Padtoets: Dié BMW ʼn sakeman se droom

Die nuwe BMW 540i (Foto: BMW)

BMW se 5-reeks is oor die jare sinoniem met suksesvolle sakemanne. Die eerste weergawe, die E12, was uiters gewild in Suid-Afrika. Ons het die E12 vir ʼn verdere drie jaar gebou nadat Europa al die E28 gekry het. My oom het ʼn rooi E12 gehad, en toe ʼn blou E12-facelift.

Ek’t in my tienerjare heeltemal halsoorkop verlief geraak op ʼn familievriend se E28 M535i. Hy was donkergrys met die Bilstein-skokbrekers wat die M so effe laer gemaak het as die standaard E28. Die klankbaan van dié 3.4-sessilinderenjin was asemrowend.

In my twintigs het ek by ʼn BMW-handelaar in die Kaap die geleentheid gekry om die E60 V10 M5 te proe. Dit het my hele wêreld omgekrap, en my wanindruk van wat vinnig is sommer gou in perspektief gesit.

Die nuwe BMW 540i (Foto: BMW)

Dit bring my by die huidige G30 540i. Wat BMW tans doen, en wat my bly maak, is die feit dat BMW nie al hul fokus op turboaangejaagde viersilinderpetrolenjins plaas nie. Die nuwe 40i-enjin is ʼn lieflike 3.0, turboaangejaagde sessilinder. Hy bied 250 kW en 450 Nm. Dit is wel nie die volle prentjie nie. Hy bied 450 Nm tussen 1 380 r/min en 5 200 r/min. Jy sal sukkel om ʼn breër wringkragkurwe te kry. Die ander punt is dat hy sy 250 kW handhaaf vir 1 000 r/min tussen 5 500 en 6 500 r/min. Dit gee die 5-reeks ʼn angstige gevoel na 5 000 r/min. Dit is verslawend.

Die nuwe 5-reeks is ʼn bitter mooi ontwerp. Paneelgapings is piepklein, en niks lyk uit plek uit nie. Die binneruim is tóg waar dié BMW beïndruk. Die sitplekke is lieflik en bied perfekte steun. Dit is elektries verstelbaar sodat jy dit kan stel nes jy dit wil hê. Die stuurwiel kan op en af kantel, asook in en uit, so jy kan regtig jou bestuursposisie perfek kry.

Die nuwe BMW 540i (Foto: BMW)

Die Bowers & Wilkins-klankstelsel is asemrowend. Daar is ʼn kop-op-vertoon (HUD) wat in kleur vir jou allerhande inligting kan bied, tot navigasie-instruksies. Jou slimfoon koppel moeiteloos met BMW se stelsel en as jy eers iDrive baasgeraak het, kan jy dit hanteer sonder om die heeltyd na die skerms te kyk. Daar is ʼn draadlose slimfoonlaaier, so ’n mens sit net jou foon daar neer en hy laai vanself.

Die ritgehalte in die 5-reeks is ʼn aangename verrassing. Die 5-reeks is nie klein nie, maar hy raak sy gewig mooi baas. Hy voel nie te groot nie, en indien jy sport-modus kies, kan dié 540i sy sokkies nogal hoog optrek! Indien mens rustig ry is die sessilinder nie eens swaar op brandstof nie. Indien jy groot afstande aflê tussen afsprake en baie tyd in jou voertuig deurbring kan ek nie aan veel opsies dink waarin ek eerder sou wil ry nie. Ons rekenmeester het ook ʼn beurt gekry met die 540i. Sy sê sy’t altyd gekyk en gedink – hoekom sou ’n mens so ’n duur kar wil hê? Sy weet nou, en het haarself kort-kort gevang dat sy die verkeersligte mooi uitwerk dat sy heel voor is as hy groen slaan, sodat sy net nog ’n bietjie kon voel hoe hy jaag.

Die reeks lyk só:

ModelKragEkonomie0 – 100 km/hTopspoedPrys
BMW 520i135 kW/290 Nm6.2 ℓ/100 km7.8 sek235 km/hR743 094
BMW 520d140 kW/400 Nm4.7 ℓ/100 km7.5 sek235 km/hR782 556
BMW 530i185 kW/350 Nm6.2 ℓ/100 km6.2 sek250 km/hR853 694
BMW 530d195 kW/620 Nm5.1 ℓ/100 km5.7 sek250 km/hR968 396
BMW 540i250 kW/450 Nm7.2 ℓ/100 km5.1 sek250 km/hR1 005 116

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan. Slegs die intree-spesifikasievlak is gelys. Daar is ook Sport Line, Luxury Line en M Sport beskikbaar in elke enjin.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragEkonomie0 – 100 km/hTopspoedWaarborgPrys
Volvo S60 T6 AWD Polestar270 kW/ 470 Nm7.8 ℓ/100 km4.9 sek250 km/h5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R779 526
Lexus GS 350 F-Sport232 kW/ 380 Nm11.3 ℓ/100 km6 sek235 km/h4 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/100 000 km- diensplan

R897 100
Mercedes-Benz E400 Avantgarde 4Matic245 kW/ 480 Nm7.9 ℓ/100 km5.2 sek250 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 006 126
Audi S6 Quattro331 kW/

550 Nm

9.2 ℓ/100 km4.4 sek250 km/h1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 196 500
Jaguar XF S280 kW/

450 Nm

8.3 ℓ/100 km5.3 sek250 km/h3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 264 092
Porsche Panamera 4243 kW/

450 Nm

7.7 ℓ/100 km5.5 sek262 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 390 000

In dié klas voertuig is die prysgaping wyd. Dit gaan hier afhang van smaak. Die Volvo is ʼn ware winskoop teen die prys, en tóg die enigste viersilinder. Die Audi is die enigste V8 tussen die mededingers. Een van dié gaan jou hartsnare roer, maar sjoe – die 5-reeks is lieflik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Maroela daar is ‘n paragraaf in die berig wat handel oor gemaskerde betogers. Net na die woorde “Die reeks lyk so”.
Dis dalk die drukkers duiwel se werk?

Dalene de Vente ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou valkoog! Die berig is gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

Koos1 ·

Net ‘n 2 jaar waarborg op ‘n R1 Miljoen kar. En dit nogal Duits. Ek dink die 540 se waarde na 2 jaar gaan vinnger val as die rand na een van ons President se kabinet skommelings. Maar nou ja, die ander duitsers in die geselskap se waarborge lyk ook nie veel beter nie. Het hulle dan nie vertroue in hulle top “sports” produkte nie?

Lodewyk ·

Oor vyf jaar sal hy omtrent ingeruil kan word vir R399000. Al BMW se 5 reeks en 7 reeks modelle het baie lae inruilwaarde. Teen die tempo wat tegnologie nou vooruit beweeg sal alles wat hy nou in het ou nuus wees behalwe vir daardie vris enjin. BMW bou puik enjins maar as jou waarborg en diensplan eers verby is gaan die koste van diens en herstel jou vakansie geld opvreet. Die dae van die groot “Saloon” voertuig is getel. Selfs Honda het opgehou om die Accord na donkie jare te bou.

Paul ·

Honda bou nog steeds die Accord – die nuwe 2018 model is reeds te koop. Hulle verkoop dit net nie meer in Suid-Afrika nie, maar hulle verkoop dit nog in die VSA en Kanada, en moontlik ook in ander markte.

Jy is wel korrek dat groter sedanmotors, en sedanmotors in die algemeen, minder gewild is as wat hulle voorheen was. Dit is nie noodwendig omdat mense kleiner motors verkies nie, maar omdat baie mense sportnutsvoertuie en “crossovers” wil hê deesdae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.