdie vervlakste Covid-19-storie.

Mookgophong is in ʼn japtrap verby. Ons Vitara trek steeds sterk, en sluk saggies aan die brandstof teen ʼn uitstekende 5.4 ℓ/100 km. Naboomspruit stel my egter teleur. Ek het as kind elke jaar hier deur die plek gery op pad Lekkerus toe … die Gypsey 3 aan my stiefpa se 123-reeks-Mercedes-Benz 280 gehaak. Dit was lekker tye. Ek’s seker almal sal graag weer kind wil wees … sorgloos sonder verantwoordelikhede.

Ons bestemming vir middagete is Moorddrift Melkery op Mokopane. Johan het vir ons ʼn boma gereël waar ons kan sit en voorafgepakte broodjies kan geniet. Dis vrek koud by die huis in Pretoria, maar hier naby aan die Springbokvlakte is dit lekker warm. Ons sit en kyk uit op ʼn droë rivierbed en is net te dankbaar om bietjie op die pad te wees.

Moorddrift Melkery. (Foto: Brendon Staniforth)

Ná middagete trek ons stadig in Mokopane in. Ek was nog nooit hier nie. ʼn Kollega se ouers woon en gee skool hier op Potties. Hy is hier iewers in die dorpie – ondanks die hele Covid-19-storie. Ai. Soos ons verder in die dorp in sak, begin selfs Potgietersrus maar Afrikarig lyk. Dis sleg. Van hier af is dit nie meer ver tot by ons eindbestemming vir die dag nie. Ons is op pad Haenertsburg toe. Ek het al daar verbygery op pad Eiland Spa toe, maar nog nooit daar opgedraai nie.

Ek sê vir Toni – hier is ʼn bitter mooi deel van ons land op pad. Ek vrek oor die Magoebaskloof-omgewing. Johan-hulle neem ons deur Nobody (ja, ons het ook gewonder) op die R71 op pad Moria toe. Onder in die dip draai ons links na Veekraal toe. Ons gaan nou ʼn goeie stuk grondpad trotseer voordat ons later weer by die R71 naby Ebenezerdam aansluit. Aanvanklik is ek nie bekommerd nie, maar die pad word sommer gou sleg.

Ek is ʼn sensitiewe bestuurder wanneer ek passasiers het. Ek sien heeltyd hoe hulle briek trap óf vinnig die streshandvatsels gryp. Elke keer dat ons naby aan die afgrond kom, tap die sweet van Toni se hande af. Ek giggel te lekker. Die pad neem ons deur ʼn pragtige woud, en soos die son begin sak, raak dit oombliklik koel.

In die woud op die Veekraalpad. (Foto: Andre Badenhorst)

Ons draai terug op die R71 en is té gou by die afdraai na Haenertsburg. Dis ʼn pragtige dorpie, en die mense aangenaam en gretig om te help. Ons oornag in die pragtige The Pennefather. Aandete is vir ons in die boekwinkel gereël, en dis privaat – sodat ons die hele distansiëring-ding kan doen. Ai.

Voor The Pennefather op Haenertsburg. (Foto: Andre Badenhorst)

ʼn Lieflike lasagne met slaai en heerlike knoffelbrood daag op van ʼn restaurant op die dorp … en met dié spring Yana in aksie. Yana het tot onlangs met renosters geboer, maar dit het eenvoudig net té gevaarlik geraak. Sy boer nou met jenewer en is besig om die brouery te skuif na Haenertsburg. Rhino Beetle Gin is die produk se naam … Nietemin, Yana het ʼn groep van agt mense in ʼn boekwinkel op Haenertsburg op ʼn Maandagaand in die middel van die staat van inperking goed op ons oor. Ek hou vol, dis weens die drankverbod dat almal nie meer “fiks” is nie. Ná ek ses jenewers geproe het, moes ek eers ʼn bietjie koffie drink voor ek rustig na my kamer verdaag het vir die eerste nag se rus …

In die boekwinkel op Haenertsburg proe ons jenewer. Van link na regs: Salaphezulu Masindane (Khulekani on Wheels), Yana Mockford (Rhino Beetle Gin), Gerhard Horn (Leisure Wheels), Khulekani Dumisa (Khulekani on Wheels), Brendon Staniforth (Maroela Media), Reuben van Niekerk (Leisure Wheels), Johan Kriek (ZA Trax) en Toni Herbst (Suzuki Suid-Afrika). (Foto: Andre Badenhorst)

Op dag een het ons Vitara Turbo 348 km gery. Teer, snelweg, bergpas en grondpad. Twee dinge is vir seker, ons woon in ʼn pragtige land … en ʼn Vitara Turbo loop puik op ʼn paar walms petrol.

Volgende skuif ons agter die stuur van die Suzuki S-Presso in vir dag twee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.