Ek haal my hoed af vir die Japannese. Hulle bou uiters betroubare voertuie. Die meeste van hulle is ongelukkig in die laat twintigerjare tot nou deur ietwat van ʼn droogte as dit kom by inspirerende rygoed. Van hulle is onlangs genees van dié siekte… selfs Honda het onlangs een van die mees asemrowende Civic Type R’s ooit bekendgestel.
Dis wel ʼn jammerte dat die CR-V nie dieselfde revolusionêre resep gevolg het nie. Die CR-V is nie lelik nie, is goed gebou, sy binneruim is netjies… maar hy laat mens effe koud. Die atmosferiese 2.0-viersilinderpetrolenjin voel hier bo op die platorand asmaties, en as mens hom aan die sing wil kry moet mens 6 500 r/min gaan besoek om toegang tot 113 kW te kry. Die effe maer 189 Nm is beskikbaar teen 4 300 r/min. Indien dit ʼn klein sportiewe luikrug was sou ek heeltemal tevrede gewees het, maar mens wil nie aldag jou sportnutsvoertuig só ry nie.
Daar is nóg ʼn probleem. Honda se palwisseltransmissie (CVT). Nissan en Subaru het nou al hulle transmissies só geprogrammeer dat dit ratwisseling naboots. Honda sʼn is heeltemal reg as mens regtig net rustig rondrits, maar sodra jy die 113 kW wil besoek en jou voet in die mat begrawe, dan klim die omwentelinge en die geraas tot ʼn eienaardige vlak. Aan die positiewe kant is die krag dan daar en die CR-V tel sy tekkies op en hol.
Dit klink of ek die motor haat… maar dis regtig nie die geval nie. Dit is ʼn goeie ryding, maar in ʼn mark waar die Volkswagen Tiguan bestaan, lyk dit vir die Honda nie goed nie. As ons die Tiguan uit die prentjie haal, behoort die CR-V beter te vaar saam met sy atmosferiese mededingers van Toyota, Nissan, Hyundai, Mazda en Kia.
Die CR-V se spesifikasievlak is goed en daar is niks waarna mens verlang nie. Ritgehalte en padhouvermoë is ook in die kol. Een ding wat vir my uitstaan as ʼn goeie punt is die stuurgevoel van die CR-V. Die Honda voel uiters stabiel en vas op die pad, en dit verbeter die ervaring.
Honda het ʼn indrukwekkende waarborg van 5 jaar/200 000 km. En daar is ʼn oplossing vir die asmatiese enjin – Honda se eie 1.5T-weergawe, maar daai model is skrikwekkend duur. Vir baie mense gaan die handelsmerk dit in Honda se guns kan swaai, en dis puik – solank hulle lekker ry. Gaan toetsbestuur self een en kyk of ek verkeerd is.
Die reeks lyk só:
CR-V 2.0 Comfort | 113 kW/189 Nm | 7.3 ℓ/100 km | R427 300 |
CR-V 2.0 Elegance | 113 kW/189 Nm | 7.3 ℓ/100 km | R482 800 |
CR-V 1.5T Executive AWD | 140 kW/240 Nm | 7 ℓ/100 km | R590 600 |
CR-V 1.5T Exclusive AWD | 140 kW/240 Nm | 7 ℓ/100 km | R633 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Toyota Rav4 2.0 GX outo | 107 kW/187 Nm | 7.4 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg 3 jaar/90 000 km-diensplan | R395 300 |
Hyundai Tucson 2.0 Premium outo | 115 kW/196 Nm | 9 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R404 900 |
Mazda CX-5 2.0 Dynamic outo | 121 kW/210 Nm | 6.8 ℓ/100 km | 3 jaar/onbeperkte km-waarborg 3 jaar/onbeperkte km-diensplan | R424 000 |
Kia Sportage 2.0 EX Plus | 114 kW/192 Nm | 8.1 ℓ/100 km | 5 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R474 495 |
Volkswagen Tiguan 1.4TSI Comfortline outo | 110 kW/250 Nm | 6.1 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R489 900 |
Tussen dié mededingers is die Toyota regtig ʼn winskoop, al is sy spesifikasievlak effens laer as die ander. Die Volkswagen is die enigste turboaangejaagde model, en die duurste – maar net R7 100 duurder as die Honda, en my keuse.
Dankie vir die berig in pragtige Afrikaans!
Ek hou ook BAIE van die Tiguan!
Totdat hy jou in die steek laat. Duitse goed hou nie baie lank nie.