Padtoets: Dié Honda ʼn regte ou stadsjapie …

Die Honda Amaze. Foto: Verskaf

Met die bekendstelling van die Honda Amaze kon ek hom nie mooi onder die knie kry nie. Ek het hom verlede week onder hande gehad en ek is bly om te sê, ná die tweede ontmoeting is ek en die Amaze baie beter vrinne.

Die ontwerp is vir party oulik, vir ander nie. Ek dink nie enige voertuie in dié segment gaan ontwerptoekennings opraap nie. Dié voertuie is gebou vir ʼn doel. Dit moet klein stadskarretjies wees met ʼn groter kattebak as wat ʼn luikrug bied.

Die binneruim van die Amaze voel vir my nou sonder die sitplekoortreksels na ʼn produk van beter gehalte as voorheen. Die paneelbord en deurpanele is goed aanmekaargesit al is duursame materiale gebruik. Die klankstelsel integreer maklik met Bluetooth aan jou slimfoon vir musiek óf handvrye oproepe. Verder is daar die gewone luukshede soos elektriese vensters, lugreëling en so meer. Daar is twee lugsakke en ABS met EBD.

Die Honda Amaze. Foto: Verskaf

Die Amaze se enjin is vir my sy lekkerste eienskap. Die enjin is tevrede om teen bitter lae omwentelinge rond te ploeter in die dorp, amper geluidloos terwyl hy net-net aan die brandstof proe. Indien mens dan haastig raak of regtig krag nodig het – begrawe jou voet in die mat en sodra die omwentelinge bo 4 500 r/min klim, dan dans die poppe. Indien jy die enjin wil geniet, en van tyd tot tyd vinnig ry – koop beslis eerder die handrat. Die palwisseltransmissie is nie die enjin se grootste maat nie – maar vir dié wat net rustig rondrits, is die CVT piekfyn.

Die Honda se ritgehalte en padhouvermoë is in die kol vir só ʼn tipe voertuig. Dit is heeltemal gemaklik genoeg, al sit mens lank in die verkeer of op die langpad. Honda maak al dekades lank regtig puik voertuie. Hul enjins is rateltaai en Japannese voertuie redelik goedkoop om te onderhou. Daar is nie meer baie rolspelers in dié segment nie, en die Amaze is beslis ʼn opsie.

Die reeks lyk só:

Honda Amaze 1.2 Trend66 kW/110 Nm5.6 ℓ/100 kmR179 900
Honda Amaze 1.2 Comfort66 kW/110 Nm5.6 ℓ/100 kmR193 900
Honda Amaze Comfort outo66 kW/110 Nm5.6 ℓ/100 kmR208 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki DZire 1.2 GL outo61 kW/113 Nm4.7ℓ/100km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R191 900
Ford Figo sedan 1.5 Trend88 kW/150 Nm5.7 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R197 950
Toyota Etios sedan 1.5 Sprint66 kW/132 Nm5.9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/30 000 km-diensplan

R193 300

Tussen dié mededingers kies ek steeds die Figo vir sy krag, óf die Etios vir sy kattebak … maar die Suzuki en Honda bied sterk argumente wat oorweeg moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.