Die vinnige luikrug het in 1976 roem bereik met die bekendstelling van Volkswagen se eerste GTi. Effe anders van hoe hy in Suid-Afrika gelyk het, was die egte GTi ʼn voorwielaangedrewe 1.6-viersilinderenjin met Bosch-brandstofinspuiting en 80 kW. Vandag klink 80 kW soos kinderspeletjies, maar in 1976 toe die Golfie slegs 810 kg geweeg het, was die krag oorgenoeg … en dit sou die formule vorm wat gebruik is om vele suksesvolle warm luikrugmotors in die toekoms te maak.
In die negentigerjare het veiligheid en besoedeling oorgeneem as die grootste prioriteite. Ons warm luikrûe het maar louwarm geword, en al groter sodat hulle veilig kon wees. Om besoedeling te bekamp het slim tegnologieë ʼn groot filter op lekker enjins se karakter en sjarme geplaas. Nietemin, laat in die twintigerjare het een vervaardiger die lig gesien. Ja, daar is ʼn mark vir tegnologiese wonderwerke soos dubbelkoppelaar-ratkaste en stop-start-tegnologie, maar hier is ʼn goeie onderstel met ʼn bomklapper van ʼn enjin en ʼn gewone 6-spoed-handrat asemrowend.
In ʼn tyd van sedanmotors met oor die 400 kW het ons vergeet hoe lekker dit kan wees om vir die verrigting te werk. Om te leer hoe om ʼn kar se “knoppies” net reg te druk sodat hy sing. Dié Fiesta ST200, ʼn beperkte weergawe, is ʼn juweel.
Die ST keer terug na ʼn meer eenvoudige benadering. Twee deure, voorwielaandrywing, goeie ratkas en net genoeg krag. Die onderstel en vering is briljant gekalibreer sodat mens mettertyd leer hoe om al meer op die onderstel te leun en te vertrou dat die padhouvermoë daar is.
Ford se 1.6-viersilinderturbopetrolenjin word in die Fiesta gebruik. Direktebrandstofinspuiting maak dit moontlik dat die redelike klein enjin ʼn indrukwekkende 320 Nm kan bied. Dertig jaar terug sou mens aan ʼn V8 se deur moes klop om daai wringkragsyfers te kry. Die Fiestatjie snol van stilstand tot 100 km/h in 6.7 sekondes en hy sal aanhou tot 230 km/h.
Die binneruim voel nie so skoon soos van die nuwe voertuie wat beskikbaar is nie, maar die voertuig bly getrou aan Ford se ontwerpstyl. Die Recaro-sportsitplekke gryp mens lekker om die heupe en verseker dat jy nie rondval in die voertuig as jy die enjin se karakter probeer ontdek nie. Die vering is heel styf, so as ʼn Gauteng-pad ná die reënseisoen vol gate is, moet jy maar versigtig wees.
Die harde vering bied egter puik padhouvermoë, en die Fiesta het ʼn baie slim voorste ewenaar wat die wringkrag op so ʼn manier versprei dat die enjinkrag mens om draaie trek, in plaas van wyd stoot. Baie slim, en dit werk voorwaar goed. As mens dink die vashouvermoë is verby, dan kan die Fiesta nog lank aanhang.
Dié Fiesta het egter nog ʼn truuk in sy mou. Prysgewys kom nie een van sy mededingers naby nie, én dit is die enigste handrat, behalwe die baie duurder MINI Cooper S. Die Fiesta was ʼn fees, en dit is baie maklik om hom op te som. As jy daarvan hou om redelik veilig te ry asof jou broek aan die brand is, sonder ʼn skrikwekkende brandstofrekening, met plek vir vier en boonop ʼn kattebak, is daar min rygoed wat jou só sal vermaak nie.
Die reeks lyk só:
Model | Krag | 0– 00 km/h | Topspoed | Brandstofverbruik | Waarborg |
Fiesta ST | 134 kW/290 Nm | 6.9 sek | 220 km/h | 5.9 ℓ/100 km | R325 900 |
Fiesta ST200 | 147 kW/320 Nm | 6.7 sek | 230 km/h | 5.9 ℓ/100 km | R339 900 |
Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Model | Krag | 0– 00 km/h | Topspoed | Brandstofverbruik | Waarborg | Prys |
Renault Clio RS200 Lux | 142 kW/ 260 Nm | 6.7 sek | 230 km/h | 5.9 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/30 000 km-diensplan | R389 900 |
MINI Cooper S 3-deur | 141 kW/ 280 Nm | 6.8 sek | 235 km/h | 5.9 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R411 052 |
Tussen die mededingers is net die MINI ʼn handrat. Die Renault het ʼn dubbelkoppelaar-ratkas. Tussen dié mededingers is die Ford se krag en karakter ongeëwenaar, en sy prys onweerlegbaar.
Die ST200 het die beste enjin, onderstel en ratkas kombinasie (gemeet teen die prys) van al die motors wat ek nog kon evalueer. As Ford nou net nog kan leer (verkieslik by die leier in die veld, nl. VW) om die binneruim ‘n minder sombere plek te maak (minder goedkoop swart en grys plastiekafwerking), sal hulle produkte nog beter verkoop.
Joe, die persoon wat so ‘n voertuig koop stel nét belang aan spoed en versnelling. Die Ford sal sirkels om die Polo ry. As hulle die binneruim verbeter dan sal die prys opgaan – dan is dit nie meer so ‘n goeie koop nie. Dis nie asof sy binneruim sleg is nie; die ST het ‘n uitstekende klanksisteem en hy is baie still teen 120 km/h. Die polo, aan die ander kant, hou daarvan om klein bietjie te raas by sy B-pillar as jy 120 km/h ry.
Ons wag op die Kaptein
Die nuwe Polo GTI met sy goeie afwerking en bougehalte sal ‘n ‘veilige’ keuse wees, jou ouma sal veral in die skik wees met jou keuse wanneer sy Sondae jou motor leen om kerk toe te ry.
Die bergpasse is blykbaar meer genotvol met ‘n dinamiese onderstel…