Padtoets: Beter waarde is moeilik om te vind

Die Renault Duster EDC (Foto: Renault)

Almal hou van ʼn winskoop. In 2013 het Renault almal aan die gons gehad oor hul bekostigbare nuwe klein sportnuts. Ja, daar was beslis bekommernisse oor die voertuig se bougehalte en so aan. Dit is uiteraard ʼn Roemeense Dacia Duster oorsee, en Dacia behoort aan Renault.

Die Duster het egter ʼn paar truuks wat hy in sy mou voer. Renault se uiters gewilde 1.5-viersilinderdieselenjin, en vierwielaandrywing. Daar is nie laestrek nie, maar 210 mm-grondvryhoogte is baie goed vir dié segment. Die Duster is in 2015 opgeknap met ʼn mooier binneruim. In 2017 het Renault die knuppel in die hoenderhok gegooi met ʼn outomatiese weergawe.

Die Renault Duster EDC (Foto: Renault)

Die Duster EDC (Efficient Dual Clutch) gebruik die selfde 1.5dCi-enjin met voorwielaandrywing. Die ratkas wissel glad tussen die ratte en maak die Duster ʼn heel gemaklike reisgenoot, maar dit is nie sy beste eienskap nie. Die Duster EDC is asemrowend lig op brandstof. Ek’t tydens die toetsperiode 5.1 ℓ/100 km gehandhaaf met alledaagse bestuurstyle, nie in ʼn laboratorium nie. Dit is voorwaar indrukwekkend.

Verder is die Duster ʼn 5-sitplek gesinsmotor. Die grondvryhoogte is lekker hoog en mens kan mooi in die verkeer sien wat om jou aangaan. Die spesifikasievlak is in die stratosfeer vir dié klas ryding met spoedbeheer, navigasie, Bluetooth, lugreëling, vastrapbeheer, vier lugsakke en ABS.

Die Renault Duster EDC (Foto: Renault)

Die ritgehalte is baie gemaklik. Weens die Duster se sagte vering is daar redelike bakrol, maar dit belemmer nie die padhouvermoë nie. Die Duster is tog nie ʼn renmotor nie. Die binneruim is ruim en baie ergonomies uitgelê. Die Duster se bougehalte kan nie kers vashou by Renault se Kadjar-produk nie, maar is tog R110 000 goedkoper.

Daar is een fout met die Duster wat ons op toets gehad het. Mens kan leersitplekke kies vir jou Duster. Moenie. Die leersitplekke is nie van dieselfde gehalte as die standaardbekleedsel nie en bied slegte steun, so ’n mens se lyf raak ontsettend vinnig moeg. Die lapsitplekke is baie beter. Die opsionele leerbekleedsel is beslis nie die geld werd nie.

Die Duster is maklik om op te som. As jy ʼn sportnuts wil hê vir luikrug-geld, is dit die oplossing.

Cyril, een van ons Maroelegas, voel:

Die Renault Duster EDC (Foto: Renault)

“My ervaring van die Duster kan ek vergelyk met ʼn besoek aan die tuisnywerheid: die hoogste en grootste koek met die meeste tierlantyntjies en versiersel is dikwels nié die lekkerste nie – die eenvoudige rede hiervoor is dat daar baie tyd deurgebring is om die koek mooi te laat vertoon, maar die spons mag dalk droog wees of die versiersel mag dalk herinner aan koshuiskoek. ʼn Gewone plaatkoek is in meeste gevalle lekkerder; die smake en geure is meer intens, maar die koek vertoon nie noodwendig so mooi nie.

“Die Duster is nié die mooiste en die vinnigste in sy klas nie, maar daar is doodeenvoudig net iets aan die motor wat jou sterretjies in jou oë laat sien of jou tot op die knie wil laat gaan om die jawoord te vra.

Die Renault Duster EDC (Foto: Renault)

“Die afwerking van die binneruim is nie noodwendig so luuks soos ander motors in dié prysklas nie, veral wat die instrumentpaneel se harde plastiek betref, en die stert van die motor lyk steeds vir my wildvreemd – byna soos iemand wat gebukkend staan. Die hidroliese kragstuur voel vreemd as jy gewoond is aan elektriese kragstuur, maar dis gʼn kopseer nie – hierdie motor doen alles reg om jou liefde te wen. Die eenvoudige ding is net: Ek kan glad nie my vinger plaas op presies wát dit is in die motor wat jou hart vinniger laat bons nie. Maar as ek by ʼn winkel stilhou, vang ek myself dikwels terugkyk na die ou buksie voordat ek by die winkeldeure instap.

“Ek het twee afsonderlike geleenthede gehad om die Duster op die langpad te toets: Die 4×2-outomaties al die pad van Pretoria tot in Kimberley en terug, en ek ry tans met die 4×4-handrat. Ons sal binnekort oor die 4WD-weergawe berig. Die outomaties is ʼn bederf: sag, die ritgehalte is gemaklik, die kajuit is stil, jy kan maklik verbysteek en dit voel bloot lekker om hoër van die grond te sit. Bly net weg van die leer!”

Die reeks lyk só:

Duster 1.6 Expression77 kW/148 Nm7.6 ℓ/100 kmR244 900
Duster 1.6 Dynamique77 kW/148 Nm7.6 ℓ/100 kmR264 900
Duster 1.5dCi Dynamique80 kW/240 Nm4.8 ℓ/100 kmR284 900
Duster 1.5dCi Dynamique outo80 kW/240 Nm4.8 ℓ/100 kmR304 900
Duster 1.5dCi Dynamique 4WD80 kW/240 Nm5.2 ℓ/100 kmR309 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford EcoSport 1.5TDCI Titanium74 kW/205 Nm4.6 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R311 900
Suzuki Vitara 1.6 GLX outo86 kW/151 Nm6.0 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R348 900
Hyundai Creta 1.6CRDi Executive outo94 kW/260 Nm7.4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

4 jaar/90 000 km-diensplan

R374 900

Tussen die mededingers moet mens onthou dat die EcoSport slegs ʼn handrat aanbied in die diesel-enjin. Die Suzuki bied weer ʼn outo, maar slegs petrolenjins. Die ware mededinger lê seker in die Hyundai, en hy is R70 000 duurder. Die Duster bly dus ʼn winskoop…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Basson ·

Klink en voel die deurpanele nog so pap soos uitgedrinkte koeldrankblikkies?
(Veral met die toeslaan-slag)

Piet Pompies ·

Die herverkoopwaarde van die Duster daal gouer as stof wat jy afstof…

Marcel ·

Daai skerm sit op die domste plek ooit. Daar heel onder by die rat, en dan het hy nog n GPS in, so nou moet jy heeltyd af kyk om te sien waar om te ry. Daar is ‘n rede hoekom die skerms hoog sit in die karre deesdae, het darem geding Renault sou dit ook al agter gekom het een die tyd.

vraagteke ·

Het sopas een vir 6000km (waarvan 2000km grondpad was) gery in die Noord-Kaap en Wes-Kaap. ALLES ‘ratle’!

Die daklig kom los elke 100 km, die deurpanele het begin uitmekaar val (ons model was net 11 maande oud), die sogenaamde 1ste laerat beteken nie veel nie (op die 4×4 model) en hy het lekker stof getrek.

@Piet Pompies, met sulke swak bougehalte sal dit my nie verbaas dat sy waarde vinniger as gravitasie val nie. @Marcel, ek het nooit so opgelet nie – maar jy’s 100% reg, die skerm is te laag.

Gaan koop eerder ‘n tweedehandse Fortuner of Hilux – hy sal defnitief langer hou.

Grens ·

Wag maar tot jy die gemors wil inruil. Die herverkoopwaarde is so swak , nie eens Renault wil hulle terug vat nie. Die dag toe ons my dogter se Renault wou inruil, met net 35000km op, het Renault vir ons die slegste inruil van al die motor agente gegee. Nooit weer een op my werf nie!!!

Ek stem - 'Nooit weer op my erf nie' ·

‘n Donkie stamp sy kop net een keer. Renault se herverkoop is pateties. Eintlik so vir alle Franse motors. Sy herverkoop waarde daal vinniger as die Rand. Kyk en soek elders.

stoney ·

Dit wil voorkom of meeste maar net uit die mag van die gewoonte kommentaar oor Renault lewer, ja Renault het sy foute maar die Duster is ‘n uitstekende koop. Piet my vrou ry een van Jan 2014 hy hou sy waarde uitstekend, het dit al ‘n paar keer getoets. Renault het nog net die lugversorger se knoppie laat vervang, al oor die 100k KM op die klok. Nog ‘n bewys van sy gewildheid, gaan loer gerus op 4x4community.co.za die duster se besprekings staan al op 119 bladsye as dit nie iets beteken nie weet ek nie. Dit is ‘n baie basiese voertuig ja maar soos die berig noem as dit jou pla sit R100k by en gaan koop iets anders. Die Renault 4×4 soos myne kan ook 1500kg sleep dit is indrukwekkend, nie te praat van sy ratse enjin nie.

Vraagteken ·

@Stoney, jy word “outranked”; 6-1. :):):)

Dis gemors…;););)

Joe-v-Heerden ·

Die gebruiklike kommentaar van die slim beter-weters…waar elke sleutelbordkenner reken sy mening is al mening wat iets werd is!

Maklik verifieerbare feite toon aan dat die Renault-Nissan Alliansie die wereld se grootste motovervaardiger Julie 2017 was, met veel beter jaar-tot-jaar groei as Toyota en Volkswagen. Die Renault Duster is ‘n internasionale sukses, en het selfs in die onbenullige Suid-Afrikaanse mark amper 15,000 nuwe eienaars gekry, ten spyte van ‘n klein handelsnetwerk.

Soos wat die Suid-Afrikaanse ekonomie verder verswak, sal meer mense besef dat hulle eintlik nooit die duur rygoed kon bekostig nie, dat Fortuners en Everests en BMWs eintlik 1ste wereldse bykomstighede is, en nie in die derde wereld hoort nie, en dat hulle swak ego’s (wat die duur rygoed noodsaak) ook OK sal wees in ‘n Renault Duster!

Basson ·

Haha Joe-van-Heerden, sien jy die ironie in jou eerste paragraaf? ;)

Joe-v-Heerden ·

@ Basson,

Watter ironie vind jy in die 2de en 3de paragrawe? Ek twyfel of jy selfs ‘n mening daar gaan vind…

My kollegas maak baie geld uit die streel van ego’s, maar selfs hulle sal erken dat dit nog steeds baie minder is as bv. die (o.a. Duitse) motorvervaardigers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.