Padtoets: Dié bakkie ʼn aangename verrassing

Die nuwe JMC Vigus 2.4D 4×4 Lux- enkelkajuit (Foto: JMC)

deur Kallie de Jong

Maroela Media het my onlangs gevra om die nuwe JMC Vigus 2.4D 4×4 Lux- enkelkajuit ʼn bietjie te bekyk. Ná die vorige JMC was ek nie juis baie opgewonde nie. Gelukkig was ek verkeerd. Die nuwe Vigus-enkelkajuit is voorwaar ʼn vars bries. Selfs met die eerste oogopslag kan jy sien dat die nuwe Vigus ʼn perd van ʼn ander kleur is, en hy is boonop opgesaal.

Die bakwerk en eksterne stilering is ʼn aansienlike verbetering op die Boarding en sleep vir JMC mooi in 2018 in. Die binneruim het ook ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. Die sitplekke is sag, moontlik te sag – tog gemaklik en die bestuursposisie is goed. Ek is 1,8m lank – so dit kan beknop voel, maar kleiner manne gaan heeltemal gemaklik wees. Die kajuit is ergonomies en heel stylvol. Die instrumente is lekker duidelik en lees maklik.

Die Vigus beskik tot my verbasing oor ʼn heel goeie klankstelsel. Die klank is besonder goed vir ʼn enkelkajuitbakkie en die paneelbord het verskeie funksies soos USB. Ek dink wel daar is te veel klem gelê op die klankstelsel aangesien dit ʼn groot gedeelte van die paneelbord beslaan.

Die kajuit word lieflik beheer deur ʼn goeie lugreëlingstelsel en dit voel nie asof dit ʼn groot impak het op werkverrigting nie. Die tekort aan stoorplek in die Vigus is vir my ʼn probleem en ek bly onseker waar om my selfoon en sleutels te bêre. Al plek is in die deur, of die middelste-kissie.

Die ratkas van die Vigus is aanvaarbaar maar kan beslis doen met ʼn bietjie verfyning. Indien daar vrag gedra word sukkel ʼn mens om ʼn balans te vind tussen die koppelaar uitbrand en naby genoeg aan die turboaanjaer se ‘boost’ te kom. Vierde rat is effens lank, en vyfde dan nie veel langer nie, so ek voel die ratverhoudings kan beter versprei word. Die Vigus bied 88 kW en 290 Nm van sy 2,4 turbodieselenjin. Hy sal aanhou draf tot 160 km/h.

ʼn Groot verrassing is die ritgehalte van die Vigus. Die kajuit is besonders stil vir ʼn bakkie, selfs op ʼn grondpad. Die Vigus ry ook uiters gemaklik vir ʼn 4×4. Die agterste vering, net soos met die Boarding, is vir my effe hard, maar met vrag is die vering aangenaam. Die voorste vering bly te sag na my smaak en met vrag, as mens rem, dan duik die neus af en hop terug.

Die padhouvermoë van die Vigus is in die kol vir dié klas bakkie. Die veiligheidstelsels soos ABS en EBD maak ʼn goeie verskil aan die veiligheid en standvastigheid, veral op ʼn grondpad. Dit is ʼn aangename aanvulling. Parkeerhulp en elektroniese 4×4 skakelaar is ook aangename verassings so laag op die prysleer.

Die grootste verrassing is die prys: R299 990, met ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg. Skielik is die pakket baie aantrekliker as wat ʼn mens verwag. Die naaste hoofstroom teenstander is om en by R90 000 duurder en bied nie meer truuks as die Vigus nie.

Ek sal die JMC Vigus 2.4D 4×4 Lux- enkelkajuit só opsom. Die bougehalte is verbasend goed. Die luukshede is voldoende en bied alles wat mens in ʼn enkelkajuit benodig. Die Vigus is ʼn reuseverbetering vir JMC en is besig om ʼn stewige voet in die Suid-Afrikaanse deur te kry. Die teenstanders gaan hul potlode moet skerpmaak.

Die reeks lyk só:

JMC Vigus 2.4D 4×2 Std enkelkajuit88kW/ 290NmR211 880
JMC Vigus 2.4D 4×2 Lux enkelkajuit88kW/ 290NmR241 880
JMC Vigus 2.4D 4×4 Lux enkelkajuit88kW/ 290NmR299 990
JMC Vigus 2.4 petrol 4×2 Std enkelkajuit95kW/ 201NmR201 880
JMC Vigus 2.4 petrol 4×2 Lux enkelkajuit95kW/ 201NmR231 880
JMC Vigus 2.4 petrol 4×4 Lux enkelkajuit95kW/ 201NmR292 880

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en ʼn 5 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Pik-up 2.2CRDe 4×4103kW/ 320Nm4 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R286 995
Nissan NP300 Hardbody 2.5TDi 4×498kW/ 304Nm6 jaar/ 150 000km waarborg

diensplan opsioneel

R354 500
Isuzu KB 250 D-Teq 4×4 Hi-Rider100kW/ 320Nm5 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R389 700
Ford Ranger 2.2 4×4 XL118kW/ 385Nm4 jaar/ 120 000km waarborg

6 jaar/ 90 000km diensplan

R389 800
Toyota Hilux 2.4GD-6 4×4 SRX110kW/ 400Nm3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R427 100

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet de Jager ·

Ai, hoekom wil die resensent die bakkie vagevuur toe stuur? Verassing????

Peet Schabort ·

Ek hou maar by my 1994 Toyota 2.4 Diesel langbak met 375 000 km waar my armspiere die kragstuur is met geen turbo. Geen klimaatbeheerder, ABS of ander fieterjasies. Natuurlik moes die verkoeler, koppelaarplaat (en wat daarmee saamgaan) vervang word.
Absoluut GEEN enjinprobleme.
Hierdie was en is nog steeds ‘n baie beter koop as die Toyota Corolla Exclusive met ‘n magdom fieterjasies wat my op 100 000 km ‘n bedrag van R15 572 EN 40 sent gekos het aan aansitprobleme in die oggend. Die ingepropte rekenaar kon nie die fout optel en na 11 weke was die kar reg maar gode se dank ook verkoop. Ook een van die moeilikste karre om olie, olie- en dieselfilter te ruil omdat driekwart van die werk die verwydering van ander goed behels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.