Padtoets: Dié een kort vering-feetjies

Die Subaru WRX. Foto: Verskaf

As jy min of meer my ouderdom of ouer is sal jy onthou dat Subaru die tydren-koning was. Name soos McRae en Subaru was sinoniem met talle WRC-titels. Mense het Subaru WRX’e gekoop en hul verbeel dat hulle ook wêreldkampioenrenjaers was.

Die nuwe Subaru WRX is regtig mooi. Ek is mal oor die ontwerp en dit gee my ʼn nostalgiese verlange na die dae toe McRae nog geleef het. Die binneruim is van ʼn goeie gehalte vir ʼn Japanse handelsmerk en die spesifikasievlak uit die boonste rakke.

Subaru is tans een van die min handelsmerke wat ʼn uitmuntende 5-ster ANCAP-gradering het op al hul modelle wat tans op die mark is. Dit wil gedoen wees. Die WRX het Subaru se EyeSight-stelsel wat die aanpassende spoedbeheer kontroleer en al die ander bots-waarskuwing stelsels. Dit werk regtig puik, al kan die piep-geluid effe knaend raak.

Die Subaru WRX. Foto: Verskaf

Die sitplekke is lekker sportief en hou ʼn mens lekker styf om die lyf. Dit kan ook wees omdat ek net ʼn bietjie oorgewig is. Die sportiewe sitplekke is heel nodig want die WRX het vierwielaandrywing en verskriklike sportiewe vering. Die resultaat is padhouvermoë wat skrik vir niks.

Die WRX is aangedryf deur Subaru se wêreldberoemde 2,0 turboaangejaagde viersilinderbokserenjin. Hy bied 197 kW en 350 Nm. Heel goed. Dis net ʼn jammerte dat ʼn mens nooit die volle gevoel kry van daai enjin met die palwisseltransmissie wat in dié WRX is nie. Daar is ʼn plek vir CVT-ratkaste – maar ʼn sportsedanmotor is nie een van hulle nie. Die kombinasie van die CVT en die 2,0 turbo veroorsaak dat dié Subaru nogal dors is.

ʼn Mens sit dan met die naam, die ontwerp, die enjin, die hantering … en ʼn groot teleurstelling. Ek sal byvoeg. Ons motorjoernaliste sê aanhoudend vir vervaardigers dat motors met sportiewe intensies handrat moet wees. Dan verkoop dit nie, so duidelik weet ons niks – maar ek sou beslis my eie WRX met ʼn handrat verkies. ʼn Mens koop juis só ʼn voertuig vir die rygenot wat dit kan bied, nie die gemak van ʼn outokas nie. Gelukkig is daar ʼn handrat beskikbaar, én dit is goedkoper as die simpel CVT.

Die WRX het ʼn eenvoudige sedanuitleg. Sitplek vir vyf, met ʼn indrukwekkende kattebak. Ek en die gesin is weg vir ʼn naweek met die WRX en daar was nog baie plek beskikbaar in die kattebak na al ons trouklere en tasse ingelaai is. Die binneruim is lekker gemaklik en ergonomies uitgelê. Die inligtingstelsel het Apple CarPlay en Android Auto en albei stelsels werk puik.

Die Subaru WRX. Foto: Verskaf

Die ritgehalte in die WRX is vir my effe teleurstellend. Ek onthou Subaru’s van ʼn paar jaar terug wat lieflik geveer was. Dit was juis hoekom hulle so blitsvinnig was, en die rede hoekom min by hulle kon bly was hul soepel vering. ʼn Mens kon enige pad aggressief aandurf en daarmee wegkom. Dit is nie meer die geval met die nuwe WRX nie. Sy vering is regtig hard. Op mooi paaie bied dit puik padhouvermoë, maar op slegter paaie kan dit ongemaklik raak.

Die WRX is maklik om op te som. Die kar is regtig bitter mooi. Die enjin is lekker sterk, maar word bederf deur die palwisseltransmissie. Indien jy in die mark is vir iets anders as die gewone, en jy soek die veelsydigheid van ʼn sedan – kyk beslis na die WRX, maar koop asseblief die handrat.

Die reeks lyk só:

Subaru WRX handrat197 kW/ 350 Nm6 sek240 km/h9,2 ℓ/100 kmR581 400
Subaru WRX CVT197 kW/ 350 Nm6,3 sek240 km/h8,6 ℓ/100 kmR631 400

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 75 000 km omvattende instandhoudingsplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die kompetisie lyk só:

Audi S3228 kW/ 400 Nm4,6 sek250 km/h6,4 ℓ/100 kmR662 000
Mercedes-AMG CLA 45280 kW/ 475 Nm4,2 sek250 km/h7,3 ℓ/100 kmR915 053

Die WRX is slegs vergelyk teen mediumgrootte vierwielaangedrewe sedanmotors. Tussen dié mededingers is die WRX-handrat regtig ʼn winskoop en is waarheen my geld sou gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannes ·

Ek is seker daar van dat die WRX STi eerder kan vergelyk word net die Audi S3 en die AMG CLA 45. Al drie voertuie is goed in hulle eie reg.

Brendon ·

Dagsê Hannes,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons kry die WRX STi Diamond Edition30 vroeg volgende jaar, dan sal ons sien hoe hy vergelyk met die CLA45 en die RS3 Sedan.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.