Padtoets: Die beste oplossing

Die Lexus NX 200t EX. Foto: Verskaf

Mens kry deesdae vreeslik baie keuses as dit kom by watse tipe motor jy wil ry, hoeveel krag jy wil hê en hoeveel van jou geld jy aan brandstof wil bestee. Aan die begin van die 21ste eeu het ons gesien hoe diesel gewild raak. Ek self is mal oor diesel vir my daaglikse motor. Diesel het wel al die groenes op hol oor uitlaatgasse en so aan.

Is daar ʼn beter oplossing? Ja, beslis. Hibridiese voertuie gee vir jou die beste van ʼn paar verskillende tegnologieë. Elektriese voertuie is te beperk in Suid-Afrika vir die afstande wat ons ry en die gebrek aan laai-infrastruktuur. Slegs binnebrandenjins is te swaar op brandstof en baat geensins by remkragherwinning nie. Toyota was die eerste vervaardiger om groot te gaan met ʼn hibridiese motor, die Prius.

Is die Lexus NX ʼn Prius? Nee, beslis nie – maar hulle deel dieselfde tipe tegnologie. ʼn Binnebrandenjin wat deur ʼn palwisseltransmissie sy krag saam met elektriese krag smelt. Ek is nie ʼn ingenieur nie, so ek kan nie vir jou presies verduidelik hoe dit werk nie, maar ek kan vir jou meer vertel oor die resultate.

Die Lexus NX 200t EX. Foto: Verskaf

Die feit dat daar ʼn elektriese motor is, beteken as jy ophou versnel, kan die elektriese motor die batterye herlaai. Sodra jy die rempedaal trap, kan die elektriese motor dieselfde hoeveelheid krag wat hy kan bied in teenstand bied, so as mens mooi ry, gebruik jy amper nooit die fisieke remme nie. Die feit dat mens remkrag kan herwin, is vir my fassinerend. Wat eens net verlore gegaan het as hitte, word nou elektrisiteit om jou te help as jy weer versnel en om gaatjies in die kragkurwe aan te vul. Te slim.

Afgesien van die slim tegnologie is die Lexus NX mooi en modern. Die ontwerp kan moontlik vir party mense bietjie besig wees, maar ek dink dit is netjies. Die bougehalte is puik, paneelgapings is uiters klein, en alles pas mooi. Die binneruim is waar die NX werklik begin beïndruk. Die kajuit is gefokus om die bestuurder. As mens eers alles net reg gestel het, voel dit asof jy in ʼn kokonnetjie toegedraai is. Al die kontroles is ergonomies uitgelê, en mens raak Lexus se “muis” wat die inligtingstelsel kontroleer vinnig baas. Die spesifikasievlak in die NX is lekker sterk. Daar is elektries verstelbare sitplekke, outomatiese ligte en ruitveërs, Bluetooth, klimaat en spoedbeheer, navigasie en ʼn sondak.

Die Lexus NX 200t F-Sport. Foto: Verskaf

Die ritgehalte in die NX het aanvanklik baie hard gevoel, maar nadat ek die banddruk nagegaan het, het dit heelwat verbeter. Die vering is soepel en daar is tog bietjie bakrol, maar niks buitensporigs nie. Die enjin/ratkas-kombinasie in die NX300h is vir my goed, maar nie perfek nie. Die 2.5-viersilinder- atmosferiese enjin wat aan ʼn CVT-ratkas gekoppel is, ry glad, en is doeltreffend op brandstof, maar as mens net bietjie haastig raak, kan die enjin onaangenaam dreun. Dit is wel net as mens hard ry. Dit bring my by die vraag – hoekom gebruik Lexus nie die 200t- turboaangejaagde viersilinderenjin nie? Dit sal beslis nóg beter verrigting bied, en stiller wees. Dalk is die twee tegnologieë net te duur as hulle saamgesit word.

Lexus en Toyota het al baie ondervinding met hibridiese dryfstelsels. Indien jy stadig wegtrek of parkeer, beweeg die voertuig slegs met elektriese krag. In verskeie Europese lande word binnebrandenjins in sentrale besigheidsgebiede verban. Die Lexus gee vir jou ʼn kort reikafstand op slegs elektries onder ʼn sekere spoed, maar dit is genoeg om aan sulke vereistes te voldoen.

Die Lexus NX 200t F-Sport. Foto: Verskaf

Om ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6.8 ℓ/100 km te bereik is indrukwekkend. Dit is getuienis dat die hibridiese stelsel werk, want die 2.5-viersilinderpetrolenjin wat gebruik word, is op die suster-Rav4-produk sonder die hibridiese stelsel, en daar sal jy sukkel om 9 ℓ/100 km te behaal.

Opsommenderwys is dit fantasties dat Lexus in elke reeks ʼn hibridiese model het. Dit is die toekoms. Terwyl ander vervaardigers nog die binnebrandenjin baasraak, is Toyota en Lexus besig om baie slim te raak oor hoe dié twee tegnologieë ten beste saamwerk. Ek hou daarvan.

Dié reeks lyk só:

Lexus NX 200t E175 kW/350 Nm7.9 ℓ/100 kmR631 500
Lexus NX 200t EX175 kW/350 Nm7.9 ℓ/100 kmR677 300
Lexus NX 300h EX145 kW/210 +eNm6 ℓ/100 kmR746 700
Lexus NX 200t F-Sport175 kW/350 Nm7.9 ℓ/100 kmR786 600

Die kompetisie lyk só:

BMW X5 xDrive 40e eDrive230 ekW/ 450 eNm3.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km- voertuigwaarborg

8 jaar/100 000 km- batterywaarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 188 600
Porsche Cayenne S E-Hybrid306 ekW/ 590 eNm3.4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km- waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 531 000

Die BMW en Porsche is nie direkte mededingers nie, maar die enigste ander hibridiese sportnutsvoertuie in Suid-Afrika. Terwyl Lexus se brandstofverbruiksyfers billik is, sal jy nooit in werklikheid die BMW of Porsche se syfers buite ʼn laboratorium bereik nie. Hulle kan ook geensins met die Lexus meeding wat prys betref nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.